PvR Gemeenskapskerk

40 Dae van FAMILIEWEES in LYDENSTYD Deel 1/4

Een van ons gesinne het die week met my gedeel dat hulle tydens hierdie Lydenstyd minder voor die TV wil spandeer, en meer tyd saam as familie. Ek het sommer dadelik opgewonde geraak oor die idee.

Hier volg dan 'n voorstel met 'n verskeidenheid van aktiwiteit om te doen vir die hele gesin. My gebed is dat die aktiwiteite julle as gesin help om net met mekaar kontak te maak en verhoudings te bou nie, maar ook dat julle met God kan konnekteer en Hom beter leer ken.

Lydenstyd bestaan uit 40 dae plus die 7 Sondae, wat gewoonlik nie getel word as deel van die Lydenstyd nie, aangesien Sondae in elkgeval gewy is aan die Here. Die program is dan in 10 Dae eenhede ingedeel wat die Sondae uitsluit. Hierdie is dan Deel 1 wat dae 1-10 bevat. Kyk eers na die program en voel vry om die program uit te druk vir die yskas. Daarna kan julle na die fyner detail, skakels en "tips" kyk om julle tyd saam nog meer spesiaal te maak.

Wees bewus! Sommige van die voorstelle gaan vereis dat julle bietjie voorbereiding vooraf doen. Loer so 'n week vooruit en kyk wat jy gaan benodig of ten minste wat julle in gedagte gaan moet hou daarvoor! Geniet dit!

10 FEB - MAAK 'N GEBEDSKETTING

  • Gebedsketting Skakel
  • Julle kan as gesin saam 'n ketting maak, of anders elkeen 'n eie ketting.
  • Maak seker dat julle lekker gesels oor wat en wie julle op die gebedsketting plaas. Waarom sit julle daardie mense, behoefte, item of situasie op die gebedsketting lys? 
  • Elke dag skeur julle een van die skakels af en bid dan saam vir dit wat op die skakel is. Praat ook oor hoe God met julle werk veral aangaande daardie spesifieke gebedsaak.

11 FEB – DOEN IETS WAT EEN LID VAN DIE GESIN GENIET

  • Plaas elkeen van die gesinslede se naam op ʼn stukkie papier in ʼn houer. Julle kan ook saam met die naam, die aktiwiteit op skryf wat julle graag sou wou doen.
  • Maak seker dat die aktiwiteite nie meer tyd sal neem as wat daar beskikbaar is nie en ook nie te veel kos nie. Indien dit nodig is maak voorstelle of kry verskillende aktiwiteite wat julle oor saam kan stem lekker sal wees. Dalk is daar spesifieke aktiwiteite waarvan sekere lede van die gesinne meer sal hou.
  • Laat die jongste lid van die gesin dan ʼn naam kies en die aktiwiteit wat hulle wil doen.
  • Wees kreatief oor die manier waarop julle pret kan hê. Dit kan enige iets wees vanaf Roomys en Wafels maak, Fiets Ry, In die Parkies Speel, Iets Maak of selfs net ʼn Gunsteling fliek kyk.
  • Praat met mekaar oor hoe lekker dit is om hierdie dinge te kan doen. Waarom sou God vir ons goed gee om te geniet? Wat leer ons van Hom in dit wat ons gedoen het? Kan ons God raak sien as ons saam tyd spandeer het en dit geniet?

12 FEB – HOU ʼn EIER AAND

  • Die Eerste Eier Aand Voorstel is ʼn mengsel van aktiwiteite. Dit is ook ʼn dokument wat julle kan aflaai.
  • Die tweede Eier Aand Voorstel werk baie lekker met die plastiek eiers wat julle by sommige speelgoed winkels kan kry, aanlyn kan koop of by tye by Woolworths ook kan kry. Alternatief sal ek klein boksies voorstel om steeds die verskeie elemente te hou, aangesien dit steeds op ʼn oulike manier die verhaal vertel. Dit vra wel bietjie voorbereiding!
  • Die Derde Eier Aand voorstel is beter vir klein kindertjies. Kry weereens eiertjies wat julle kan vul met geskenkies en verrassings. Die ander oplossing is weer boksies. Los sommige van hulle leeg sodat julle later kan gesels oor die leë eiers.
  • Praat dan oor die aand. Was dit lekker? Waarom is daar oral eiers in Paasfees? Verduidelik hoe eiers nuwe lewe beteken. Praat oor die feit dat God die nuwe lewe voorsien. Praat ook oor hoe God lewe gee deur die kruis. Laastens, praat dan oor die leë eier en die leë graf.

13 FEB – PLANT ʼn PAASFEES TUIN

  • Paasfees Tuin Skakel of Genade Tuin Skakel of Eier Tuintjies
  • Neem die geleentheid om lekker saam te gesels oor die ervaring van plant. Hoe voel die grond en die water? Praat oor hoe God lewe bring vir die natuur maar ook vir ons. Praat oor hoe God sorg en dat ons dalk kan help, maar nie beheer het oor die proses nie. Praat oor wie van julle gaan sorg dat de plantjies water kry, of oor hoe julle gaan beurte maak.
  • Kies verkieslik ook ʼn vorm van grassies as deel van julle plantjies, aangesien dit die vinnigste groei en die kinders die resultate daarvan in die tuintjie sal kan sien.

14 FEB – MAAK OPSTANDING KOEKIES

  • Opstanding Koekies Skakel
  • Die resep op die internet gebruik “Shortening”, wat ons nie as reël hier kry nie. Julle kan dit vervang met Botter. Gebruik net 25% meer botter as wat die resep voor vra.
  • Hierdie een is lekker saam met die kinders en teelepels werk net so goed om die bolletjies te begin.
  • Praat bietjie oor die proses van koekies bak. Wie het daarvan gehou? Waarom of dan nie? Kan julle net enige iets ingooi? Kan julle self besluit hoeveel julle wil ingooi van wat? Wat gebeur binne die oond? Wat het gebeur met die Marshmellows? Hoe kan God ook dinge laat verander? Hoe kan ons ook verander as God in ons lewens is?

 

15 FEB – MAAK ‘N JESUS BOOM

  • Jesus Boom Skakel
  • Julle kan lekker kreatief wees met die boom wat julle gebruik. ʼn Kersboom sal sekerlik kan werk, maar maak seker dat julle na hom begin verwys as die Jesus boom. (Dit sal selfs nie sleg wees om in Kerstyd daarna te verwys as Jesus boom nie). Julle kan ʼn stensil maak op die muur. Een uit hout laat  sny. Of selfs baie kreatief met bou blokkies of goedjies wat by die huis rond lê julle eie maak. Dit kan ʼn lekker BOOM ritme oefening ook word aangesien julle herwin.
  • Praat bietjie oor waar ons van belangrike bome hoor in die Bybel (Skeppingstorie met Boom van Lewe en Boom van Waarheid, Die Boom waaraan Jesus gehang het, die Kruis en Nuwe Boom in Openbaring 22). Praat dan ook oor die verskillende elemente wat op die ornamente verskyn. Julle kan daagliks ornamente ophang, of almal gelyktydig alles opsit. Kyk dan spesifiek na die ornamente wat julle nie verstaan nie, of baie met julle praat.

16 FEB – KLEUR SAAM INKLEUR PRENTJIES IN

  • Inkleurprentjies Skakel Een, Twee, Drie, Vier, Vyf, Ses, SeweAgt, Nege, Tien, Elf, Twaalf 
  • Elkeen kies die prentjies waarvan hulle die meeste hou.
  • Waarom het julle die prentjies gekies? Wat leer julle uit die prentjie van God? Hoe kan jy God se storie deur die prentjie aan iemand anders vertel? Vir wie kan jy die prentjie gee as hy klaar ingekleur is?

17 FEB – DOEN IETS WAT EEN LID VAN DIE GESIN GENIET

  • Gebruik stukkies papier met name wat nie die vorige keer gebruik is nie. Kies nou 'n volgende naam. Laat die tweede jongste lid van die gesin die nuwe naam trek.
  • Maak seker dat die aktiwiteite nie meer tyd sal neem as wat daar beskikbaar is nie en ook nie te veel kos nie. Indien dit nodig is maak voorstelle of kry verskillende aktiwiteite wat julle oor saam kan stem lekker sal wees. Dalk is daar spesifieke aktiwiteite waarvan sekere lede van die gesinne meer sal hou.
  • Laat die jongste lid van die gesin dan ʼn naam kies en die aktiwiteit wat hulle wil doen.
  • Wees kreatief oor die manier waarop julle pret kan hê. Dit kan enige iets wees vanaf Roomys en Wafels maak, Fiets Ry, In die Parkies Speel, Iets Maak of selfs net ʼn Gunsteling fliek kyk.
  • Praat met mekaar oor hoe lekker dit is om hierdie dinge te kan doen. Waarom sou God vir ons goed gee om te geniet? Wat leer ons van Hom in dit wat ons gedoen het? Kan ons God raak sien as ons saam tyd spandeer het en dit geniet?

18 FEB – WIT BLOM EKSPERIMENT

  • Vergifnis Gesprek Skakel en die Wit Blom Eksperiment Skakel
  • Lees deur die vergifnis Gesprek sodat julle weet hoe die gedagtes lei. Maak seker julle het baba foto van elkeen van die gesin. Maak ook seker julle het die wit blomme en voedsel kleursel. Swart voedsel kleursel sal die beste werk vir die tema waaroor ons wil gesels.
  • Maak seker julle sit die blomme al so vroeg as wat julle kan in die gekleurde water en julle kan die kleur so donker maak as wat julle kan. Dit neem 4-6 ure vir die blomme om die kleursel op te neem.
  • Praat dan met mekaar oor die volgende. Hoe het God ons en ander mense gemaak? As ons van die begin af kosbaar en spesiaal gemaak is, hoekom maak ons mekaar so seer? Moet ons die slegte dinge wat ander aan ons doen teen hulle hou? Wat maak daai kwaad wees, woede en seerkry aan onsself? Net soos die blomme al die swart kleursel opneem en dit die blomme lelik maak, raak daai lelike gedagtes deel van ons. Net wanneer ons vergewe kan ons mooi bly.
  • Hoe maak God met ons? Gooi Hy ons net weg? Of stuur Hy ʼn manier om alles weer reg te maak? Hoe doen God dit?

19 FEB – MAAK SAAM AANDETE

  • Kies ʼn gunsteling resep of verskeie resepte wat die hele gesin kan betrek. Sover moontlik probeer om alles self te maak. Julle kan selfs kreatief wees, met voorgereg, hoofgereg en nagereg.
  • Praat bietjie oor al die lekker dinge wat God vir ons gee om te kan eet en hoe ons die bestanddele kan vat en dit op verskillende manier kan maak om dit ander smake te gee. Ons het soveel om voor dankbaar te wees. Hoe kan ons, ons dankbaarheid aan God wys? Hoe kan ons dit wat ons het met ander deel?

 

20 FEB – LEER BIETJIE GEBARE TAAL

  • ABC Skakel, Aanbiddingslied Skakel en Taylor Swift Lied Skakel
  • Soms is dit nodig dat ons, onsself uitdaag om nuwe dinge te ontdek. Probeer vanaand om ʼn nuwe taal te leer. Die skakels wat ek op gesit het, verwys na Amerikaanse Gebare Taal. Indien julle daarvan hou en dit iets is wat julle as gesin dalk verder wil probeer, sal ek voorstel dat julle ʼn Suid Afrikaanse Gebare Taal kundige opsoek, aangesien daar baie min videos van so ʼn aard bestaan.
  • Praat na die tyd oor julle ervaring. Hoe amazing het God nie elkeen van ons gemaak om al ons sintuie te hê nie? En selfs as ons nie al ons sintuie het nie, gee God steeds vir ons maniere om te kan kommunikeer soos met gebare taal. Wat het ons alles in ons lewens wat ons net vanselfsprekend aanvaar? Waarvor kan ons meer dankbaar wees? Hoe kan ons mense wat anders as ons is raaksien, nader en liefde bewys?

 

21 FEB – BESOEK DIE KERK KAPEL

  • Die kapel sal heel Sondag beskikbaar wees en word om en by 21h00 gesluit word. Julle sal toegan kan verkry deur die sekuriteitwag.
  • Julle kan kies hoe julle, julle tyd in die kapel wil inkleur.
  • Julle kan ʼn stil ervaring hê, waarin julle vooraf vir mekaar laat weet dat julle vir 10 minute stil gaan wees. Julle kan kerse saam neem en aansteek (maak net seker dat dit na die tyd uitgeblaas is en weer saamvat), verskillende verse lees, by die kruis kniel en bid of net sit en luister na alles wat God oral om ons laat hoor. Deel met mekaar julle ervaring.
  • Julle kan ook interaktiewe ervaring hê. Neem julle gunsteling Aanbiddingsmusiek op julle foon en sing saam. Bid vir mekaar. Getuig teenoor mekaar waar julle God raakgesien het in die week wat verby is. Lees saam Bybel. En bid saam by die kruis. Deel met mekaar julle ervarings.

Verdere informasie volg vandag!

Indien julle nog verder wil lees of ander alternatiewe wil ondersoek, kan julle hier kyk.

Ek hoop hierdie kan vir julle besonders baie beteken! Ek sien uit daarna om die stories te hoor! Moenie huiwer om julle stories met ons te deel deur dit vir ons te epos (arline@pvr.co.za) of op FACEBOOK se PVR GELOOFSFAMILIE JEUGBEDIENING Group te post.

Kyk gerus na die volgende gedeelte vir dag 11-20 van die 40 DAE VAN FAMILIEWEES IN LYDENSTYD.

Jeugbediening Blessings en Liefde!

Views: 685

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service