PvR Gemeenskapskerk

Dis die moeiliker keuse, maar kies om te GROEI en te LEEF!

Die afgelope naweek was volgepak met verskillende soorte besondere gebeurtenisse. Elkeen kosbaar en besonders. Nie almal aangenaam en maklik nie.

Verlede Vrydag was ek bevoorreg om deel te wees van 'n "Symposium" aangebied deur Prof. Jan se departement. Die sprekers was ou bekendes. Alan Hirsch, ons SA/Ozzie/Amerikaanse vriend wat ook ingeskryf is vir studies hier; Nelus Niemandt, Missiologie dosent by Tuks en ons eie Stephan Joubert. Elkeen van hulle het op 'n unieke, vars manier dieselfde ding op verskillende maniere oorgedra - Die tyd is hier, en dit is nou, dat ons wat Jesus volg nie net 'n vriendelike kopknik sal gee as Hy verbygaan nie. Ons moet agter Hom inspring en Hom volg op die weg, want Hy is die Weg!

Die tragedie statistiek hier is dat as die huidige tendense van verkleining en inkrimping in die kerk voortduur, die kerk binne net EEN generasie kan uitsterf in Nederland. Dit het my laat regopsit. Nee, dit het my hare laat regopstaan. So tussendeur, sonder dat ons dit agterkom verloor ons stelselmatig die greep op die Koninkryk. Stephan se referaat het die "weg" in die Nuwe Testament uitgepluis. Ons is mense van die "weg", op weg saam met Jesus. Die oomblik as ons gaan stilstaan volg ons nie meer nie.


Saterdag oggend het ek die wonderlike geleende fiets gevat en so 50km gery in die omgewing van Nijmegen. Beland ek toe in 'n pragtige dorpie met die naam Cuijk. Was glo die varsprodukte mark in die tyd wat die Romeine hier aan bewind was. Reg by die St Martin's kerk is daar in die rivier 'n Romeinse brug ontdek wat dateer uit die jaar 300 n.C.

'n Mens word oorweldig deur die geskiedenis. Die pragtige kerk troon absoluut uit oor die dorp uit. Maar dis net 'n dop en 'n museum. En ek hoor dieselfde stem in my hart. Die tyd is hier!

Ek kruis die Maas rivier met 'n oulike pont, wat ook 'n geskiedenis van 'n paar 100 jaar het.

Dit word 'n heerlike oggend in die platteland en "Maasduinen" wat gevorm is aan die einde van die vorige ystydperk hier. Darem so paar bulte in die pragtige bos gevang - en per ongeluk in die middel van 'n fiestresies beland!

Sondag se reelings het vir baie van die vriende hier nie uitgewerk nie so ek en Alan het in die middel van die oggend vertrek na Utrecht waar hy 'n gesprek sou doen met 'n aantal kerkleiers uit die Nederland. Almal leiers van "kerkplantings" en nuwe ontwikkelings. Passievolle ouens wat op verskillende maniere die "gly van die Christendom" teenstaan. Lekker name, Marc, Jan, Harold, Frans, Folkert, Peter, Erik. Maklike name. Ons name.

Ek sien die bekommernis op hulle gesigte, en hoor dit in hulle stemme. Maar ek hoor ook die hoop. Kerkies in restaurante en allerhande plekke. Jesus is (op) die Weg. Ons moet net volg. 

Ons stap deur die middeleeuse straatjies van Utrecht verby die "Dom" kerk wat uit die 15de eeu dateer. Die Ierse sendeling Willibrord het die evangelie na Nederland gebring en die gemeente in Utrecht gestig, eeue gelede. Ons is op pad na 'n "kerkplanting". 'n Klein gemeente wat ontstaan het uit die "Crossroads" gemeente in Amsterdam.

'n Evangeliese kerk wat daar uit die niet geplant is en gegroei het. Soveel so dat hulle al verskeie ander kerke regoor Europa gestig het. Twee Suid-Afrikaners wat hier woon is in die leierspan van die nuwe kerkie, Lou en Ronel Pistorius.

Heerlike ervaring met die uiteenlopende groep volgelinge van Jesus. Koreane, Afrikaners, Nederlanders en etlike ander nasies is saam en hulle sing die liedjies wat ek ken, lees die Woord wat ek liefhet en volg die Jesus wat die Weg aanwys. Verbysterend.

Laataand kuier ek en Alan terug na Nijmegen saam met 'n vriend van hom wat hom kom groet het daar en toe sommer aanbied om ons terug te neem met sy motor. Rogier Bos, die vriend, is 'n professionele fotograaf wat deeltyds ook die Direkteur is van die Europese been van "Christian Associates". Dit is 'n organisasie wat kerke regoor Europa plant. Hordes. Ek luister na die passievolle volgeling van Jesus wat besig is om die Weg te loop. Deeltyds, voltyds. Inspirerend.

Nog later die aand stuur ek vir Alan 'n boodskappie op Twitter. "Today will be forever noted as a Holy Moly Moment. Thanks for having no airs and lots of Gracious".

Dit so 'n voorreg om saam met hierdie internasionaal gerekende skrywer te wees en uiteindelik net bewus te wees van sy eenvoudige liefde vir Jesus en passie vir "die Weg".

So is die naweek verby. Ek is terug agter die boeke, ons het Dinsdag ons eie "Symposium" waarin ons aan die Prowwe ons vordering (of gebrek daaraan) moet blootstel. Ek mis my girls en julle, my mense. Dis die slegte deel van die naweek. 'n Mens kan omring wees deur die grootste weelde en oorvloed, maar sonder jou mense by jou, is jy maar alleen.

Mos maar wat Jesus ons geleer het. Lank terug. Wees lief vir die Here met alles. En mense, soos jouself. Dankie dat jy saamreis. Bid ook saam. Ek het dit nodig. Ons, die kerk van Jesus Christus het dit nodig. Dis tyd.

Views: 232

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service