PvR Gemeenskapskerk

 

Elkeen van ons wat die Here liefhet, wat Hom meer en meer wil leer ken en daarna streef om vir Hom te leef, kan nie anders nie as om ook ernstig na te dink oor die kerk en kerk-wees in die tyd wat ons nou leef.

En dit laat my dink aan ‘n opmerking wat baie jare gelede gemaak is toe iemand gesê het dat die Britse Weermag in 1939 gereed was vir die Eerste Wêreldoorlog van 1918. Dit laat my ook ernstig nadink oor die kerk van vandag en die kerk van môre. Kan ons met die oog hierop nog kerk wil wees met patrone wat dalk uitgedien is en mense nie meer aanspreek of aan God se doel beantwoord nie? As ons moet aanpas en vernuwe, wat is die konstante dinge wat nie mag verander nie, en wat sal moet verander?

Dan Kimball in sy boek: “They like Jesus but not the Church”, maak myns insien ook baie belangrike opmerkings na aanleiding van ‘n studie wat hy gedoen het in die VSA. Al mag ons kontekste dalk verskil, is die resultate baie relevant vir ons in SA.

In ‘n opname aan ‘n universiteit  wat bekend is vir sy anti-Christelike opvattings en heidense invloede, het hy baie interessante resultate ervaar. Toe hy sy toetsgroep gevra het waaraan hulle dink as hulle die naam “Jesus” hoor, was die antwoorde verrassend: “Ek wil graag soos Hy wees”, “Ek het Jesus lief”. En dit aan ‘n universiteit waar anti-Christelike lewenshoudings die in-ding geword het!

Totaal anders was die reaksie toe hy dieselfde groep gevra het waaraan dink hulle as hulle die woord “Christen” of “Kerk” hoor! Antwoorde soos die volgende is gehoor:

  • Die kerk maak ‘n gemors van alles
  • Die kerk het die leringe van Jesus omskep in ‘n klomp dogmatiese reëls
  • Christene pas nie die liefde van Jesus in hul lewens toe nie
  • Ek hou van jou Jesus, maar ek hou niks van julle Christene nie. 

Blaai jy deur die dagblaaie en die briewekolomme, dan ervaar jy mense se teenkanting en negatiwiteit  teenoor die kerk. Die kerk spreek baie mense net nie meer aan nie. Die kerk begin sy geloofskrag verloor. Wat het hiertoe gelei? Waaraan sal die kerk aandag moet gee met die oog op die opkomende geslag? Wat gaan ons vir hulle nalaat?

Ek nooi jou uit om saam te besin oor hierdie belangrike saak. Jou mening is vir ons waardevol! Ons wil nie met die wêreld konformeer nie, maar ons wil kyk na ons strukture, ons bediening, ons manier van in-die-wêreld wees. Ons wil Jesus meer en meer ontdek en vir Hom leef!

 

Views: 137

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service