PvR Gemeenskapskerk

Na aanleiding van die preek van Sondag oor Genesis 50:20

Die meeste van ons was al by ’n oogkundige om na ons oë te laat kyk, want ons sien nie altyd meer so lekker nie. Ons arms word te kort of ons sukkel om detail ver te kan sien. Ons lees dan verskillende letters van ’n bord af en sodoende word bepaal wat ons kan lees of nie.


Partykeer kyk mens, maar jy sien nie. As jy saam met ’n natuurkenner in die bos ry, sal hy/sy jou skielik laat stop en vir jou ’n dier se horings wys, wat jy glad nie raakgesien het nie.
As mens goeie oë het, praat die oogkundiges van 20:20 visie. Ek wil hierdie beeld gebruik om Genesis 50:20 te verduidelik. Kom ons noem dit nie 20:20 visie nie, maar 50:20 visie.

Josef se verhaal help ons dit raak te sien in Genesis 50:20
Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: (NAV)
Julle het 'n vreeslike ding gedoen, maar God het die slegte ding in iets goeds verander. (Boodskap)
Julle het my wel kwaad aangedoen, maar God het die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. (NLV)

Ons ken die verhaal van Josef met al sy oppe en affe. Dit gebeur dat hy aan Egipte verkoop word, maar dat die Here by hom is as slaaf en dat dit met hom goed gaan. Hy word bedrieg deur Potifar se vrou en land in die tronk. Vir ’n aantal jare spandeer hy in die tronk en word deur die koning geroep om sy drome uit te lê. Daarna word hy aangestel as onderkoning. Verseker nie ’n maklike lewe nie. Maar Josef het getrou gebly aan die Here. Hy het sy hart opgepas om nie heeltyd droewig te wees nie en hy het op God bly vertrou.

Toe gebeur die onwaarskynlike – Josef se droom word waar. Sy broers kom buig voor hom en smeek vir kos. Hy herken hulle, maar hulle herken hom nie. Hy help hulle en hy vergewe hulle. Hy maak later bekend wie hy is en laat sy pa, Jakob, ook Egipte toe kom.

In Genesis 50 lees ons van Jakob se begrafnis. Na die begrafnis is Josef se broers steeds skrikkerig vir hom en vra of hy nie dalk nou sal wil wraak neem nie. Waarop hy reageer dat hy nie God is nie. Al wou hulle hom kwaad aandoen, wou God daarmee goed doen.

Dit kan ons vandag help om self perspektief op ons eie situasie te kry. Van ons is op moeilike plekke en dis nie maklik nie. Weet dat die Here jou nie los nie en dat Hy steeds besig is in jou lewe. Ten spyte van wat mense aan jou doen, is God getrou. Hy kan iets goeds hieruit laat kom.
As jy op ’n goeie plek is, sê vir die Here dankie daarvoor en sien raak hoe Hy selfs uit die slegte dinge vir jou goed laat voortspruit het.

Kyk terug op jou situasie en weet die Here gee jou perspektief met 50:20 visie.
Wat help om hierdie 50:20 visie te kry?

  • Begin vergewe. Moenie toelaat dat mense wat ’n onreg teen jou gepleeg het, heeltyd in jou gedagtes bly nie. Laat hulle gaan, want dit sal jou vry maak.
  • Hou moed. As jy in ’n slegte situasie is, weet dat die Here dit ook kan omkeer en iets goeds daarvan kan maak.
  • Ontvang die Here se vergifnis. Weet dat Hy vir jou lief is en jou nie los nie.
  • Bly getrou aan die Here. Doen wat jy weet wat reg is.
  • Pas jou hart op. Moenie heeltyd op die negatiewe dinge fokus nie.
  • Bly op God vertrou.


Genesis 50:20 help ons om die Here te vertrou en perspektief te kry.
Mag dit jou aanmoedig om God raak te sien in jou lewe.

Ns. Dankie aan BUVTON se span waar ek die metafoor van die 50:20 visie gekry het.

Views: 452

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service