PvR Gemeenskapskerk

Liewe Kind van God,
Ek noem jou sommer so, eerstens omdat ek nie jou naam weet nie, en tweedens omdat ek jou elke Sondag voor my in die kerk sien, arms omhoog, terwyl jy God dien.

Ek wil egter graag iets van my hart af kry… Meer as ‘n jaar gelede, het ek deur ‘n rowwe tyd gegaan: My man is met kanker gediagnoseer, hy was baie siek, ‘n veloorplanting het gevolg, ‘n week daarna was my Mammie, vir wie ek oneindig lief is, baie, baie siek en moes ook sy ‘n opersie ondergaan.

Ek het so bietjie wegbeweeg van God. Dit was maklik om God te blameer, want ek wou my seer op iemand anders oordra, maar op wie?

My Mammie het herstel, in so ‘n mate dat ek haar kon uitneem na ‘n konsert toe vir haar 60ste verjaarsdag. Dit was ‘n ongelooflike groot oomblik vir my, en ek het weke voor die tyd die kaartjies gaan koop, omdat sy so gek oor Bobby is. Ons het maar sukkel-sukkel beweeg met Mammie wat nog seer gehad het, en uiteindelik ons plekkie in die lieflike groot saal gekry. Jy en jou man is dieselfde plekke toegeken as ons. Ek het mooi gesê: “Ek sal gou by Barbara uitvind waar die probleem is”. Dit, terwyl ek weet dit is moeilik vir Mammie om so lank te staan, maar dit was immers my geskenk aan haar.

Liewe Mens, onthou jy dalk hoe jy my “aangeval” het? Onthou jy dat jy jou stem verhef het, en byna-byna geskreeu het dat dit JOU sitplek was en dat jy NIE sal skuif nie. Ek was verstom – ek het nooit verwag dat jy/ julle moet skuif nie. Jou man was ook dadelik deel van die gesprek en het bygevoeg dat al julle kinders en hulle maats voor julle sit en julle NIE SAL SKUIF nie.

Die volgende oggend toe ek kerk toe gaan, staan julle beide, met julle seuns, en loof en prys die Here, en ek wonder: “Is dit dieselfde mense wat gisteraand byna my kop afgebyt het oor ‘n simpel sitplek?”
Ek dink wat ek eintlik net wil vra/ sê, is dit: Ek probeer dit nou agter my sit, want julle optrede het vir meer as ‘n jaar my vrymoedigheid om te loof en te prys gesteel. Elke Sondag as ek julle sien, het ek gedink: “Hoe is hierdie mense, en die mense wat by die konsert was, dieselfde mense?”
Ek het begin dink aan hierdie brief toe daar vroeër vanjaar gepreek is dat ons saam in die kerk sit, maar dat sommige mense sit met ‘n ongemaklikheid oor die persoon wat langs hom sit; agter hom sit.
Ek weet nie of die insident dalk net ‘n geisoleerde insident was nie, of julle dalk ‘n slegte dag/ aand gehad het nie? Ek hoop so? Indien nie, hoop ek dat julle hierdeur sal besef dat elkeen van ons rondloop met ‘n eina, en dat ‘n sagte woord en begrip dinge soveel anders/ makliker vir iemand anders kan maak. Die aand wat jy/ julle so “driftig” was met my, het ek gewag op uitslae van my man se kanker, het ons nie geweet of my ma se operasie ‘n sukses was nie, en het ek deur ‘n geweldige moeilike tyd gegaan.

Dalk het jy ook ‘n groot eina wat jy in jou ronddra, en daarom glo jy in die “aanval is die beste verdediging” metode. Ek hoop jou seer word beter.
Liefde,
Nog ‘n Kind van God.

Views: 95

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Jan Venter op 22 Maart 2012 om 10:58

Dankie Anel, vir 'n mooi sagte nadenke oor 'n slegte ervaring. Ons die "kinders van God" leef maar so saam met ons eelte en growwe stukke saam terwyl Jesus besig is om af te skaaf en blink te vryf. Dankie vir jou voorbeeld van vergifnis vir ander se swakhede. Nou is die uitdaging om jou vergifnis "in die regte lewe" deur te voer met 'n vriendelike woord, en 'n egte glimlag. Dis die moeilker deel, maar dis hoe ons Jesus volg. Sterkte!

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service