PvR Geloofsfamilie

Behoort Bemoediging - Tyd vir Bid en Stiltetyd

Om te bid vir my bediening...

 

Ek het onlangs 'n video gekyk oor "How to Multiply your time?" Volgens die video kan jy meer tyd hê deur baie doelbewus na jou take en verantwoordelikhede te kyk en met baie goeie onderskeiding besluit of die taak of verantwoordelikheid ge-elimineer kan word, ge-outomatiseer kan word of gedelegeer kan word. Gaan loer gerus na die video indien dit jou prikkel. 

 

Die punt waarby ek wil uit kom is dat die een ding wat jy, as volgeling van Jesus, nie kan elimineer, ge-outomatiseer of delegeer nie, is jou stiltetyd saam met Jesus.

 

Die een element wat die grootste verskil gaan maak in jou stap saam met Jesus sowel as jou bediening in enige Geloofsfamilie, is jou persoonlike stilwordtyd saam met die Here. Daar is onmeetbare krag in gebed. Dit verbreed en verdiep jou verstaan van God en hoe Hy werksaam is in jou, om jou en in die wêreld. Maar meer as dit, verdiep dit jou verhouding met God. Hoe meer jy jou hart deel, en stil is om God se hart te hoor, hoe meer ontwikkel intimiteit met God. Hoe meer tyd jy saam met God stil is, hoe meer vind innerlike transformasie plaas. Ons spandeer nie tyd saam met God om Sy wil te verander of Hom om te koop nie. Maar eerder spandeer ons tyd met die Here om ons harte te verander en nader aan die persoon te groei wat God ons geskep het om te wees.

 

Dieselfde geld vir ons bedieninge. Jy mag dalk vra, wat is my bediening? Luister na God en Hy sal dit aan jou bekend maak. As jy sukkel daarmee, kyk om jou. Waarmee is jy reeds besig? Jy is uniek geplaas om die mense om jou te dien, as unieke mens, ma, pa,vrou,man,vriendin, vriend, volgeling, werker, bestuurder, kennis of vreemdeling.

Hoe meer ons tyd saam met die Here spandeer om werklik Sy hart vir jou bediening te hoor, hoe nader groei jy aan Sy wil vir jou bediening. Ons kan aktief werk om Sy wil en koninkryk 'n realiteit te maak daar waar God ons geroep het om werksaam te wees.

 

Maar hoe kan ek my stilwordtyd meer sinvol maak? Hoe kan ek my gebedslewe, weer nuwe lewe gee?

Soos met enige iets waarmee ons suksesvol wil wees het ons ‘n mate van beplanning en struktuur nodig. Niks in hierdie lewe gebeur sommer maar net spontaan nie. As enige iemand soos ek is, word spontaniteit ook tot ‘n mate in beplan. Selfs die lekkerste, spontaanste vakansie het nodig om ‘n bietjie beplanning te kry. Wanneer kan mens dit doen? Is daar min of meer ‘n rigting waarin ons gaan? Is daar petrol of geld genoeg om daar te kom? En terug? Hoe laat gaan ons eet of begin plek soek vir slaap?

 

Of jy nou ‘n “planner” is of iemand wat heeltemal spontaan dinge besluit, ons almal maak moeite om dit wat belangrik is en aandag nodig het te beplan en organiseer. Waarom dan nie ook ons stiltetyd en gebedslewe nie?

 

Ek wil jou in die week wat voorlê, aanmoedig om jou stiltetyd en gebedslewe veral bietjie meer te beplan. Ek heg by hierdie epos ook ‘n dokument aan wat ek self gebruik. Dit is ‘n versameling van kaartjies wat jou kan help met verskillende maniere van bid, sowel as “prompts” waarvoor jy kan bid. Jy kan die dokument rug aan rug druk om papier te spaar. Druk dit op karton en hou dit by jou Stiltetyd joernaal.

 

Maar ek sukkel. Gebed is nie heeltemal my ding nie.

As jy volgeling van Jesus is, is gebed jou ding. Dit is hoe jy met God praat en stil is om Sy hart te hoor. Jy kan nie hierdie afskeep nie. Jy kan wel nuwe maniere vind om te bid. Sommige van die maniere kan jou dalk ongemaklik laat, maar om gemaklik te wees is nie waarna ons streef nie. Ons streef na groei en verdieping. Om te groei vind plaas buite ons gemaksone. Wees dapper. Neem ‘n sprong saam met God. Dit gaan jou lewe verander!

 

Waarmee kan jy vandag nog begin?

  • Kies ‘n tyd en plek – Dit moet vir jou ‘n plek wees waar jy kan stilword saam met God en dit moet ‘n tyd wees wat jy sinvol kan gebruik. Indien jy nog nie ‘n gereelde stilwordtyd het nie, en hierdie jou intree tree is, beplan 30 minute. Indien jy reeds ‘n stilwordtyd het, oorweeg dit om 60 minute te beplan.
  • Beplan jou 30 minute – Ek deel die tyd in 3. Die eerste 10 minute gebruik ek vir een van die gebedskaarte met verskillende maniere van bid. Die volgende 10 minute gebruik ek om vir mense of spesifieke items in te tree. Ek maak gebruik van die Gebedsirkel hier. Die laaste 10 minute spandeer ek om te bid vir die bediening. Dit kan volgens ‘n gebedskalender wees (soos die een van ons Kinder, Tiener en Jong Volwassenes bedieninge) of spesifieke behoeftes in die bediening en Geloofsfamilie.
  • Sit jou foon op Airplane mode sodat jy nie gepla kan word nie, maar steeds die Bybel en alarm kan gebruik. Jy gaan sien, soos jy meer en meer uit jou gebedslewe kry, gaan die tyd vinniger en vinniger verby. Stel jou wekker sodat jy in jou tyd bly.
  • Voel vry om die tyd te verleng soos die behoefte toeneem en jy nie deur jou gesprek met God kom nie.

 

Verdere lees?

Indien jy nodig het om meer oor gebed wil nadink kan ek ‘n boek of twee voorstel. The Circle Maker van Mark Batterson het vir my baie beteken. The Hour that Changes the World van Dick Eastman help baie met hoe om ‘n uur van gebed in te kan rig.

 

 Ek hoop dat hierdie informasie vir jou goed was. En dat dit jou aanmoedig om meer intensioneel met jou stilwordtyd om te gaan. Ek is so opgewonde oor wat God in ons bedieninge maar ook ons lewens wil doen. EK kan nie wag om julle stories en belewenisse te hoor nie. Deel asb. met ons dit waarmee die Here met julle besig is.

Views: 82

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Geloofsfamilie om kommentaar te lewer!

Join PvR Geloofsfamilie

Nuusflitse

Bestel nou vars vleis tot 2 Desember vir aflewering by kerk in week van 3 Desember.

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2018   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service