PvR Gemeenskapskerk

  • Tydens ‘n onlangse misdaadkonferensie het afgevaardigdes verneem dat ‘n gemiddeld van 5 kinders per dag uit Suid-Afrika ontvoer word.
  • ‘n Paar weke gelede is daar in die Skiereiland toegeslaan op ‘n aantal Nigeriërs wat na bewering geboortesertifikate vervals het.
  • Volgens ‘n TV-nuusberig op 2 Junie 2011, het die polisie in Aba, Nigerië, op ‘n huis toegeslaan waar dogters tussen die ouderdomme 15 en 17 jaar aangehou en gedwing is om babas te hê om op die mensehandel-mark verkoop te word. Altesaam 32 swanger dogters is hier bevry.

Die vraag is: wat sê hierdie gegewens vir ons? Moet ons paniekerig raak hieroor? Allermins. Maar kom ons wees bedag en beskerm ons kinders teen hierdie gevaar. Laat ons tog nooit naïef wees en dink dat so-iets ons kinders nooit sal oorkom nie. Die volgende wenke kan behulpsaam wees in hierdie opsig:

  • Indien jou kind vermis word, kontak onmiddelik die naaste polisiekantoor en meld dit daar aan. Vandaar sal besonderhede landwyd versprei word.
  • Lig jou kind gereeld in oor hierdie gevaar, maar moet tog nie dat hulle gedurig in vrees lewe nie!
  • Luister na jou kind as hy/sy jou iets in hierdie verband wil vertel.
  • Kinders wat alleen by die huis is, moet NOOIT die voordeur antwoord indien iemand klop nie – selfs al is dit ‘n bekende persoon – statistiek bewys dat dit in 75% gevalle bekende persone is wat kinders molesteer/ontvoer.
  • Indien jou kind alleen by die huis is en iemand skakel, moet hy/sy nooit sê dat die ouers nie tuis is nie – sê net hulle is besig en kan nie nou die telefoon beantwoord nie.
  • Moet ook nooit persoonlike besonderhede, adresse, telefoonnommers, ens. oor die telefoon aan onbekende persone verstrek nie.
  • Gee jou kind die kontakbesonderhede van bure sodat hy/sy hulle kan skakel in geval van nood.
  • Ouers moet seker maak dat hulle ALTYD GEKONTAK kan word indien hulle kind alleen by die huis is.
  • Kinders moet hul eie adres en ouers se kontaknommers ken.
  • Spreek met jou kind af waar julle mekaar sal ontmoet indien een van julle mekaar weens onvoorsiene omstandighede nie kan opspoor nie.
  • Wees asseblief ingelig waar jou kind hom/haar bevind!
  •  Moenie jou kind alleen laat in ‘n motor, stootwaentjie of winkeltrollie nie.
  • Vergesel jou kind altyd na ‘n openbare toilet.
  • Leer jou kind om nie saamrygeleenthede en geskenke van vreemdelinge te aanvaar nie.
  • Leer jou kind om altyd in ‘n groep te beweeg, veral op skooluitstappies of in groot winkelsentrums.
  • Ken en leer saam met jou kind die wêreld van die moderne tegnologie (facebook, mixit, internet, twitter, ens). Kinders word maklik met behulp hiervan “uitgelok”.
  • Leer jou kind om jou te alle tye in te lig waar hy/sy gaan.
  • Kinders moet nooit ‘n vreemdeling in die erf toelaat as hy/sy alleen is nie.
  •  Kinders moet stil kortpaaie te alle tye vermy en nie aleen by ‘n afgeleë parkie/speelterrein speel nie.
  • Lig jou kind in om na die naaste betaalpunt en/of winkelassistent te gaan indien hy/sy in ‘n winkel verdwaal het.
  • Indien’n motor jou kind volg of ongemaklik stadig langs hom/haar ry, moet hy/sy onmiddellik weghardloop na die naaste plek waar daar mense is.
  • Moet nooit wegkruip in ‘n leë erf nie.
  • As iemand jou gryp en in ‘n voertuig of gebou wil inforseer, skree so hard jy kan en krap die persoon.
  • Indien ‘n skelm dit sou regkry om jou kind te ontvoer, moet hy/sy die volgende doen sodat die Polisie hom/haar kan opspoor:
    • Trek hare uit en druk dit tussen die sitplekke in.
    • Maak seker dat jou vingerafdrukke oral in die motor sigbaar en leesbaar is.
    • Skop jou toon stukkend, of doen enigiets sodat daar bloed in die motor is.
    • Kou jou naels af en druk dit tussen die motor se sitplekke in.

Hierdie is maar net van die belangrikste wenke wat ons graag deurgee. Kom ons beskerm ons kinders en help mekaar hierin. Weet jy waar is jou kind terwyl jy nou hier lees? Ons kinders is die kosbaarste wat ons het! Kyk tog mooi na jou kind!


Views: 499

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service