PvR Gemeenskapskerk

Menswees

Kyk hier na 'n video oor hierdie bediening

Dankie vir jou belangstelling in die Menswees area van ons geloofsfamilie. Ek deel graag met jou my hart vir hierdie area en sit ‘n paar bedieningsareas uiteen wat gestalte gee aan hierdie deel van God se hart.
In ons geloofsfamilie gaan dit vir ons oor saam reis na heelheid in Christus. Jy sou opgemerk het dat dit baie prominent in ons aanbiddingsruimte is. Oor baie jare het dit vir ons duidelik geword dat een van die kern areas wat God op ons harte druk ons menswees is.

Saam
In Menswees weet ons ons is kudde diere en daarom is dit saam dat ons beter is. Dit is deur ánder mense dat ons self mens is. Niemand kan enkel alleen deur die lewe gaan nie. Verdermeer is dit ook God se bedoeling dat niemand alleen deur die lewe gaan nie. Ons staan mekaar by en is opgewonde oor mekaar se menswees; ons menswees is tog immers ‘n uitdrukking van God self. Geen wonder dat Jesus gesê het dat dit in ons liefde vir mekaar sal wees dat ander Hom sal raaksien nie.

Op Reis
Maar ons weet ook dat die lewe ‘n reis is; ons reis saam. Dis nie genoeg om net met mense omring te wees nie. Op reis beteken dat ons lewensverhale sal vervleg en dat ons daardeur betekenis sal toevoeg tot mekaar se menswees. En ja, natuurlik het ‘n reis beide oppe en affe, vreugde en hartseer. Wanneer die reis soms hartseer is, is dit nie God se skuld nie maar deel van die lewensreis waar God wil hê ons spesiaal met teerheid na mekaar se verhale sal luister en heling bring. In die vreugdes van die reis vier ons natuurlik saam fees en is dankbaar hieroor.

Na heelheid
Ook heelheid is vir ons kenmerkend van die reis. Almal van ons het wonde deur die lewensreis opgedoen en heling daarvan is ‘n lewenslange proses. Indien ons altyd dit van mekaar kan onthou dat ons nog nie heel is nie, help dit ons om met sensitiwiteit na ander te kyk en luister. Terwyl gebrokenheid dikwels in ons verhoudings deurskemer weet ons dat die Gees van God tog verfrissende oomblikke en verhale van heelheid laat deurbreek. Ons moet ook verstaan dat heelheid deel is van ons Christelike roeping. Dikwels dink ons roeping het bloot te make met wat ek doen vir ander mense of hoe my verhouding met Jesus lyk; die grooste deel van ons roeping vandag het te make met heelheid in ons menswees. Heel mense maak ander heel terwyl repiterende gebrokenheid dikwels ander stukkend maak.

In Christus
Ons motivering, hoop en krag lê in Christus. Sonder hom poog ons verniet om by ‘n plek van heelheid en betekenis uit te kom. Mens sou dit dan nie ‘n reis noem nie; eerder dalk sparteling. Hy is die begin en voleinder van die lewensreis in wie ook ons reis eendag voortgesit word. In Christus, en in geen ander, reflekteer ons oor ons menswees. Soos Paulus eenmaal gesê het dat dit in Hom is dat ons lewe, beweeg en bestaan. ‘In Christus’ maak hierdie ‘saam reis’ na heelheid ‘n ander tipe reis waar daar altyd hoop is.

Dit is vir my belangrik dat jy sal weet dat elkeen van die volgende bedieningsareas onder drie rubrieke val: Herstel, Ondersteuning en Verryking. Ek gee dit nie so hier deur nie maar hou dit gerus in gedagte. Daar is talle bedienings wat jóú gawes benodig.

Ons het die volgende bedieningsareas geidentifiseer as van kritieke belang. Ek het reeds heelwat bedieingsleiers maar benodig nog baie. Ek spandeer bietjie meer tyd aan die nuwe bedienings en areas wat ons as van kritieke belang beskou.

WAT DOEN ONS RONDOM EGSKEIDING

Divorce Care
‘Divorce Care’ is ‘n kursus wat gemik is op persone wat deur ‘n egskeiding gaan of reeds is. Talle persone reg oor die wêreld getuig van ‘n reis van heelheid en ‘n spasie van hoop wat Divorce Care weer moontlik gemaak het. Dit nooi jou uit na ‘n reis waarin jy eerlik en opreg met jou gevoelens omgaan. Jy besef jy’s nie alleen nie en ook dat daar ‘n toekoms is. Hoewel egskeiding as ‘n ‘punt’ beleef word help die proses jou om by egskeiding as ‘n ‘komma’ uit te kom.

Amanda Wood het ‘n passie vir persone wat soos sy deur ‘n egskeiding gegaan het en hoor graag van jou indien jy hierby wil inskakel of voel jy het ‘n bydra om te lewer.

WAT DOEN ONS RONDOM DIE VOLGENDE LEWENSFASES

Jeug (Nuwe generasie)
Skakel gerus vir Hanlie Boshoff wat ons bedieningsarea leier is en saam met ‘n span energieke en bekwame persone ons jeug begelei.

Voornemende en Jong Getroudes
Hierdie area van die bediening fokus daarop om ondersteunend en verrykend by paartjies betrokke te wees. Dit is ‘n bediening wat sinvol deur die eerste paar jaar van die huwelik begeleiding gee en netwerke van ander jong paartjies bou. Om reg te begin en aan te hou is in die lig van al die nare statistiek in ons land van wesenlike belang. As deel van hierdie bediening bied die gemeente huweliksvoorbereiding aan wat spesifiek deur ds. Henk van Rensburg en ander kundiges aangebied word.
Insake die groter bedieningsare benodig ons hier bedieningspaartjies wat bereid is om as fasiliteerders op te tree.

Jong Gesinne
Ruimte skep vir ‘n derde wesentjie is ‘n uitdaging en aanpassing veel groter as om te trou volgens sommige. Hierdie bediening wil julle help om vanaf die eerste nuus van die nuweling sinvol en met kundigheid deur die swangerskap te reis. Wie sal nou nee sê vir konkrete inligting en ondersteuning. Afgesien van al die roetine en psigiese veranderinge van nuwe mamma en pappe wees is die huwelikverhouding nogals ‘n kuns in die tyd van geboorte tot na die eerste paar jaar van die kleinding.
Ons benodig hier bedieningspaartjies wat bereid is om as bedienings fasiliteerders op te tree.

Gesinne - algemeen
Positiewe ouerskap en ouerbegeleiding. Is daar per slot van sake iets soos ‘n perfekte ouer? Nee, en ons wil tog so graag opleef na die onbereikbare ideaal. Daar is wel iets soos Positiewe ouers, meer ingeligte ouers, ouers vir wie optimale gesinsverhoudings belangrik is; dit is wat hierdie kursus en begeleidingsproses jou mee wil help.
Ons benodig bedieningsleiers wat bereid is om as fasiliteerders op te tree.

Bejaardheid
Sampie Niemand neem leiding rondom die welstand en versorging van hierdie bedieningsarea. Skakel hom gerus indien jy meer te wete wil kom.

WAT DOEN ONS RONDOM TRAUMA
Ons gemeente is aktief betrokke by die Polisiëringsforum wat gereeld met Trauma te doen kry. Dit is natuurlik nie al hoe Trauma oor die pad van die geloofsfamilie kom nie. Hiermee sê ons dat ons weet dit is ‘n belangrike deel van ons bediening.

Lucille Zwemstra is die koordineerder van alle trauma verwante versorging. Doen gerus navraag oor van die volgende maniere hoe ons met trauma werk:

‘Engaging with Trauma’
Hierdie is ‘n opleidings geleentheid vir mense wat met trauma te doen kry of wat wil weet hoe hulle te werk moet gaan wanneer hulle daarmee te doen kry (daarmee moet ‘engage’). Hierdie opleiding maak jou nie ‘n traumaberader nie, maar bied jou genoeg om net meer seker te wees oor wat jou te doen staan in trauma situasies.

‘Disempowering Trauma’
Disempowering Trauma’ is ‘n nie-bedrygende aanbieding vir diegene wat direk deur trauma geraak is. Dit neem nie die plek van traumaberading in nie en dikwels sal ‘n persoon of gesin veel vinniger by so ‘n kundige moet uitkom as om te wag vir die aanbieding. Dit bied egter ‘n alternatief vir diegene wat skrikkerig is vir die traumaberadingsopsie. Vanuit hierdie geleentheid sou jy die keuse hê om by ‘n traumaberader of ondersteuningsgroep in te skakel. Op die minste sal hierdie geleentheid lig werp op die tipe veranderinge – psigies, emosioneel, geestelik en gedragsgewys – wat moontlik kan voorkom.

‘Trauma berading’
‘Trauma berading’ is ook ‘n moontlikheid wat die gemeente jou bied en Lucille sal persone kon sien of verwys na ander kundiges soos haarself wat sinvol met trauma kan werk.

WAT DOEN ONS RONDOM VERSORGING

Leraars & terapeutiese dienste
Alle leraars is beskikbaar vir gesprekke en sal van tyd tot tyd nie-gereelde besoeke bring soos God dit op die hart druk. In lyn met die Bybel, ook rondom die verstaan van die amp van leraars, weet ons dat God vir ons verskillende passies en gawes gee. Om hierdie rede is die daar ‘n klein beradingspan en groeiende hoeveelheid kundige hulpverleners wat help om saam met die leraars die geloofsfamilielede by te staan. Daar vind ook verwysing plaas na professionele helpers soos sielkundiges wie ons mee bande bou en vertrou en graag saam met die gemeenskap reis.

Ek, Elmo tree grootliks op as die kontakpunt vir alle versorgingsaangeleenthede. Ek sal jou help dink oor wat om te doen of wie om te sien. Skakel my gerus, ook as jy voel jy’t ‘n bydra om te lewer.

Op Koers (Kompas)
Op Koers is ‘n proses van etlike weke wat gemik is op selfverryking; veral (maar nie uitsluitlik nie) in die konteks van vorige seerkry. Kundige beraders neem leiding van die proses en is daar om jou by staan in om ‘n paar goeie tree te gee op jou reis na heelheid.

Skakel gerus vir Elmarie van Wyk of Berna Pretorius in die verband.

Hospitaal en Siekebesoek
Alle leraars is in beginsel hiermee gemoeid. Ds. Henk van Rensburg speel egter ‘n gefokusde rol in die area en sal bygestaan word deur kundige hulpverleners.
Skakel hom gerus indien jy weet van iemand wat vanwee siekte deur beproewing gaan of wat in die hospitaal opgeneem gaan word.

Ds. Henk is hier ons skakelpersoon.

Grief Share
Grief Share is ‘n kursus wat reeds bestaan. Dit is ‘n proses vir mense wat erge verliese lei. Hierdie proses help met die oorweldigende gevoel wat mense ervaar wanneer daar verlies in hulle lewe of gesin is.
Al die leraars en beraders is beskikbaar maar ons hoor graag van jou indien jy spesifiek by die Grief Share program ‘n bydra kan lewer.

BIED ONS OPLEIDING

Kundige hulpverleners opleiding
Ten einde om ‘n sinvolle bydra in die emosionele hantering van die nood in die gemeenskap te maak is daar van tyd tot tyd opleidingsgeleenthede vir mense wat graag ander wil help en bystaan. Onderskei hierdie hulpverleners van beraders wat meer gefokusde opleiding ontvang. Dikwels wil mense net weet hoe ek ‘n kollega by die werk kan bystaan en hierdie opleiding sal jou daarmee help. Die primêre doel van die opleiding is egter om mense op te lei om saam met die leraars die eerste vlak omgee in moeilike tye te wees.

Skakel gerus vir Elmarie van Wyk of Berna Pretorius in die verband.

Beradingsopleiding
Ons is tans in die proses om moontlikhede vir beradingsopleiding te ondersoek wat jou in staat sal stel om ‘n sertifikaat, diploma of graad in berading te doen en wetiglik as berader te praktiseer in Suid-Afrika (Huidiglik is daar baie beraders wat vanwee wetsaanpassing waarskynlik nie meer sal kan praktiseer nie)

Gesels gerus met my, Elmo indien jy meer wil weet.

WAT DOEN ONS RONDOM FINANSIES

Finansiële, fisiese en materiële nood
Rondom hierdie area vind daar maatskaplike koordinering in oorleg met leraars plaas. Daar is ook ‘n bystandsfonds wat met die nodige oordeel bedryf word.
Ons benodig mense wat maatskaplike agtergrond het om by hierdie bedieningsarea betrokke te raak.

Sakel myself, Elmo gerus.

Rentmeesterskap
Ons weet dat alles wat ons besit deur God aan ons toevertrou is. Die mooi beskrywing is om te sê ons is rentmeesters (bestuurders) van wat God ons gee. Leer in die Rentmeesterskapkursus hoe om hierdie beginsel in jou finansies toe te pas.

Skakel gerus vir Sybrand van den Berg rondom hierdie saak.

Jakob se Put/ Jacob’s well
Daar is al ‘n hele klomp gemeentes wat hierdie bediening bedryf. Dit is ‘n model wat werk en sinvol met diegene op reis is wat hulle werk verloor het. Hulle bied emosionele en praktiese bystand.
Ons benodig iemand wat die bediening sal fasiliteer. Hierdie persoon kan maar net by die breër bediening inskakel en hoef dus nie die wiel te herontwerp nie.

Skakel myself, Elmo gerus.

Skuldberaad
Skuldberaad het in ‘n tradisionele sin te make met jou krediteure en ‘n werkbare plan om met jou finansies kop bo water te bly. Ons wil egter ‘n stap verder gaan. Die hoeveelheid druk waardeur gesinne gaan in moeilike tye is skrikwekkend. Jy kan dalk finansieël die wa deur die drif trek, maar kan jou huwelik.
Ons is op soek na mense wat nie net in die tradisionele sin van die woord gemeenskapslede wil help nie maar ook wie mens dalk kan oplei om aan die emosionele kant ook aandag te gee.

Skakel my, Elmo gerus.

ANDER BEDIENINGSAREAS

Infertiliteitsbediening
Wardi en Liza Smit ken die verhale van egpare wat sukkel om kinders te kry al te goed. Hierdie bediening bied ‘n oor om te luister en kundigheid uit persoonlike ondervinding. Indien dit jou raak moet asseblief nie alleen wees en in droefheid en verslaendheid voortleef nie.

Liza en Wardi Smit is ons kontakpersone.

Solobediening
Hierdie bediening bied bystand aan mamma’s of pappa’s of individue wat om welke rede ookal enkel of ‘n enkel ouer is. Dit is ‘n kundige ondersteuningsnetwerk wat hulp bied in die areas waar jy weet jy dit as individu of enkel ouer benodig.

Skakel gerus vir Karel Vehoef, Freddie of Lizette Klinkhamer om meer uit te vind.

On Purpose
Callie Roos is een van ons eksterne bedieningsvenote wat gereeld ‘On Purpose’ aanbied by ‘n koffie plekkie in die omgewing. Die tema wat hierdeur aangespreek word het te make met sin en betekenis. Indien die bree tema van sin en betekenis jou aanspreek skakel hom gerus.

Boundaries
Hoeveel mense sukkel nie met een of ander vorm van perke nie; moontlik werk-familie, om nee te kan sê en vele ander. Daar word sinvol na ‘n verskeidenheid God-bedoelde perke gekyk; emosioneel, korporatief, familie, liggaamlik om maar ‘n paar te noem. Perke hou dit uit wat buite moet bly en laat dit in wat jou nader bring na sinvolheid in jou lewe.

Lucille Zwemstra is ons aanbieder. Jy’s welkom om haar te kontak.

Hulpbronne Biblioteek
Met die tyd saam sal ons ‘n hulpbron-biblioteek opbou van boeke en media wat jy sou kon uitteken. Die hulpbronne wat opgebou word bestaan uit literatuur en media rondom herstel, ondersteuning en verryking van jouself, verhoudings of jou familie.

Indien jy dalk hier ‘n bydra van een of ander aard kan lewer, kontak my asseblief.


VANUIT DIE PEN VAN ONS TRAUMABEDIENINGSLEIER
Liewe geloofsfamilielid. Dit is vir my lekker om as Traumabedieningsleier op te tree en ek deel graag ietsie op m hart. As Kliniese Sielkundige het ek deur die afgelope paar jaar ‘n passie ontwikkel om met die slagoffers van trauma te werk. Die kern hierin is dat ons almal op een of ander fase van ons lewe trauma beleef. Attie Steyn (sielkundige) beskryf trauma as ‘n haelbui op ‘n bedding grasangeliere. Die oorsaak verdwyn dikwels vinngers as die gevolge. Heeltemal onverwags, onbepland en op tye wat ons geensins voorbereid is daarvoor nie. A. Muller beskryf ‘n traumatise insident in sy eie lewe as volg:

Ek het my kind gisteraand
amper aan die dood afgestaan.
Sien, sy het epilepsie
in ‘n erge graad.
Sy was in die bad
en het ‘n bietjie gerinkink,
maar het ‘n Grand Mal seizure gekry
en amper verdrink.

Toe ons haar kry
was sy onder water, haar gesiggie blou.
Sy het reeds opgehou asemhaal,
was bewegingloos, en heeltemal flou.
Met die krag van almal saam
het ons haar uit die water gekry,
haar lyfie weerloos, naak, op die vloer neergelê
en ek het gedink: dis nou verby.

Ek weet nie hoe nie, ek kan nie onthou
hoe ek haar weer laat asem haal het.
Ek het haar in my arms styf vasgehou
terwyl ek gehuil het, en gebid:
“Here, nie nou nie, nie my kind!”
Die ambulans was vinnig daar,
ek het die sirene al van ver gehoor.
Alles was so skokkend deurmekaar
en in my angs en huil kon ek versmoor.

Ek het nog nooit die dood
so vierkant in die oë gekyk.
‘n Mens se hart kan nooit begroot
vir ‘n trauma soortgelyk.
Yolanda, my kind,
jou ogies was so verboureerd,
toe jy verstaan probeer vind,
maar alles was vir jou te vreemd.

Ek het die ambulans gevolg
tot by die hospitaal.
Hulle het dadelik vir jou begin sorg
en my emosioneel deurgehaal.
Toe ek ontvangs toe loop
om te gaan betaal
het ek van iewers ‘n radio gehoor,
en Leona Lewis het vir my gesing:
“I promise you, I’m always there
When your heart is filled with sadness and dispair.
I’ll carry you when you need a friend –
You’ll find my footprints in the sand”

Yolanda, my enigste dogter,
Mamma sal nooit die aand van 1 Oktober 2008 kan vergeet nie.
Ek sal op gereelde basis verdere trauma inligting vir u weergee in hierdie nuusblad.

Groetnis
Lucille Zwemstra

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.




© 2012   Created by PVR Admin.

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service