PvR Gemeenskapskerk

Ek het die afgelope tyd by die boek Jona stilgestaan en dit het my baie laat dink en groei.

Die verhaal van Jona is so oorbekend dat ons dit maklik mislees. Maar Jona kan ons help, veral aan die begin van die jaar, as ons soveel keuses moet maak. Ek leer in Jona dat God selfs verkeerde keuses kan gebruik in ander en my lewe.

Jona was ongehoorsaam toe God hom roep om na Nineve te gaan. Hy het besluit om eerder Tarsis toe te gaan, na die plek wat hy gedink het beter vir hom sal wees.

Ten spyte van sy ongehoorsaamheid, gebruik die Here sy verkeerde keuse Tarsis toe om vir die manne op die skip te wys Wie Hy is. Die matrose aanbid God op skip.

Jona word in die see gegooi en mens sou dink dis die einde van Jona. Maar in Jona 2 besef Jona dat hy vir God kan weghardloop nie. God is orals en hy sing 'n loflied. Hy word weer op die strand uitgespoeg.

Nou is dit seker klaar met Jona. God kan hom nie gebruik nie. Maar een van die belangrikste verse is in Jona 3:1 wat sê dat die Here weer met Jona gepraat het. Ten spyte van sy ongehoorsaamheid, kom die Here weer en behou kontak met Jona. God gee hom 'n tweede kans.

Jona gaan nou na Nineve, maar hy is nie opgewonde om te gaan nie. Hy is gehoorsaam, maar sy hart is nie daar in nie. Tog doen hy wat God van hom vra en hy verkondig aan die mense in Nineve God se boodskap. Die mense van Nineve kom wonderbaarlik tot inkeer en God besluit om nie die stad te straf nie.

Dit was vir Jona baie sleg en hy neem die Here kwalik dat Hy dit so doen. Jona argumenteer met die Here en sê dat hy geweet het dat die Here 'n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde is. Daar wou hy sommer van die begin af nie na Nineve toe gaan nie.

Die Here los Jona nie en laat hom die groot prentjie sien. Jona moet raak sien dat God besorg is oor elke mens en dat Jona juis daaraan moet vashou dat die Here 'n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en vol liefde.

'n Paar dinge om oor te dink:

  • Waar is jou Nineve? Na wie toe stuur die Here jou?
  • Waar kruip jy weg om nie by die Here te wees nie (vergelyk Jona 1:3)?
  • Besef dat die Here soms ook ons ongehoorsaamheid kan gebruik om Sy doel te bereik
  • Het jy al 'n tweede kans ervaar? Hoe het jy gereageer?
  • Sien jy die groot prentjie dat God 'n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en vol liefde?

Mag ons almal in hierdie jaar wat voorlê God se tweede kanse van genade en liefde ervaar.

 

Henk

 

Views: 328

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service