PvR Geloofsfamilie

Ek het op 12 Mei bewus geraak van Jakaranda Kinderhuis in Pretoria wat ’n krisis beleef met hulle befondsing en kontantvloei om basiese kos en kruideniersware te koop vir die 243 kinders wat in hulle verskillende huise bly.
Die rede vir hulle kontantvloeiprobleme was dat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling nog nie hulle kwartaallikse subsidie aan die Kinderhuis oorbetaal het nie. Hierdie subsidie maak oor ’n jaar ’n derde van Jakaranda se inkomstebegroting uit, so sonder dit was hulle onder geweldige druk.

Hulle het ’n beroep op gemeentes en mense gedoen om hulle hiermee te help. Hulle het gevra dat mense dit oorweeg om kos te skenk, vars produkte sowel as nie-bederfbare kos en toiletware, wat hulle dan tussen hulle verskillende huise sou versprei, sodat die kinders almal genoeg het. Ons het toe op Sondag 18 Mei hierdie versoek aan ons gemeente gekommunikeer, en gevra dat mense op Sondag 25 Mei wat ookal dit is wat hulle wil skenk na die eredienste toe sal bring.

Soos altyd, was die vrygewigheid en die opbrengste ongelooflik!! Ons verhoog was volgepak, en die vars en nie-bederfbare kos was volop. Wat ’n voorreg om dit te kon sien, en deel te wees van die seën wat dit vir Jakaranda was.

Ons het dit Maandagoggend by Jakaranda gaan aflaai. Kort voor ons gery het was daar nogsteeds goed wat ingekom het. Ek dink dit kom uit ’n oortuiging van ons geloofsfamilie dat kinders nie honger moet gaan slaap nie.

Van die verhoog, na ’n vol KIA Bakkie en ’n Cruiser, na die saal van Jarakanda, gereed om na die verskillende huise toe te gaan. Deel van ons totale donasies aan Jakaranda was oor die 100kg se vleis, en omtrent R30 000 kontant bydraes ook. Prys die Here!!

Ons wil graag die gedeelte van ons Oesfees dankoffer 2014 wat ons elke jaar weggee, ook hierdie jaar vir Jakaranda gee, om hulle in staat te stel om sekere ontwikkelingsaktiwiteite ook met die kinders te kan doen, en vir die kinders sulke geleenthede te bied. Hulle het 'n behoefte daaraan, en ons meen dit is 'n wonderlike geleentheid vir ons.

Ryno Meyer

Views: 248

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Geloofsfamilie om kommentaar te lewer!

Join PvR Geloofsfamilie

Nuusflitse

Bestel nou vars vleis tot 29 Julie vir aflewering by kerk in week van 30 Julie.

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2018   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service