PvR Gemeenskapskerk

40 Dae van FAMILIEWEES in LYDENSTYD Deel 2/4

Een van ons gesinne het die week met my gedeel dat hulle tydens hierdie Lydenstyd minder voor die TV wil spandeer, en meer tyd saam as familie. Ek het sommer dadelik opgewonde geraak oor die idee.

Hier volg dan 'n voorstel met 'n verskeidenheid van aktiwiteit om te doen vir die hele gesin. My gebed is dat die aktiwiteite julle as gesin help om net met mekaar kontak te maak en verhoudings te bou nie, maar ook dat julle met God kan konnekteer en Hom beter leer ken.

Lydenstyd bestaan uit 40 dae plus die 7 Sondae, wat gewoonlik nie getel word as deel van die Lydenstyd nie, aangesien Sondae in elkgeval gewy is aan die Here.

Die program is dan in 10 Dae eenhede ingedeel wat die Sondae uitsluit. Hierdie is dan Deel 2 wat dae 11-20 bevat. Kyk eers na die program en voel vry om die program uit te druk vir die yskas. Daarna kan julle na die fyner detail, skakels en "tips" kyk om julle tyd saam nog meer spesiaal te maak.

Wees bewus! Sommige van die voorstelle gaan vereis dat julle bietjie voorbereiding vooraf doen. Loer so 'n week vooruit en kyk wat jy gaan benodig of ten minste wat julle in gedagte gaan moet hou daarvoor! Geniet dit!

22 FEB – SPEEL MET KINETIESE SAND

  • Tuisgemaakte Kinetiese Sand Skakel
  • Bou saam en speel saam. Julle kan die resep so twee of drie keer die hoeveelheid aanmaak.
  • Bou saam verskillende dinge. Vanaf huise, tot geboue en maak vorms. Eindig by die punt waar julle met julle hande of selfs voete “voetspore in die sand maak.
  • Praat oor wat God se droom vir julle gesin is (Om Jesus meer en meer te ontdek en Hom uit te leef.) Hoe leef ons God se droom uit? Hoe lyk dit om Jesus te volg? Is dit maklik? Waarom of waarom nie?
  • Indien julle wil, kan julle gips, of polyfilla aanmaak om in die voetspore te giet sodat julle dit kan hou en selfs êrens in die huis te kan opsit as herinnering aan God se droom vir julle!

 

23 FEB – GEE VANAAND VIR ELKEEN IN DIE GESIN KOMPLIMENTE

  • Laat almal om die etenstafel sit. Terwyl julle eet kan julle een vir een die geleentheid kry om komplimente te ontvang.
  • Wanneer julle vir die een in die “hotseat” komplimente gee, moet hy/sy net luister. Julle kan alles noem wat vir julle awesome is van daai persoon. Julle kan dankie sê vir alles wat hy/sy altyd vir julle doen.
  • Moenie hier deur jaag, of mekaar in die rede val nie. Moet ook nie enige negatiewe dinge deel nie. Slegs opbouende, positiewe, komplimente mag gedeel word.

 

24 FEB – MAAK ʼn FAMILIE SEëNINGE BOTTEL

  • Seëninge Bottel Skakel
  • Daar is ʼn groot verskeidenheid van opsies wat julle kan neem om julle eie seëning Bottel te maak.
  • Vul die Houer met klein papiertjies waarop julle
  • Praat met mekaar oor dankbaarheid. Sê ons genoeg dankie? Of kom dankbaarheid net in ons gebede uit? Hoe kan ons vir mekaar dankie sê wat meer beteken? Wanneer voel ons misbruik? Dink julle God kan ooit misbruik voel, of voel dat ons ondankbaar is? Konsentreer om in Lydenstyd vir mekaar en vir God meer dankie te sê.
  • Hou aan met die seëninge bottel selfs al is Lydenstyd verby. Aan die einde van die jaar maak die bottel leeg en herinner julleself aan alles waarvoor julle hierdie jaar dankbaar was en dank God weereens daarvoor!
  • Dankbaarheid vir Verrassings wat julle ontvang het
  • Dankbaarheid vir klein geskenkies wat julle ontvang het,
  • Iets wat mooi was wat julle in die wêreld raakgesien het,
  • Lekker lag oomblikke gehad het,
  • Spesiale "Memories" gemaak het,
  • Daaglikse sorg ervaar het.

 

25 FEB – MAAK ʼn KROON VAN DORINGS

  • Doring Kroon Skakel
  • Laat die kinders help om die klei te maak, of die klaar gemaakte klei te vleg in die kroon vorm. Laat die kinders help om al die tandestokkies in te druk.
  • Praat oor hoe die tandestokkies seermaak as dit jou steek. Praat oor hoe dit moes voel vir al die dorings om in Jesus se kop in te druk. Praat oor hoe ons sondes bygedra het tot elke doring wat Jesus seergemaak het.
  • Praat dan oor hoe ons goeie goed kan doen, om dankie te sê dat Jesus al daai seerkry op homself geneem het. Verbind dan julleself daaraan om die res van Lydenstyd goeie goed te doen vir mekaar. Elke keer wat die kinders iets opofferend vir iemand anders doen, verwyder een van die dorings. Laat hulle ook sien hoe mens dorings terug sit as ons skerp is met mense. Dit maak Jesus ook seer. Praat met mekaar oor die uithaal en terugsit van die dorings. Hoe voel ons daaroor? En hoe ervaar God dit?

 

26 FEB – DOEN IETS WAT EEN LID VAN DIE GESIN GENIET

  • Gebruik stukkies papier met name wat nie die vorige keer gebruik is nie. Kies nou 'n volgende naam. Laat die tweede jongste lid van die gesin die nuwe naam trek.
  • Maak seker dat die aktiwiteite nie meer tyd sal neem as wat daar beskikbaar is nie en ook nie te veel kos nie. Indien dit nodig is maak voorstelle of kry verskillende aktiwiteite wat julle oor saam kan stem lekker sal wees. Dalk is daar spesifieke aktiwiteite waarvan sekere lede van die gesinne meer sal hou.
  • Laat die jongste lid van die gesin dan ʼn naam kies en die aktiwiteit wat hulle wil doen.
  • Wees kreatief oor die manier waarop julle pret kan hê. Dit kan enige iets wees vanaf Roomys en Wafels maak, Fiets Ry, In die Parkies Speel, Iets Maak of selfs net ʼn Gunsteling fliek kyk.
  • Praat met mekaar oor hoe lekker dit is om hierdie dinge te kan doen. Waarom sou God vir ons goed gee om te geniet? Wat leer ons van Hom in dit wat ons gedoen het? Kan ons God raak sien as ons saam tyd spandeer het en dit geniet?

 

27 FEB – BAK/MAAK IETS VIR DIE BURE LANGS JULLE

  • Spandeer eers die tyd saam as gesin om iets te maak. Dit kan iets enige iets soet, soos koekies, koek of tert wees. Dit kan ook iets sout wees, soos ʼn tert of een pot gereg aandete wees.
  • Neem dit nou na julle bure, of nooi hulle uit by julle te kom eet. Spandeer die tyd saam en leer mekaar beter ken. Moenie dat hierdie geleentheid die enigste kuier wees nie! Bou aan ʼn verhouding wat lank gaan hou!

 

28 FEB – BOU ʼn KRUIS VIR DIE TUIN

  • Neem groot stukke hout en bou ʼn rowwe kruis.
  • Of kry ʼn stuk hout van ʼn plek soos Her-Annies en mosaïek dit saam in verskeie helder kleure! Moenie vergeet om die teëls te “grout” nie.
  • Ongeaf wat julle kies om te doen. Maak seker dat julle dit water bestand maak deur dit aan die einde te seël.

29 FEB – BOU SAAM ‘N FORT

  • Fort Skakel
  • Die enigste ding wat julle kan terughou vanaand is julle eie kreatiwiteit. Gebruik enige materiaal om die beste fort ooit te bou! Moenie vergeet om “fairy lights” ook te gebruik nie. Julle kan saam met flitse binne julle fort speel. Lees saam stories vir mekaar, of vertel stories of grappies.
  • Geniet net vanaand en die saam wees! Beleef hoe God julle elkeen gemaak het om saam ʼn familie te vorm wat vir mekaar kan sorg.

 

1 MRT – MAAK ‘N OU TESTAMENT BELOFTE KRUIS

  • Ou Testament Beloftes Kruis Skakel
  • Praat met mekaar oor die verskillende beloftes in die Ou Testament soos julle dit inkleur of verf. Hoe het Jesus en God daai beloftes waargemaak? God belowe dat Hy saam met ons sal wees, vir ons sorg en dat ons aan Hom behoort as ons net in Hom glo. Kan ons hierdie belofte glo?

 

2 MRT – ELKEEN IN DIE GESIN SKRYF VIR EEN ANDER PERSOON N BRIEF

  • Eenvoudige Familie Brief Skakel
  • 'n Brief aan Jou Kind Skakel- Hierdie is wel geskryf vir kinders wat oorsee vir maande weggaan, maar ek dink daar is goeie universiele idees oor wat om in 'n brief wat waarde en betekenis het te sit vir  jou kinders.
  • Elkeen in die gesin kan vir een ander ʼn brief skryf, of julle kan almal vir mekaar skryf. Julle gaan waarskynlik die jonger kinders moet help met hierdie een. Daar is niks wat keer dat die kleintjie nie net prentjies kan teken om hulle gevoelens te kan laat uitdruk nie.

 

3 MRT – MAAK OPSTANDING ROLLETJIES

  • Opstanding Rolletjies Skakel
  • Indien julle nie ʼn broodbakker is (soos ek nie), kan julle reeds gemaakte brooddeeg koop. Volg dan net die resep verder. Volg dan die “Resurrection Rolls” se aanwysings verder. Maak seker dat die kinders help om die marshmellows te doop in kaneel suiker en in die middel van deeg te sit. Maak seker die deeg is super mooi toe gemaak.
  • Bak soos die resep vra.
  • Maak seker julle almal sit saam wanneer julle die rolletjies oopsny. Praat met mekaar oor wat was binne die rolletjie en wat is nou daar binne? Hoe het dit gebeur? Hoe herinner dit ons aan Jesus? Hoe God sy Seun gered het en lewendig gemaak het weet God alleen hoe dit werk. Ons kan net hom loof daarvoor! Sê saam ʼn gebed om God se naam groot te maak dat die broodjies, en meer as dit die graf leeg is! 

Indien julle nog verder wil lees of ander alternatiewe wil ondersoek, kan julle hier kyk.

Ek hoop hierdie kan vir julle besonders baie beteken! Ek sien uit daarna om die stories te hoor! Moenie huiwer om julle stories met ons te deel deur dit vir ons te epos (arline@pvr.co.za) of op FACEBOOK se PVR GELOOFSFAMILIE JEUGBEDIENING Group te post.

Kyk gerus na die volgende gedeelte vir dag 21-30 van die 40 DAE VAN FAMILIEWEES IN LYDENSTYD.

Jeugbediening Blessings en Liefde!

Views: 241

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service