PvR Gemeenskapskerk

'n Ander lewe .... as volgeling van Jesus

Dinsdag oggend heel vroeg (in die yskoue oggend) is ek met die fiets af stasie toe. Fietse is die vervoermiddel van keuse hier in Nederland, veral omdat dit so plat is. Maar terug by die storie. Ons is oppad na 'n (veral teologies) beroemde dorp, met die naam van Kampen. Dis so ent noord van Amsterdam aan die die Ijsselmeer.

Ons het die dag die voorreg om saam met predikante, dosente en studente van die "Teologische Universiteit" in twee werksessie te wees. Een 'n "gastcollege" (Gaslesing) aangebied deur Alan Hirsch en een 'n "Symposium" waar Alan aanbied saam met Robert Doornenbal (!).

So, min weet ek wat om te verwag van die twee "hogere" gesprekke. Heimlik hoop ek maar niemand druk my vas en vra my 'n paar moeilike vrae nie.

Maar, verassend, soos die Here altyd met my werk, is die hoogtepunt van die dag nie die twee sessies nie, maar die gesprek op die trein, oppad na Kampen.

Ek sit saam met Christo Benade en Alan Hirsch op die trein. Christo is een van die predikante van die SA Gemeente in London. 'n Vriendelike, aangename maar ook welbelese en weldeurdagte kollega. Alan, wel, is Alan. Oud joodse Suid-Afrikaner, nou verplante Aussie in die VSA. Hy woon in Los Angeles en is die skrywer van letterlik dosyne internasionale topverkopers oor kerkwees, soos Jesus bedoel het dit moet wees. Praat van 'n intimiderende geselskap!

Maar aangenaam verras is ek as ons aan die gesels raak op die amper twee uur lange treinrit. Verras deur die eenvoud, toewyding en passie van hierdie twee kollegas van my. Agter Christo se uitdagende gemeentewerk in London sit sy liefde vir Jesus en Sy mense. Sy positiwiteit is aansteeklik, selfs wanneer hy sy uitdagings met ons deel.

Alan se liefde vir en toewyding aan Jesus drup uit elke weldeurdagte woord. Sy passie vir kerkwees en navolging van Jesus is inspirerend. Ons gesels intens, en aanhoudend. Dit voel amper of die einde van die rit te vinnig nader kom. Ek word bewus van 'n konneksie met hierdie twee mense. Ek deel hulle passie vir Jesus, en sy geloofsfamilie. Maar ek besef opnuut. Ek moet reformeer. Skuif. Vernuwe.

Alan se eenvoudige opmerking ruk my. "If we are not making disciples, we are doing it wrong". Maak ek dissipels? Ek doen baie dinge. Ek sien baie mense. Ek organiseer baie byeenkomste en bied dit selfs aan. Ek bring die Woord. Baie.

Maar maak ek dissipels? Maak ons dissipels? Is dit die DNA van ons geloofsfamilie om mense "los te laat" om te lewe as volgelinge van Jesus? Maak ons bediening mense meer volwasse, onafhanklik, vry, effetief as Sy volgelinge? Of hou ons net in stand, wat daar is? Speel ek vir die pawiljoen, in plaas van vir die Afrigter? Moeilike vrae. Ongemaklike vrae. Maar dis vrae wat ek jou wil nooi om self te beantwoord en oor na te dink.

Behoort jy aan "'n Kerk", of IS jy kerk?

Kom jy "kerk toe" of laat jy Christus toe om "uit te stuur om Kerk te wees"?

Is Jesus jou lewe, of deel van jou lewenstyl?

Volg jy Jesus as dissipel, of verwag jy dat Hy jou sal help?

Is jy oorgegee aan Jesus, of het jy opgegee om te probeer om "christen" te wees?

Op reis na Kampen, neem Jesus my weereens op reis saam met Hom. Ek speel deur die afgelope paar maande se Woordbediening in ons geloofsfamilie. Ja, ons verkondig die regte boodskap. Maar hoor ons en julle dit? Beweeg ons, of maak ons net die regte bewegings?

In die "Symposium" het Alan die Nederlandse gehoor stil. Met sy skerp en weldeurdagte refleksie op leierskap. Maar veral met sy passie, volgelingskap en onuitblusbare entoesiasme. Vir Jesus en Sy kerk.

Ek nooi jou. Dink weer. Sien weer. Sien nuut. Sien anders. Sien die gemeenskap om jou, en Jesus wat daar werk. Hy het ons nie nodig nie. Maar Hy nooi ons om deel te wees van Sy beweging in die gemeenskap.

Ek wil. Ek gaan. Kom saam!

Nog fotos van Kampen op hierdie skakel

Views: 159

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Elmarie Van Wyk op 22 Maart 2012 om 12:01

Dankie Jan! So trek 'n "oppad wees" gesprek sonder trein, vliegtuig of vaartuig uit drie harte, oor 'n kontinent tot binne-in my hart! En wees verseker, hierdie trajek is nie die einde nie, hierdie wonder- woeker liefwees vir God en sy kerk is net hier aan die suidpunt van Moeder Afrika op nog 'n broeiplek. Ek gaan hierdie gesprek (asb.) by Saterdag se "Gestuur"-geleenthied net so gebruik?!

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service