PvR Gemeenskapskerk

Dis so 'n wonderlike voorreg om te kan studeer, en veral hier in die hartland van ons geloofswortels, maar al hierdie stoelsittery is nie goed vir my gesondheid nie! So ek besluit toe ek moet 'n slag 'n lang harde oefenrit met die fiets aanpak. Arnhem is 'n stad so 25km noord van NIjmegen. Soort van Nijmegen se "celebrity" ouboet. 'n Beroemde stad met hordes kultuurskatte. Onder andere is die bekende veldslag in die tweede wereldoorlog wat in die film "A bridge too far" uitgebeeld is, is daar beslis.

Toe my geleende fiets opgesaal en die pad gevat. Eerste stop by die toeriste inligting vir 'n kaart van die "fietsroutenetwerk" in die omgewing. Verassing! Die hele omgewing is deurtrek van fietspaadjies, almal genommer en gekaart. Noudat ek weet ek sal nie wegraak nie, saal ek op en vat die langpad.

Eerste landmerk, die beroemde "snelbinder". Dis ook die naam van die rekke wat jy gebruik om pakkies op jou fiets se drarak vas te maak, maar in hierdie geval is dit 'n brug. Die fietsbrug is "aangeplak" aan die groot treinbrug oor die Waalrivier en is die kortpad (snelbinder) in die stad in en uit. Net fietse en "brommers" (scooters) mag daarop.

Aan die anderkant van die rivier is die eerste klein dorpie, Lent. Die fietspad kronkel (baie goed gemerk) deur die dorpie met sy pophuis-hollandse huisies en net deur die dorp draai dit weg bo-op die Waaldyk teenaan die Bemmelsche Gentsche en Ooijrijksche Polder.

Die landskap is grasgroen met die eerste baldadige blare wat die begin van die lente aankondig
Ek volg die polderpad tot in die volgende dorpie, Bemmel. Lekker naam of wat! Weereens kronkel die pad deur die dorpie en so is die opeenvolging van dorpies, plasies en groen grasvelde die afwisseling van die rit.
Die pad is plat en glad (mooi fietspaaie die) en die natuurskoon en omgewing mooi en interressant.

By Lingewaard so paar kilometer aan is daar 'n klein kapelletjie, die Maria Kapel. Sommer so aan die kant van die pad, tussen die landerye. Die wereld hier is sterk Rooms Katoliek met die Protestante meer na die noorde van Nederland. Ou, bittere geskiedenis hier.

Na Lingewaard kom Huisen en dan is ek teenaan die Neder-Rijn rivier. Ek kruis die beroemde/berugte brug waaroor die dorp inry en wonder oor die oorlog en miljoene lewens wat gelaat is vir grond, nasietrots en persoonlike ambisie.

Arnhem se "binnenstad" is pragtig uiteengesit,met die tipiese nou straatjies en klein winkeltjies. So anders as die mega-molle in Suid-Afrika. Byna die hele "binnenstad" moes oorgebou word na die oorlog in 1945. Alles is so-by-so vernietig in die "Slag van Arnhem". Dis vreemd om skaars 50 jaar later te wandel deur 'n area wat volledig herbou is van totale vernietiging. Ons mense se aanpasbaarheid!

In die middel van Arnhem is die besonder indrukwekkende St Eusebius kerkgebou. 'n fantastiese toring wat oor die stad troon (ongelukkig nou toegedek in steierwerke vir restorasie). Die eerste stene is geplaas in 1452, lank voor ons Jan in Suid-Afrika geland het. Die kerk is byna totaal vernietig tydens die Arnhem veldslag en is totaal herbou en restoreer daarna.

Tans word dit gebruik as 'n konsertsaal (met 'n kroeg!) en ek moet bely die akoestiek is fantasties! 'n Vinnige ete en drinke in Arnhem kom ten einde en ek draai my fiets se voorwiel terug in die rigting van Nijmegen.

Die fietsroetes verstom my steeds. Netjiese bordjies, puntnommers en aanwysings laat my sorgeloos en lekker vinnig ry. 

Die pad maak by "Grote Griet" 'n draai weg van die rivier af en kronkel langs die "Plassen" terug na Nijmegen. Die watermere het ontstaan aan die einde van die vorige ystydperk toe die gletsers gesmelt het en teruggetrek het na die noorde. Nou vorm dit 'n pragtige waterryke area wat hierdie 'n pragtige landstreek maak.

Uiteindelik begin die "Snelbinder" se boog weer op my horison verskyn en ek begin die tamheid in lyf voel. Dis lekker om op 'n ander manier moeg te wees as die dink-moeg van die studiewerk en ek sien uit na die afklimslag. 

'n Wonderlike dag uit en ek besef dat daar 'n paar diep gedagtes losgekom het in die ervaring

  • 'n Fiets is 'n wonderlike ding. Vir my simboliseer dit die vryheid van my kinderdae toe ek vir ure op my fiets die dorp in kon vaar en vir 'n tydjie kon wegkom van alles en almal. Dis goeie oefening en 'n wonderlike manier om die omgewing te verken. Ek het al in Los Angeles, Orca's, Seattle, Chicago en nou hier sulke langs fietsritte gedoen en 'n totale ander perspektief op die omgewing gekry. 'n Fiets is altyd reg om te gaan, hy gee terug net wat jy in hom deponeer maar hy bied 'n heerlike vryheid. Heil, die fiets!
  • Oorlog is 'n nare ding. Dit breek gemeenskappe en laat wonde wat oor eeue heen nie gesond word nie. DIe landskap hier is deurtrek van die veldslae en konflikte tussen stamme, lande en godsdienste. Dit het 'n ewige letsel gelaat. Ek en jy leef ook soms in oorlog, maar dis meesal emosionele en geestelike oorlog. Dis 'n geheime oorlog, of 'n koue oorlog. Maar die letsels is dieselfde. Geen wonder Jesus het geleer: "Salig is die Vredemakers". Ek gaan minder veg en meer bou. Bou verander en vernuwe en verdring uiteindelik die negatiewe.
  • Mense word ook tog gesond. Ten spyte van die verskriklike letsels van oorlog is hierdie gemeenskappe vandag groeiende, welvarende en gelukkige gemeenskappe. Ons pas aan en groei. Ons dink nuut en anders. 'n Paar honderd jaar terug het die katolieke en protestante mekaar hier uitgemoor. Vandag werk hulle saam om die voorbestaan van die evangelie hier te verseker. Jesus is die enigste Vredemaker wat standhoudend kan vrede bring.
  • Ek was nooit alleen op die pad nie. Daar is konstant medefietsers, stappers en buitelug entoesiaste hier. Hierdie mense het 'n lae persentasie oorgewig en is en lyk gesond. Hulle is volledig eerste wereld, maar het 'n waarde van werk, buitelewe en oefening. Dis iets wat ek mis by my mense, die Afrikaners. Dis iets wat ons kan leer. 'n Tjoppie en 'n stappie maak die verskil!
  • In ons hoogs ontwikkelde gemeenskappe kom mense heel goed reg sonder Jesus. Skokkend? Natuurlik, maar dis ook hoe dit is. Hier is soveel geld en geriewe dat hier nie 'n groot versugting is na die Verlosser nie. Wat bied Hy wat ons nie reeds het nie? Inteendeel, as ons Hom volg moet ons dalk een of twee dinge prysgee. Watwou! Probleem is, die lewe se vrae betrap ons onverhoeds, sonder waarskuwing en as jy nie 'n verhouding met die "Outeur van die lewe" het nie, het jou verhaal 'n doodstomp einde. Sin en betekenis is nie te vinde in sukses nie. So hier is 'n hunkering, na iets meer as die ter plaatse.... maar die kerk se manier van wees die afgelope eeue het mense hier vervreem van God en Sy Seun. Mense het 'n weersin in kerk as agent van godsdiens. Hoe maklik gebeur dit nie dat my godsdiens mense van my Verlosser vervreem. Dalk is dit 'n goeie vraag om verder mee te reis. Leef ek Jesus, of 'n tradisie/gebruik/godsdiens? 

Godsdiens is soos 'n fiets. Hy beteken niks as hy nie 'n begeesterde fietsryer op hom het met 'n heerlike bestemming en 'n wonderlike roete nie. Kom ons wees reisigers wat nie net vashou aan 'n fiets nie, maar wat die Here Jesus toelaat om ons te be-Geester met sy Missie, sodat ons in beweging kan kom. Saam met Sy koninkryk wat kom. 

Views: 145

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service