Ons Storie
Ons Geloofsfamilie het 25 jaar gelede afgestig van NGK
Lyttelton-Oos. Nadat daar aanvanklik dienste gehou is in die saal
van Laerskool Fleur en in ‘n tydelike gebou op ons huidige
kerkterrein is die eerste kerkgebou mettertyd voltooi en ons het
begin groei in nuwe lede en in bediening. Die Here het ons geseën
soos die tyd aangestap het en ons het in 2002 ons huidige
gemeentesentrum en fasiliteite in gebruik geneem.
Ons Droom
Ons is ‘n geloofsfamilie wat saam wil reis na Heelheid in Christus.
Vir ons beteken dit dat ons gerig is op ons wêreld en ons
gemeenskap en dat ons onsself sien as ‘n netwerk van verhoudings
wat uitreik na mekaar en ander met die stories van God se liefde en
genade in ons lewe. Ons wil graag by ander inhaak op die lewensreis
en saam ontdek wat God se bedoeling met ons lewe is en hoe om met
volle oorgawe die lewe van oorvloed in Jesus Christus te lewe.
Ons Bediening
God se roeping vir ons Geloofsfamilie het 4 kante ….
- Ons glo dat ons elkeen se Menswees deur die Heilige Gees herskep
moet word, so ons wil graag geleenthede skep waarin elkeen van ons
in ons verhouding met onsself, ons lewensmaats, ons kinders en
ander mense kan groei. So skep ons ruimtes waarin ware saamwees
moontlik is. Saam leer ons die “Lewenskuns” van Heelheid!
- Ons beskou ook ons Nuwe Generasie, dit is nou ons kinders
en jongmense, as ‘n waardevolle en onmisbare deel van ons
Geloofsfamilie. Soos in enige ander familie wil ons hulle
aanmoedig, uitdaag, versorg en lei om Christus te ken en uit sy
Woord en gees te lewe.
- God roep ons ook om elkeen te reis op die pad van Geloofsgroei.Ware groei is slegs
moontlik wanneer ons gereeld en met oorgawe die Woord van God
bestudeer en geniet. Ons wil geleenthede skep waar ons kan saamkom
vir ‘n dieper en ryker verstaan van God se Woord en die beginsels
en wysheid daarin.
- Dit alles gesê weet ons dat God ons roep tot Familielewe. Vir ons beteken dat dat ons
as Geloofsfamilie saam moet aanbid in ons eredienste en ander
byeenkomste, dat ons sal saamwees in groepe en verhoudings en dat
ons moet uitreik na die nood van ons gemeenskap en ons wêreld.
,
As jy meer wil weet oor ons bediening, kliek hier.