PvR Gemeenskapskerk

Dag 3 - Aardbewings, Statistiek en ongemaklike Insigte

Kliek hier vir van vandag se fotos

Nouja, vandag het begin met 'n aardbewing! So net na 4 uur, teen 4.4 op die Richterskaal. Die hotelkamer het voelbaar en sigbaar beweeg bvir so 6 sekondes.... dis nou lekker groot skrik! Gelukkig was dit gou verby!

So teen 08:00 vertrek ons na Ventura, so 110km noord van LA. Ons gaan inloer by David Kinnamin, die huidige CEO en eienaar van die "Search Institute". Hy is 35 jaar oud, briljant en ongelooflik toegewy aan Jesus en gefokus. Hy het die maatskappy onlangs gekoop by George Barna wat ons later in die gesprek by ons aansluit. George is die guru van christelike navorsing en 'n legende in sy tyd. Vier uit vyf leraars in die VSA gebruik sy boeke en navorsing in hulle bediening.

Uiters sinvolle gesprekke met beide van hulle. Ons vertrek terug na LA en gaan besoek die Santa Monica Pier. Dit is waar Forrest Gump sy draai maak nadat hy begin hardloop het. So halfuur daar gekuier en toe ry ons die 75km na Mike Erre se huis in die suide van LA.

Ons het so teen 23:00 by die huis gekom en eers gou by die McDondalds oorkant die straat gaan kos koop. Ons het 12:00 laas iets oor die lippe gehad!

Ons eerste gesprek met David Kinnaman het gesentreer rondom die toekoms van die kerk. Hy het uitgebreide navorsing gedoen oor die ouderdomsgroep 19-26 en die dinamika van hulle interaksie met die kerk. Die navorsing het neerslag gevind in 'n boek met die titel "UnChristian". Ons het die boek, maar dit is ook beskikbaar by CUM.

Die statistiek wat uit die navorsing kom gee 'n duidelike prentjie van 'n generasie mense wat vertroue verloor het in die KERK van Christus, maar steeds 'n bewondering/waardering het vir Christus self


Hulle agterdog sentreer rondom 'n paar groot sake:

1. Hulle sien mense in die kerk as skynheilig en vals. Ons verkondig een ding, maar leef iets heeltemal anders. Dit blyk uit sy navorsing dat daar tussen wedergebore Christene en buite-kerklikes byna geen verskil is in lewenstyl en moreel etiese uitgangspunt nie. Skokkend, maar waar!

2. Hulle ervaar ons as oneg in ons belangstelling in mense. Al waarin ons belangstel is of mense gered is of nie. Ons is ooglopend baie minsaam en liefdevol, maar as ons agterkom dat hulle nie belangstel om 'n oorgawe te maak nie verloor ons onmiddelik belangstelling en beweeg aan. Hulle ervaar dat ons nie (soos Jesus) opreg in hulle menswees belangstel nie

3. Hulle beleef ons as veroordelend. Ons soek eerder foute in mense en redes waarom ons NIE met hulle moet assosieer nie as om genadig en sag met mense te wees. Soveel anders as die Jesus wat ons gered het en wie ons dien.

4. Hulle ervaar ons as te polities ingestel. Met ander woorde, ons is te besig met mag, posisie en invloed en te min met dienende leierskap

Die ontmoedigende besef was, hoe gaan ons die kerk laat voortbestaan in 'n wereld wat ONS op 'n manier weggestoot het met ons uitleef van ons Christenskap? Hoe bereik ons hierdie generasie mense as hulle ons met soveel agterdog bejeen?

Die gesprek was baie uitdagend en die statistiek onweerlegbaar. Ons het besef datdie statistiek nie net van toepassing is op die VSA nie, ons eie situasie word sterk daarin gereflekteer.

George Barna gaan verder in sy deel van die gesprek en wys duidelik uit waarom die kerk faal om mense te begelei na ware en sinvolle saamreis met Jesus en transformasie in hulle innerlike.


In hierdie proses wys hy uit dat die mense aanvanklik onbewus is van hulle verlorenheid en stadig begin beweeg na bewustheid, bekommernis en uiteindelik belydenis van sonde en oorgawe. dis net hier waar die kerk die proses snoeker deur mense na oorgawe betrokke te maak in die kerk, geestelike groei te fasiliteer en diensgeleenthede te skep. Dit op sigself is nie verkeerd nie, maar die probleem is daar word 'n sosiale kontrak aangegaan tussen die nuwe gelowige en die kerk wat seker maak dat die kerkleiers se drome in stand gehou word terwyl mense nie regtig transformasie in hulle lewe beleef nie.

Na 'n tyd verloop het begin mense onvergenoegd raak met die "mallemeule" van kerkwees en beweeg of terug na traak my nie agtigheid, of hulle "gaandeur die hoepels" van kerkwees vir die res van hulle lewe (maar verloor die siel en die vreugde daarvan) of hulle kom by gebrokenheid (en heelheid), na totale oorgawe en die p liefde vir God ... en dan vir mense.

Ons sal hierdie gesprek verder met julle uitpak, maar dink solank na oor waar jy is op hierdie reis. Ons as leiers het besef dat ons ons gemeente begelei na watertrap en nie noodwendig na transformasie nie .... ons wroeg daarmee op 'n manier....

Ons gesprek met Mike Erre het ons gehelp om te verstaan dat ons gemeenskap (soos hier in Kalifornie), so blootgestel is aan kerk en godsdiens dat ons die hart van ware aanbidding verloor het. Hy bedien een van die vinnigste groeiende kerke in die VSA en fokus baie sterk daarop om mense te begelei uit hulle gevangenskap in materialisme en godsdienstigheid na dieper oorgawe en 'n eerliker belewenis van Christus.

Ons het besef dat ons met presies dieselfde dinge worstel in ons gemeente en gemeenskap. Mense het vrede gemaak met 'n vals skynsel van "christelikheid, so asof dit die ware Jakob is. Ons besef dat ons hier baie werk het om nuwe tree te gee

Views: 184

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Barend Bezuidenhout op 18 Maart 2010 om 22:35
Dit laat my dink aan die teks (2Kor2:16) waar Paulus sê ons is 'n geur wat vir die wat verlore gaan 'n doodsreuk is, en vir die wat gered word 'n lewensgeur. Dan het ek maar altyd gedink dis maar hulle probleem hoe hulle my getuienis-reuk ervaar. Maar eintlik is dit net ek wat 'n rede soek dat dit nie my skuld is as my "hoogheiligheid" (en eintlik hoogmoedige liefdeloosheid) hulle afstoot nie. Sjoe, ongemaklik inderdaad...
Kommentaar deur Hugo Smit op 18 Maart 2010 om 22:26
Baie insiggewend! Laat my defnitief dink waar ek is op die "reis". Dankie vir die pitkos - dit haal bietjie ons oogklappe af om dinge ook uit 'n ander hoek waar te neem. Lekker Vars!
Kommentaar deur Paul van Rensburg op 17 Maart 2010 om 23:45
Hi julle.

WOW..wat 'n ondervinding. Oms God se skepping so te beleef in alle fasette! 'n ondervinding soos die is 'n geskenk van God!

Die stelling van "Ons as leiers het besef dat ons ons gemeente begelei na watertrap en nie noodwendig na transformasie nie" het my nogal opgeval. Mag die wroeging gebless word met 'n Goddelike antwoord wat gepaard gaan met wysheid en insig, maar meer nog met samehorigheid in die doel en rigting warin ons moet neig. Veral julle as leier span wat vertroue en standvastigheid moet vestig en onderhou. Ek bid werklik dat julle dit sal vind en ervaar.

Seen vir julle en mag julle volgende keer 'n Steers raakloop met regte kos...he he he.
Groetnis uit P-town.
Kommentaar deur Rialette du Plessis op 17 Maart 2010 om 9:55
Baie dankie vir die nuus en veral die fotos. Dit maak dit net so maklik om te sien waarvan Pierre praat. Julle web tuiste is baie oulik en veral die idee dat jul lidmate kan sien "What you are up to!"

Dit lyk my julle klomp geniet dit vreeslik baie, veral die koffie en daai kaas koek lyk fantasties!!!

Liefie (Pierre) lyk my jy oorleef dit darem tussen die klomp vriendelike ds. Dit gaan goed hier, ons (ek), die kids (Noa en Luther) die brakkies (Beer en Mienkie) en vis (Snowball IV)(Jip, die vorige Snowballs is "SEE" toe) mis jou baie.

Ons bid vir elkeen van julle!!!

Rialette

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service