PvR Geloofsfamilie

Wat 'n voorreg om hierdie diens te lei in die gesellie.

Dit is effens intimiderend ook, as ek dink aan al gister se stories van ons studentepredikante se (soms harige) ervarings hier!

Ek het maar ook my eie vreemde ervaring of twee hier gehad.

Hoe dit ookal sy, dit bly 'n voorreg. 

Gister, terwyl ek met heimwee (ook dankbaarheid) luister na die kostelike stories uit die verskillende dekades, kom die woorde van Lucas Maree se lied "Kiekies" by my op. Dit som op 'n manier my belewenis op.

Hier is dit...

Kiekies - Lucas Maree

My kiekies is verwysings, 
my lewensinventaris,
die ensiklopedie van my bestaan

My kiekies is bewyse
van die feit dat ek ook daar was,
'n prentjiekommentaar 
wat my beaam

Daar's komedie in my kiekies,
'n skaterlag betraan
deur die afstand tussen destyds
en vanaand.

Daar is ritme in my kiekies
'n patroon wat hom herhaal;
in die kom en gaan en wegbly 
van gesigte.

Ek verdwaal deesdae so dikwels
deur die blaaie van my boek;
die sleutel van my hart onder stof

In my pelgrimstog na gister
blaai my wisselslag gemoed
deur die ou bekende name 
in my boek

My kiekies bring vertroosting
As die toekoms my kom soek
in my halfgeboude droomkasteel vanaand

Daar's net een probleem met kiekies
en die gom van plakboekhoekies 
die gapings tussen kiekies
maak my bang... 

Raak en treffende woorde wat iets van die Reünie vasvat.

In ons gesprekke gister het ons juis stilgeword by die wat ons vooruitgegaan het. Ook stilweg gewonder oor die herrineringe wat so plek-plek dof raak met die aanstap van die tyd.

My eie gedagtes het vêr teruggedwaal, na my Mal-Huis dae en ek het gewonder: Wat vorm 'n mens? Wat/wie maak my en jou wat ek/ons is? Hoe het ons geword wie ons vandag is?

My nadenke het my by ten minste drie maniere waarop ons gevorm word gebring.  Die eerste is... 

Plek:

Uit 'n vinnige blaai deur die Woord, is dit duidelik dat "plek" 'n belangrike rol gespeel het in die Bybelmense se vorming. God gebruik "plek" om ons te slyp en af te rond

Dink maar aan Abraham se Ur, Haran en Mamre. Moses se riete, paleis en woestyn. Josef en die put, Potifar se huis, tronk en uiteindelik piramides. Dawid se reis van veld na veldslag, paleis, spelonk en die 'dak' wat hom pynlik gevorm het. Ons sien vir Paulus in Damaskus, Jerusalem, al die gemeentes en uiteindelik in Rome. Dan natuurlik Jesus, in  Betlehem, Egipte, Galilea, Betanië, Jerusalem, Getsemané en uiteindelik Golgota. Elke plek het sy onuitwisbare indruk gelaat!

Dit is een van die (dieper) redes waarom ons hier is vir die Reünie.

Hierdie is ons plek. 'n Plek waarnatoe God ons gevat het, en gevorm het.

Elke vierkante meter van hierdie plek het ook onuitwisbare indrukke op my en jou gemaak. Sluipersgang, Middelgang, Hillbrow, Drosdy, Dronkspelonk, Ottertonnel. Gesellies, vierkant, teekan, yskoue badkamers, waskamers, volleybaan, ja tot die sypaadjies (al was dit met Inters teen die bure). Die voorportaaltrap, telefoonhokkies, kuilvoertoring, eetsaal. Soos ek in die gees deur ons plek stap is daar orals waar ek stop 'n kiekie (of meer).

'n Plek is nie net dekor nie. Ek is dankbaar gevorm deur hierdie plek. Soos baie ander.

Maar daar is nog 'n manier waarop ons gevorm word.

Deur ons Pelle.

Die gesigte op die kiekies is meer as net "ekstras." Dis hartsmense, stukke en brokke van ons eie stories.

Dit was nie anders met die mense in die Woord nie! Dink maar aan Abraham en Lot; Moses en Aaron; Josef, sy broers en 'n Koning; Dawid en Jonathan; Paulus en Barnabas. Dink aan Jesus, Johannes, Betanië en die dissipels

Wat maak ons hier? Wel, ons soek ons pelle op. Hulle wat stukke van hulleself afgebreek en in ons lewens ingemessel het in die tyd wat ons saamgeloop het. 

Letterlik nie een van die stories van Saterdag was 'n "ek" storie nie. Almal, elke laaste skaterlag staaltjie, was 'n ONS storie. Want dis hoe ons gevorm is hier. Saam-saam. Dit is hoe ek word en groei. Saam met en voor die oë van ander.

Selfs die "anti-pelle," die wat in ons karakter ingeklim het, of ons bloed laat kook het, is deel van hierdie vormgewing.

Ons is hier om die gesigte op ons kiekies te vier! Dankie manne van die Huis, van toeka tot nou. Julle was deel van my mensword en manword.

Maar agter al die vorming en mensword, is die Een wie se kunstige vingers die werk doen;

Die Pottebakker:

Plekke en Pelle is maar net materiaal in Sy genadige hande. Die Woord is vol van hierdie metafoor van God se onderhoudingswerk in ons lewe.

Lees hierdie Skrifgedeeltes ....

U is ons vader, Here, ons is klei en U het ons gevorm, ons is almal die werk van u hande. (‭JESAJA‬ ‭64‬:‭8‬ AFR83)

Toe kom die woord van die Here tot my: Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel. (‭JEREMIA‬ ‭18‬:‭5-6‬ AFR83)

Die pottebakker kan mos met sy klei maak wat hy wil. Uit dieselfde stuk klei kan hy iets maak waaroor hy baie bly is, en ook iets waarvan hy net mooi niks hou nie. (‭Romeine‬ ‭9‬:‭21‬ DB)

En die woord van Paulus in 2 Korinthiërs 4:7-15
Al is God by my, is ek maar net ’n doodgewone mens. Ek is soos ’n breekbare kleipot. Die lewe stamp my ook maar goed rond. Tog dra ek ’n baie waardevolle skat hier binne-in my rond. Daarom moet julle weet dat die groot krag van God wat deur my werk, glad nie uit my kom nie. Inteendeel:Ek kry dikwels swaar, maar ek is nooit mismoedig nie. Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie. Tog is ek nooit radeloos nie. Ek word vervolg, maar ek weet God los my nooit alleen nie. Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op.Net soos Jesus gely het toe Hy op aarde was, ly ek ook. Die merktekens daarvan is oral aan my lyf te sien. Ja, in my eie liggaam dra ek Christus se lyding en dood heeltyd met my saam. Tog is die groot krag van Jesus ook deur my liggaam aan die werk.


Ek en jy is Sy werk. Met Plek en Pel vorm die kunstige vingers aan ons menswees.

Hy is voortdurend besig. Nooit is ons uit Sy hande nie. Deur ons mislukkings, ongehoorsaamheid, Sukses, boosheid, heiligheid, vreugde, hartseer en pyn. Die liefdevolle hande weet dat die stuk klei soms toevou of vorm verloor. Hy weet dat dit soms nodig is om weer te begin. Die kunstige, modderige vingers is altyd maar besig. So was dit in my en jou Malhuis tyd. So is dit, en so sal dit wees.


Hierdie plek en hierdie pelle is die handewerk van die Pottebakker.

Ons lewe in kiekies... In 'n opeenvolging van plekke en pelle. So is my huwelik, gesin, huis, vakansieplek, dorp, woonbuurt, kuierplek en wat anders ookal, die plekke van my lewe. gevul met pelle. Gevorm deur die Hande.

Die dieper rede vir ons saamwees hierdie naweek is doodgewoon DANKIE. Dankie vir hierdie handewerk. Dankie vir dié plek en hierdie pelle ... en daardie Hande. 

'n Amerikaanse vriend van my, Leonard Sweet, sê in die afgelope week die volgende: "We need to tell a bigger story with our life than the story of ourselves. Your story is too small if it only tells your story." Dis lekker om deel te wees van 'n ONS verhaal. 

Ek sien uit daarna om die volgende stuk saam met jou te reis na daardie Plek waarvan Coenie de Villiers sing, as hy sê: "Daar's 'n plek waar ons van weet. Sonder sorge sonder pyn en sonder leed.Die pad daarheen is ongekaart. Die reis daarheen is sonder vaart, en daar is rusplek langs die pad." 

As ons mekaar nie weer hier sien nie, vertrou ek dat ek en jy om daardie Teekan sal kan sit en die vreugde van ons saamstap opnuut en ewig vier.

Daniël Francois Malherbe word gereken as die skrywer wat die eerste bona fide roman (as literêre werk) in Afrikaans gelewer het. Die titel van hierdie werk was "Vergeet Niet"

Laat dit ons leuse wees.

Amen 

Views: 421

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Geloofsfamilie om kommentaar te lewer!

Join PvR Geloofsfamilie

Nuusflitse

Die Vleiskombuis sal weer in Januarie bestellings neem.

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2018   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service