PvR Gemeenskapskerk

Callie Roos het verlede Sondag oudergewoonte met passie en oorgawe die Woord bedien en sy tema het, vermoed ek, het baie van ons aangeraak op 'n besondere manier.

Die skrifgedeelte in Matteus 14 waar Petrus op die water loop is'n bekende en geliefde teks, maar Callie het dit reggekry om my te help met nuwe perspektief. Nie net op die teks nie, maar veral op myself en die wyse waarop ek Jesus volg.

Een van die dinge waarin ek heelhartig glo is die feit dat die Here ons elkeen totaal uniek geskep het om 'n lewe te leef wat uniek, anders en soms angswekkend is. Ek het besef dat ek veral in die laaste paar jaar begin "veilig" leef het en dat om Jesus met oorgawe te volg, risiko inhou. Christus is in my en as ek Sy leiding volg, neem dit my na buite my gemaksone. As ek daarbinne wil bly volg ek nie Jesus nie!

Callie se vraag: "Wat hou jou binne in die boot"?, het my diep laat nadink. Ek is so geneig om allerhande goeie, slim en logiese redes uit te dink waarom ek veilig speel en 'n ondersteuner ("fan") wil wees wat Hom aanmoedig en toejuig terwyl Hy op die water loop. Ek het weereens besef dat Jesus nie belangstel in ondersteuners ("fans") nie, maar in volgelinge ("followers"). Om te bely dat Jesus my Verlosser is, beteken dat ek hom sal volg, en nie net sal ondersteun en toejuig nie. Dit vra iets meer van my as om net veilig in die boot te bly!

Hy het my ook gehelp om na te dink oor wat presies "my boot" is. Die boot is 'n metafoor van die vrese in ons lewe wat ons verhinder en terughou. Sjoe, daar beleef ek weer 'n kale oomblik voor die Here, en kry ek weer vars perspektief op my onsekerhede en vrese (wat ek gedink het is nie meer so 'n "issue" nie).

Die opmerking "as jy Christus volg emigreer jy deurentyd na 'n plek van minder veiligheid" het my getref en ek het myself verbind om Jesus onverskrokke te volg, waar Hy ookal lei. Die beste plek om te wees, is waar Jesus is. Dis net nie noodwendig die gemaklikse of rustigste nie!

Die beeld wat in my gedagtes bly draal na die diens, is die televisie advertensies van "Johnny Walker", die bekende whiskey. In die advertensies word die lewensreis van verskeie beroemdes uitgebeeld met die trefsin "keep walking" aan die einde van die advertensie.

Ek vermoed ek en jy is 'n "Jesus Walker" en dat die trefsin van ons lewe moet wees "keep walking"!

Mag jy, soos ek, diep nadink oor jou "wandel saam met Jesus" en mag ons saam die avontuur ontdek van volgelingskap.

 

"Keep walking"!

Views: 59

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service