PvR Gemeenskapskerk

Aanbiddingstyl, Kerkmusiek en anner Skoenklippers (1)

Inleidende gedagtes

 

Een van die dinge wat gereeld deel is van ons gesprekke en is ons gemak/ongemak met aanbiddingstyle, tipe musiek, tipe aanbiddingsleiding en die tipe inrigting van eredienste. Dit lok gewoonlik hetige debatte uit. dit het soms so 'n impak in gemeentes dat sommige skrywers praat van “Worship Wars”.

 Ek deel graag ’n perspektief met die oog op ’n oop gesprek hieroor. Ons as volgelinge van Jesus kan mos nie mekaar veg (of los) oor die wyse waaro pons Hom volg of aanbid nie. Ons moet mos soek na sinvolle gesprek en juis om mekaar te vind rondom die kampvuur van ons Verlosser se liefdevolle genade! Sodoende sal ons groei “in begrip en fyn aanvoeling” ook van mekaar se verskille en unieke menswees.

 

So lees aandagtig en laat ons lekker gesels! 

 

Veranderende werklikheid

In 'n onlangse gesprek oor hierdie saak het iemand opgemerk:

 “Dalk is die veranderige wat ons tans sien nodig en die rigting wat die kerk moet inslaan sodat dit relevant kan bly en oorleef.”

 Ons kerkgenootskap is gebore in die Reformasie. Ten diepste beteken dit dat ons verstaan dat die kerk (mense!)‘n organisme is wat gedurig aanpas en groei om die Evangelie effektief te kan kommunikeer. Die Reformasie was ‘n tyd van konflik en selfs oorlog, omdat die magte van die “status quo” nie kans gesien het om mag prys te gee nie.

 As dit nie was vir hierdie reformerende karakter van ons kerk nie was heelparty gebruike en gewoontes nog deel van ons alledaagse lewe, soos bv.

  •  Dames wat met “hoofdeksels” kerk bywoon, soos in my en jou kinderdae
  • Manelpakke met strikdasse vir leraars en kerkraad
  • Streng formele atmosfeer in dienste.
  • Geen vryheid van keuse aan watter NG gemeente jy mag behoort nie.
  • Dra van “Jeans” (en ander “verbode” kleredrag) by kerkgeleenthede taboe, ens…

 Ek is seker jy kan identifiseer hiermee en jy het waarskynlik ook ander persoonlike ervarings wat jy dankbaar is nie meer deel is van jou en ons lewens nie. Ek onthou dat ek as kind die leraar as kwaai en onverbiddelik ervaar het en Sondae vreesbevange was om ‘n geluid te maak omdat my ma “die Dominee sal roep”.

 Ek onthou hoe ek as jongmens my lewe vir die Here gegee het op ‘n kamp, maar terug by die huis die gemeente nie ruimte gehad het vir my bruisende entoesiasme nie.

 Alles dinge wat genadiglik geskuif en verander het. Die kerk MOET reformeer omdat dit ‘n organisme is, mense is, wat geroep word in die Woord tot voortdurende bekering en vernuwing.

 Dit is wel so dat ons ervarings in die kerk nie NET negatief was nie, en ek sal saam met jou toegee dat die kuns is om te onderskei wat gevat en wat gelos moet word.

 

“Christelik Nasionale Kerk”

 Ek dink wat ons ook in ons gesprek in berekening moet bring is die feit dat die NG kerk van die vorige era (so 1960 – 2000 min of meer) baie sterk gekoppel was aan Afrikaner-Nasionalisme in ons land. Daarom die model van EEN liturgie, een stel “kategese-boeke”, een formaat van alles. Jy sal onthou dat ons land op alle vlakke so gewerk het en hoewel dit ordelik en georganiseerd was, dit ook ons individualiteit, geesvervuldheid en kreatiwiteit doodgesmoor het.

 Kerkwees het meesal gegaan oor mag. Ek het grootgeword in ‘n dorp in die Vrystaat en die predikant was min of meer die magtigste persoon in die dorp. Ons kerk was deurtrek met verbintenis aan organisasies soos die Rapportryers, Ruiterwag en die Broederbond. (Die Ruiterwag het byvoorbeeld in my studentedae in die konsistorie van my studentegemeente sy geheime inlywingseremonies gehou. Onder leiding van die studenteleraar nogal).

 Manlike chauvinisme was aan die orde van die dag. Kerklike besluite het die regering van die dag gevolg. Dit was ‘n besondere status simbool om deel te vorm van ‘n sinodale kommissie, want daar is op ministeriële vlak met die kerk vergader.

 En êrens binne hierdie sisteem was daar mense, ek en jy. Wat op ‘n manier vasgevang was in hierdie spel. As  jy ‘n goeie burger van die land wou wees, was jy NG kerk lid, kerkraadslid was selfs beter. As jy ‘n werk wou hê moes jy ‘n getuigskrif toon van ‘n NG leraar. Dit het gewys jy is een van “ons mense”. ‘n Groot deel van my dag in die begin van my bediening was die skryf van getuigskrifte.

 Die kerk het in sy besluite en bepalings ander kerke gebrandmerk as nie-erkende kerke en ketters (ek het nog daardie kerkorde) en “with impunity” oor mense geloop wat dit durf waag het om dit teen te gaan.  Mense is ge”tug” en ge”sensuur” na goeddunke. Meisies wat swanger geword het, het voor die ouderlinge verskyn en is onder sensuur geplaas, terwyl die seuns nie ‘n sprak oor gesprook is nie. “Engelse mense” was verdag, so ook ander kulture en rasse. “Afrikanerskap en Christenskap” was eintlik dieselfde ding.

 Vandag is daar baie “post-kerklike” christene wat in hierdie “burokratiese” kerkwees seergekry het en verkies om eerder glad nie te koppel aand ’n sigbare gemeente nie. Wat ’n tragedie!

 

‘n Nuwe Generasie

 Ek het predikant geword in 1990, gewortel en gevorm in die vorige era. Ek was ‘n lid van die Voortrekkers en het diensplig gedoen. In my eerste gemeente het ek dienste gehou met wit das en toga. Ek het die standaard lturgie gevolg en gesangeboek (liedboek) gesing. Ek is deur die hele siklus van self-ondersoek en worsteling oor dit wat struktureel was, maar nie funksioneel nie.

 Ek het in die eerste fase van my bediening gewerk met jongmense. Ek het toe al besef dat die kerk besig is om die volgende generasie te mis, en dalk permanent te verloor as daar nie aanpassing kom nie. Daardie jongmense is vandag in hulle dertigs, en ek is oortuig dat sonder baie van die aanpassings en verskuiwings, ons hulle vir ons kerk sou verloor het. Soos dit is, het ons ‘n baie groot persentasie van hulle verloor doodgewoon omdat die kerk (ten spyte van die klem op die leer en belydenis in die kategese) vir hulle relevansie verloor het. Hulle het opgegroei in ‘n ander wêreld as die wat die kerk in vasgevang was.

 Vandag is ons uitdaging om kerk te wees in die wêreld waarin ons leef. Jesus se woorde kom by my op: “Julle is in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie”.

 Na my gevoel is dit die uitdaging van kerkwees. Om die tydlose waarheid van die lieflike Evangelie van verlossing in die harte, koppe en hande te kry van ‘n gemeenskap (en NOG ‘n  nuwe generasie) wat leef in ‘n tyd wat absoluut anders is as vantevore, en teen ‘n verbysterende spoed bly verander op ‘n maandelikse basis.

 So, om hierdie eerste deel af te sluit … die feit dat verandering noodwendig deel is van ons roeping as kerk is na my mening onweerlegbaar. Waaroor ons kan (en moet) gesels is hoe daardie verandering plaasvind en wat die geloofsinhoud (en gebruike) is wat ons saambring met ons uit die verlede.

 In my volgende “blog” probeer ek iets van my verstaan van spiritualiteit weergee en hoe dit in berekening gebring behoort te word in ons “aanbiddings oorlog gesprekke”. Gesels gerus saam

Kliek hier om my volgende blog te lees.

Views: 90

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Jan Venter op 24 Januarie 2011 om 15:42
Danie Pauline! Ek waardeer jou opmerkings. Dis net dat die Bybel ook praat van stilword voor die Here en ander maniere en metodes van lofprysing. Die probleem ontstaan wanneer ons mense een manier verhef bo ander as "beter" of "meer korrek" Ek dink elkeen het 'n unieke manier van "konnek" met die Here, en ons moet ruimte laat dat ons van mekaar verskil, en ook mekaar se verskille geniet en by mekaar leer!
Kommentaar deur Pauline Verster op 24 Januarie 2011 om 13:18

Hi

Ek glo nie dis verkeerd om lofprysing in die kerk te doen nie, in die Bybel word daar tog gesê met "klinkende simbale" en hef op julle hande!!! dis tog vir die Here wat ons die lofprysing doen en niemand anders nie!! So ek wens regtig dat die mense net wil "ontspan" en geniet die lofprysing! As ek deel is van die sanggroep vir Sondae se sang, sing ek vir die Here!!!. En dis so lekker!!!!! 

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service