PvR Gemeenskapskerk

Ek het verlede Sondag by Lukas 15 stilgestaan. Die baie bekende verhaal van die verlore seun, maar groot was my verbasing dat daar nie net een verlore seun was nie, maar twee - die oudste en die jongste.

Ons betrap onsself so maklik in een van die twee rolle. Ons voel baie keer soos die jongste seun wat wegdraai van die Here af en dan nie voel om terug te kom na die Vader toe nie, want ons voel nie ons verdien dit nie. Ons is dit nie werd nie. Daarom sal ons eerder in ons situasie bly as om terug te keer huis toe.

Aan die anderkant voel ons baie keer soos die oudste seun. Ons voel verontreg dat die Here nie meer vir ons doen nie. Ons werk dan so hard en gee ons alles en dan voel dit of ons niks daarvoor kry nie.

Tog lees ons dat die pa in die gelykenis, anders optree. Vir sy jongste seun sê hy: "Welkom terug! Jy was dood en lewe weer!" Kom ek gee vir jou die beste van alles. Jy is terug asof jy nooit weg was. Ek is onsettend lief vir jou.

Vir die oudste seun sê die pa: "Wat myne is, is joune." Ek is net so lief vir jou. Jy hoef nie te werk soos 'n slaaf nie, jy is my kind en alles behoort aan jou.

Die vraag is: "Wie se verhaal glo ons?" Glo ons, ons eie verhaal - "Ek is nie goed genoeg nie" of "Ek verdien darem beter" of stel ek my oop vir God se verhaal wat sê dat Hy vir ons ontsettend lief is en wat Syne is, is ons sin. Dit bepaal ons hele lewe. Kies om te luister na God se verhaal oor jou.

Rembrandt het 'n baie bekende skildery oor hierdie gelykenis geskilder. Die opvallendste is dat hy die pa se twee hande wat op die jongste seun rus, as 'n manlike en 'n vroulike hand skilder. Hiermee wys hy dat God ons soos 'n vader en moeder omhels met sy liefde.

Mag ons elkeen God se liefde vir ons spesiaal ervaar.

Views: 502

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service