PvR Gemeenskapskerk

"Hierdie trip maak op papier glad nie sin nie!" Gert se stem is vol humor wanneer hy sy opinie lug van die agtersitplek, want hy (en ons) weet dat dit wat op papier soms sinneloos lyk is in God se hande, 'n avontuur van 'n leeftyd!

Aan die einde van 2010 het die mannebediening saamgedink oor wat ons in 2011 saam kan aanvang. "Kom ons vat 'n langnaweek en gaan Kalahari toe", kom die gedagte wat weer in die gesprek wegraak. Maar moet nooit 'n klomp geesdriftige, vaardige, manne onderskat nie. Nie te lank nie en daar is 'n voorlegging en projekplan op die tafel .. en die organisasie is in volle swang! Voor ons ons kon kry word 'n wilde idee, 'n wilde avontuur!

 

Op Woensdag 15 Julie so teen die middag se kant vergader die troepe op die parkeerterrein van die kerk. Sestien manne van uiteenlopende agtergrond en persoonlikheid, maar met een doel ... Kalahari of Bars! Die vier voertuie is

wetenskaplik gepak en toegerus en ons vertrek op die eerste skof: Pretoria na Red Sands, Kuruman. Rustenburg, Lichtenburg en verskeie ander dorpe vlieg verby. Vroegaand stop ons vir 'n breek anderkant Lichtenburg en ...steek amper die veld aan die brand. Die een sleepwa se nuwe brieke is vuurwarm en na 'n vinnige wegtrek, noodherstel en lekkerlag met liefie se padkos in die kies trek ons verder. "Stop en Go" en 'n ongelooflike maansverduistering later ry ons in (eers verby, vir verkenning) by die oornagplek. Woeste kamp opslaan en onderhandel vir chalets vind plaas, maar ons kuier heerlik, lag lekker en voel mekaar se harte so bietjie in die ysige koue rondom 'n vuur, 'n worsrol en liefie se orige padkos.

 

Vroegoggend roer ons met 'n groot verwagting. Vandag is dit Kalahari in! Opgepak en getrek deur Hotazel (koue plek daai) en al nader aan die rooi woestyn. Weereens sleepwa reparasies en brom en mor oor vakmanskap van die sleepwa-verkopers voor ons in die park ingaan. (Gelukkig het die "sleepwa-verkopers" hulle fout erken en reggestel) So tussen die wag en werk is daar darem altyd tyd vir 'n grappie en 'n poets of twee.

So draai ons die laaste draai in die rigting van die Kgalagadi. Die rooi duine en uitgestrektheid laat ons vir 'n slag sprakeloos. Ons glip sonder slag of stoot deur die "doane" en laat wiel vir Mata-Mata, waar ons oorbly.

 

Hier word ons die "Trans-Kalahari Off-Road Challenge" want ons moet 'n verbete poging aanwend om die toemaaktyd van sesuur te haal. Ons maak dit met minute te spaar (ten spyte van 'n ompad of twee) en maak in die laaste strale van die vroegaandson ons kampplek staan. Skielik daal die vrede en rustigheid oor ons neer in die ysige stilte. Met Deon se "legendariese" laataand potjie en diep gesels rondom die kampvuur sluit ons die dag af. Die "vreemde" manne van gister begin nou al meer soos bekendes lyk. Ons luister mekaar se harte en praat wyd, oor ons huweliksverhoudings, ons werkfrustrasies, ons verstaan van die Here en wat ookal nog.

 

 

Die aande om die kampvuur met Deon se meesterlike kos in die hand en ons gedagtes en ervarings op ons lippe, word die hoogtepunt van die saamwees. Vreemdelinge word bekendes en later vriende. Ons leer mekaar se worstelings en onsekerhede ken. Ons lag oor mekaar se swakhede en tekortkominge en foute, want, ons deel almal maar in dieselfde flaters en floutes. Vroegoggend en laataand word daar stilgeword voor die Here in Sy magtige natuurskoon. Die ysige nagte word ysbreek oggende waar God ons verstom met sy natuurprag. Ons is bevoorreg om dosyne verskillende diere te sien en te ervaar. Tot leeus en luiperds.  Ons raak stiller en dieper. 

 

 

Die ervaring het ons elkeen op 'n ander manier diep geraak. Die lang ritte in 'n kort tyd het ons naby mekaar gehou en dieper laat gesels as wat andersins die geval sou wees. En die lag. Die humor wat uitkruip tussen 'n klomp manne is aansteeklik en 'n mens smeek naderhand vir 'n bietjie ruskans vir die lagspiere. Lag en Leef! Dis omtrent die leuse van die naweek se ervaring. 

Dankie aan die manne wat voertuie beskikbaar gestel het en die organiseerwerk gedoen het. Deon kan uitstekend organiseer, maar kan die man vir jou kosmaak! Elke ete was 'n meesterstuk.

 

 

 

Ons Mannebediening beplan 'n kamp so bietjie later in die jaar en sien mekaar elke Woensdag om 05:30 by halftyd. Kom word deel van die ervaring.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Views: 237

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Deon Fourie op 14 Julie 2011 om 16:09

Jan, ek moet jou komplimenteer op die blog.  Ek het al baie gewonder hoe sal mens die lewens ervaring kan vasvang in woorde en man het jy dit nie nou mooi gedoen nie. 

Wat 'n ware vreugde om soveel manne te leer KEN.  Ek sien baie by die kerk, maar het hulle nie geken nie.  NOU is dit anders.  Ek het lanklaas so baie en lekker gelag.  'n Goeie vriend het die naweek vir my gechat "Vier die Lewe".  Wat 'n voorreg om dit so te kon vier. 

Ek het baie geleer van 4x4 tot "road side repairs" en dan die chats om die kampvuur. So oop en eerlik het ek lanklaas beleef en weer het ek besef ek is nie alleen in my "struggles" nie, maar saam trap ons enige probleem se tjank af.

Dankie vir die saam reis aan al die Brothers, want vir my het dit 'n wêreld se verskil gemaak!

Kommentaar deur Johan Meyer op 14 Julie 2011 om 12:31

Sal later reageer. het eers net met Google chrome die blog laat in Brits vertaal.Goeie lees stof dan.

Tks jan vir die start vani blog. Groetnis aan die anne BROTHERS !

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service