PvR Gemeenskapskerk

Lydenstyd - Tyd van verdieping, verootmoediging en dankbaarheid

Die seisoene van die  "kerklike jaar" het deur die eeue ontwikkel met 'n baie spesifieke ritme en inhoud. Dit help ons as volgelinge van Jesus om deur die loop van die jaar bewus te bly van Sy teenwoordigheid en verlossingswerk ins ons lewe.

Die "kerklike jaar begin met Advent, wat gewoonlik die vier Sondae voor Kersdag plaasvind. Dit is die tyd waarin ons spesifiek fokus en voorberei op die fees van Christus se koms na die wêreld en sy geboorte. Kersdag is die hoogtepunt van hierdie tyd, waarna die "12 dae van Kersfees" volg. Dit duur gewoonlik so tot die eerste Sondag in Januarie. Die eerste Sondag in Januarie en die tyd daarna staan bekend as "Epifanie". Epifanie is die tyd waarin ons die besoek van die wyse manne aan die pasgebore Jesus herdenk. Met hulle besoek en koninklike geskenke het hulle Jesus "uitgewys" en het hy "verskyn" (die betekenis van die woord epifanie) as die Seun van God.

Die volgende seisoen van die kerklike jaar is Lydenstyd. In hierdie tyd dink ons aan Christus se lyding en sterwe om vir ons verlossing te bewerk. Lydenstyd begin met "As Woensdag" wat 46 dae voor Paasfees plaasvind. Die datum verskuif elke jaar, en val hierdie jaar op 9 Maart. Hierdie is 'n dag van bekering en verootmoediging, en gelowiges deur die eeue het die dag gebruik om met as kruise op hulle voorkop te trek as teken van oorgawe aan die Here.

Na hierdie dag is daar 7 Sondae wat bekend staan as die Lydensweke/Lydens Sondae. Op hierdie Sondae fokus ons op Christus se lyding en die betekenis daarvan vir ons. Dit loop deur tot die Sondag voor Paasfees. Die week voor Paasfees staan bekend as "Heilige week" waarin elke dag 'n besondere betekenis het. So is daar "wit/heilige Donderdag" wat die laaste maaltyd van Jesus met die dissipels herdenk. Goeie Vrydag is die herdenking van die kruisiging en sterwe van Christus en dan is daar natuurlik die grote, Paassondag, wat die opstanding van Christus uit die dood herdenk. Dit is ons eintlike "groot" feesdag van die kerklike jaar.

40 dae na Paasoggend vier ons Hemelvaart en die Sondag daarna begin pinksterweek. Dit het 'n tradisie geword in Suid-Afrika veral na aanleiding van Andrew Murray en herdenk die dissipels se "eendragtige" volharding in gebed gedurende die tyd na Jesus se opstanding. Pinksterweek loop uit op Pinkster Sondag wat die uitstortng va ndie Heilige Gees herdenk.

Die tyd na Pinkster staan bekend as "gewone of koninkrykstyd" en daar fokus ons veral op die bediening en lewe van Christus, voor ons weer by Advent in November aansluit.

So, uitgenooi is jy dan, om hierdie jaar deel te wees van die ritme en veral nou dat Lydenstyd begin met As Woensdag op 9 Maart. Vrede en vreugde vir 'n dieper ervaring van Jesus in die tyd!

Views: 1845

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service