PvR Gemeenskapskerk

Maak ons goeie wyn, of verkoop ons gewilde wyn?

Onlangs lees ek 'n opmerking van Hein Koegelenberg wat my baie diep laat nadink het. Hein is 'n sakeman met verskeie belange, maar het veral 'n passie vir wyn, wat hy uitleef op hulle wynlandgoed, La Motte, in die Wes-Kaap. La Motte is 'n gewilde bestemming vir veral hoëprofiel buitelandse besoekers aan die land en is bekend vir die uiters goeie kwaliteit wyn wat daar geskep word.

Die gedagtes van Hein wat my oog gevang het gaan oor, te verwagte, wyn. Hy verwys op sy "blog" na 'n artikel in die "Bloomberg" tydskrif wat vertel van die interressante gebeure wat afspeel rondom die vertrek van 'n groot gees in die wynwêreld, en sy opvolger.

In die wêreld van internasionale wyn-fynproewers is baie min meer invloedryk as Robert Parker. Die 63 jarige fynproewer se tydskrif "Wine Advocate" is reeds baie jare 'n gesaghebbende bron vir diegene wat op soek is na goeie wyn. 'n Goeie resensie vir jou wyn in die tydskrif het  byna verseker dat dit fluks verkoop en baie gewild is. Veral die wynmakers in Kalifornie het deur die jare baie afhanklik geword van die heer Parker se ondersteuning van hulle produk.

Onlangs het Parker begin om van sy werk uit te deel (die jare stap ook aan) en onder andere het hy aangedui dat ene Roberto Gallioni gaan begin skryf oor die Kaliforniese wynbedryf. Hy het sedert 2006 vir die tydskrif geskryf oor Italiaanse wyn (hy is dus ook 'n kenner), maar is nie bekend tussen die Kaliforniese wynmakers nie. En net hier, is daar 'n ligte opskudding.

Want sien, vir baie jare reeds maak die Kaliforniese wynmakers hulle wyn vir Robert Parker se smaak. Hulle het geleer waarvan hy hou en wat hy hoog aanslaan, en dus, vir 'n goeie waardering in sy tydskrif (en goeie verkope), voila!, 'n wyn wat hy goed sal resenseer, omdat dit sy smaak geval. Die nuwe man is onbekend en hulle ken nie sy smaak nie, so watter tipe wyn maak ons nou?

Een van die wynmakers Ursula Hermacinski laat haarself so uit oor die situasie: "We've talked about this for years—what would happen, God forbid, if Bob got hit by a bus? Would the wine industry come to a complete halt?"

Dis op 'n manier 'n lagwekkende situasie en op 'n ander manier 'n fiansiële krisis. Wat my egter tref is dat dit ook 'n integriteitskrisis is. Hoe kan dit wees dat die wonderlike kuns van wynmaak verlaag word tot die vlak waar honderde wynmakers hulle fokus verskuif van die maak van 'n wonderlike wyn, na 'n wyn wat die smaak pas van 'n persoon, sodat ons die geldkoffers kan vul. Dis nou maar eenmaal besigheid, maar dis op 'n manier so .... eintlik teleurstellend.

Dit sit my toe aan die dink oor Jesus. Nie net omdat hy water in baie goeie wyn verander het nie. Maar die manier hoe ons geneig is om sy wonderlike evangelie "af te water" na 'n tweedehandse produk vir die smaak van wie ookal op 'n gegewe stadium daarna luister. In plaas daarvan om Hom met volle oorgawe te dien en te volg, is ons op 'n manier heeltyd besig om Hom te verwater, nie net om te pas by ons behoeftes nie, maar ook by die verwagtinge en grille van die mense om ons.

Ek vra myself die vraag af hoe ek as predikant dieselfde doen in my bediening en die evangelie aanpas, vir gewildheid, luiheid, liefdeloosheid, besigheid of watter rede ookal. Hoe ek eerder soms kies om "nuwe wyn vir smaak" te skep as om die egte onoortreflike unieke kultivar van Christus op Sy beste na vore te laat kom.

Want jy sien, ek weet dat dit soms in 'n obskure kelder is, waar 'n naamlose wynmaker met passie in sy oë en sy stem aan jou 'n wyn uitsit om te proe. Hy kom sommer uit die skuur uit en vee sy hande af en pak die glase uit en sit 'n onbekende wyn voor jou neer op 'n vat, met amper heilige ontsag. 'n Mens tel daardie glas op met gemengde gevoelens en onsekerheid, terwyl jy sien hoe die gekreukelde wynmaker jou intens dophou, om jou reaksie te sien.

Ek weet ook dat dit dan gebeur dat daardie wyn jou tong tref en jou asem wegslaan, en die wynmaker breed glimlag van diep vreugde. Want hy weet. En nou weet jy ook. Ek weet dit, want dit het met my gebeur by 'n klein kelder buite Stellenbosch.

Wat ek veral weet, is dat dit ook die effek is van die onvervalste, outentieke Christus. Wanneer ek en jy Hom volg, op Sy terme. Wanneer ons Hom verkondig en leer ken, soos Hy is en nie soos ons wil hê Hy moet wees nie. Wanneer ons Hom aanbid in Gees en in Waarheid. Wanneer Hy die Here van ons lewe word.

Dan is Hy asemrowend.

Dan is Hy die Christus.

Dan is Hy die ware wynstok ... en ons die lote

Views: 59

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Ferdie Mulder op 23 Mei 2011 om 13:48
Sjoe Jan, pragtig gese. Johan Fourie van Tzaneen het oor die ware wynstok 'n goeie proefskrif geskryf hier in Nijmegen. Ek dink julle sal van mekaar hou...
Kommentaar deur Chris Homan op 12 Mei 2011 om 5:55
Dankie Here dat ons u lote kan wees. Help ons om vrugbare lote te wees wat goeie vrugte dra.

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service