PvR Gemeenskapskerk

Twee dagreise ver ... dis Orcas eiland. Twee vlugte, 'n reis per motor, 'n vaar met die veerboot en nog 'n stukkie op die pad bring 'n mens na hierdie stukkie hemel op aarde. Dis nie verniet dat die staat Washington bekend staan as die "Evergreen State" nie! Die eilande is so amper lukraak versprei oor die horison en die diep blou water van die "Puget Sound" verkleur stelselmatig deur die verskillende skakerings van pers soos die son sak in die weste.

Ons sit op die houtdek voor Len Sweet se huis met die pragtige uitsig van die sakkende son wat rondom ons gebeur en gesels saam oor Christus, volgeling-wees en kerk. 

Len deel met ons die verhaal van sy seun se musikale ambisie. Die jong man begeer om 'n spesifieke instrument te bemeester en Len en sy vrou, Elizabeth, het lank gewik en geweeg daaroor of hulle vir hom 'n instrument wil huur vir die somer. Hy moes darem eers kyk of hy die kuns kan baasraak, oordeel hulle, en huur die instrument.

Nou ja, dit word 'n somervakansie sonder gelyke soos die toekomstige musikant die aardigste geluide uit die instrument voortbring. Die hele huis (en buurt) beleef die pynlike vals note wat met soveel passie en energie voortgebring word.

Dit is hoe dit is as mens iets wil bemeester volgens die skrywer Malcolm Gladwell. Volgens hom neem dit ten minste 10 000 uur om 'n spesifieke vaardigheid te bemeester. In die proses is daar flaters, foute, pynlike teleurstelling, frustrasie, mislukking en wat nogal. Dis hoe dit is. Ons leef daarmee saam as dit ons kinders of vriende is, want ons wil hulle die geleentheid bied. Ouers sit baie keer ure en wag vir hulle kinders by oefeninge en wedstryde, sonder enige ooglopende sukses. Maar hulle byt vas. Want hulle sien in die pad af die toekoms ... en wag daarvoor.

Hoe het dit gebeur dat ons as die kerk van Jesus hierdie vaardigheid verloor het? Len praat van "communities of practice". Waar daar nie verwag word van iemand wat Jesus begin volg om sommer skielik, dadelik en onmiddelik alles agter mekaar te kry nie. Maar eerder, waar daar foute en mislukkkings verwag word. Waar ons die beste soek vir mekaar in ons swakhede. Waar ons kan groei in die verstaan van wat dit beteken om Christus volgelnige te wees. Is dit nie wat dit beteken om kerk te wees nie?

Dink maar hoe Jesus die dissipels se swakhede en broosheid oor die hoof gesien het en aan hulle mensheid vasgehou het, in Liefde.

Droom jy nie ook soos ek oor 'n geloofsfamilie waar dit waar word nie? Waar ons ophou voorgee dat alle OK is, maar intussen stukkie vir stukkie sterf in ons binneste ... omdat ons voorgee. Omdat ons dink dat dit die manier is waarop ons moet leef.

En in ons wanindruk krepeer ons. Van skuldgevoelens, frustrasie en skaamte. Niemand mag weet dat ons worstel nie. Nie broos en deursigtig wees nie. Veral nie in die kerk nie.

Hoe het ons by hierdie gedagte beland? Ek is nie seker nie, maar wat ek wel seker oor is, is dat ons van hierdie gedagte af moet wegkom. Weghardloop eintlik!

Christus wil diep in ons menswees met ons vriende word. Die tipe vriend wat met die liefde van 1 Kor 13 die tekortkominge raaksien, maar steeds saam bly reis. Wat ons vals note en skeef en krom melodieë aanhoor. Juis omdat hy weet die tyd gaan kom wat ons daarmee beter gaan word. En ons dan kan saamleef, sonder moeite.

Hy weet dit. Weet jy dit? Van jouself ... dat jy maar kan erken as jy nie kan nie. Sodat jy Hom kan lewe. En ontspan.

Mag ons 'n geloofsfamilie wees vol vals note, ook as leraars deursigtig en broos. Sodat ons ander kan aanmoedig om Jesus te volg en hule kan waag, omdat ek en jy waag n soms tref. Sal ons nie dan 'n Geloofsfamilie wees, soos Christus bedoel het nie?

Ek dink so

Views: 131

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Jan Venter op 1 Augustus 2011 om 20:17

Dankie Wardi, dis 'n lekker saamgesels van jou.

Wat die VALS note betref ... dis juis die wonder van Genade dat God met ons bly reis ten spyte van ons vals note. Die geloofsfamilie is juis waar ons met mekaar saam is deur ons "oefening" om Jesus te volg. Dit vat tyd .... en ons moet geduld met mekaar kry. Die oomblik as dit OK is om te oefen en te fouteer en te misluk gaan ons op 'n nuwe manier God se genade leef en dit ervaar

Kommentaar deur Wardi Smit op 1 Augustus 2011 om 13:59

Die  stuk laat n mens diep nadink oor hoe n mens na ander kyk. Het ons nog die tyd en geduld om na ander se vals note te luister.

Wat ek sien in die wereld is dat niemand in perfekte toon is nie. Ons het op aanbeveling a lang ruk terug a fliek gekyk "As it is in Heaven" (Briljant, kry dit gerus) Die les in die fliek is ook om jou toon te vind in die lewe en daarvolgens te sing(of lewe). Ons kan nie volgens n ander mens se melodiee sing nie, anders as almal op dieselfde toon sing is daar so 6.9Biljoen mense teveel op aarde. Elke een van ons is van n bloudruk gemaak. daar is niemand soo jy daar buite nie. Vind jou eie toon en eer die Here met wat jy het en kan bied.

Ons moet ook luister hoe ander se tone inpas by ons sin. Dit is nie net one eie toon wat saak maak nie. Ons almal speel n deel in n koor van miljoene. As jou buurman se toon vals klink, miskien staan hy net op die verkeerde plek in die koor. 

Op die einde van die fliek hoor ons hoe elke persoon sy eie toon sing en hoe dit in die Hemel dalk kan klink.

 

Ons moet ook waak om nie VALS tone te sing nie. Wees altyd opreg, dien die Here en wees lief vir elke mens wat jou pad kruis. Wie se dalk is dit Jesus self wat jou pad kruis en jy behandel Hom met minagting. Miskien het Joan Osborne iets beet hehad toe sy gesing het "What if God was one of us, Just a stranger on the bus trying to make his way home..."

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service