PvR Gemeenskapskerk

Daar is soveel geleenthede waarin God ons op 'n sigbare manier kan aanraak. Een van daardie maniere is die natuur. Soms moet ons ver van die huis af wegkom om by die natuur uit te kom. Ek wil graag met julle een baie eenvoudige manier deel waarin God deur die natuur julle kan aanraak wat sommer in julle eie tuin of selfs nog beter in julle huis kan plaasvind. 'n Mens noem dit 'n Genade tuin (of Paasfees tuin, of Opstandings Tuin). Dit is so 'n eenvoudige idee wat werklik deur elkeen van ons aangepak kan word op groot of klein skaal. Mens kan dit so groot en gekompliseerd of so klein en eenvoudig as wat mens wil doen. Tog is dit 'n wonderlike manier om iets van God te beleef maar ook saam as familie tyd te spandeer.

Wat is die idee van 'n Genade Tuin?

Die idee is dat mens eerstens as vriende, of familie of geloofsfamilie saam die projek aanpak. Dit is 'n baie lekker projek vir ouers saam die kinders of selgroepe saam. Dit is belangrik dat almal saam praat oor die verskillende elemente wat hulle by hulle tuintjie insluit en hoekom. Dink na oor die verhaal van Jesus, lees die gedeeltes weer in die Bybel, bid saam en luister wat God wil sê. In kort vertel die Genade tuintjie die verhaal van Jesus en die gebeure rondom Paasfees. Daar 'n leë pot wat op sy kant gedraai en begrawe is om die graf voor te stel asook die kruis om ons aan die kruisiging te herinner. My tuintjie het ook boompies in om aan die tuin van Getsemane te herinner.

Maar daar is niks wat sê dat dit nie elemente van die res van die kerkjaar of simbole van julle lewe as gelowige kan insluit nie. Ek het daarom by my tuintjie plek gemaak vir water, om te herinner aan die Doop en die Lewende Water. Ek het ook 'n plekkie gelos sodat ek elemente kan verander. Op die foto is daar 'n kers om te herinner aan die Ware Lig in ons lewens, maar vanoggend tydens nagmaal was dit waar die Brood en Wyn gestaan het om te herinner aan die Liefdesmaal.

Hoe begin ons?

Dit hang absoluut af van wat julle as gesin of vriende kan of wil doen. Dink aan wat so 'n Genade tuintjie kan beteken vir julle gebeds tyd, julle verstaan of vertel van die gebeure van Jesus se dood en opstanding, asook die viering van lewe en gebeure in julle lewens nou. Dink aan waar julle hom kan sit waar hy vir julle daagliks sigbaar is en julle 'n oomblik kan neem om saam met God stil te word wanneer julle vir hom sorg of net weer dink oor die simbole.

Julle kan hom so groot of so klein maak as wat julle wil. Ek het 'n vlak pot van so 75cm in deursnee gebruik. Dit kan 'n klein glasbak wees wat julle in die kombuis kan hou of 'n hele hoek in julle tuin. Die wonderlike ding van Genade. Dit kom in soveel verskeidenheid van vorms. Elke tuintjie gaan anders lyk. Sommige mense gaan net vetplantjies plant, ander plantjies wat die skadu verkies, sommige gaan veelkleurige blomme insluit en ander gaan geen plantjies bevat nie. Maak net soos julle gelei voel. Kyk ook hoeveel julle van die tuin aanmekaar kan slaan met wat julle reeds by die huis het.

Hoe maak mens dan? 

Wat julle gaan benodig is die volgende: 

  • 'n Vlak pot of bak. Die grootte maak nie saak nie.
  • 'n Kleiner potjie wat skeef gaan lê of 'n klip met 'n gat in wat julle kan gebruik vir die graf.
  • Grond. Genoeg om die vlak pot te vul, plantjies in te plant en ook 'n lekker heuwel oor die "graf" te kan bou.
  • Plantjies indien julle so sou verkies. Maak net seker dat al die plantjies ewe veel son verkies en ewe veel water wil hê.
  • 'n Klip vir voor die Graf.
  • 'n Kruis. Maak een uit stokkies, spykers of stukkies hout.

Verder kan julle enige elemente bysit wat julle wil. Dink aan goed soos kerse as simbool van lig, fyn klippies wat net mooi is, teksgedeeltes wat spesiale betekenis het, vlinders of eiers wat nuwe lewe uitbeeld of geloofswoorde wat inspireer.

Geniet die tyd in die natuur en saam met mekaar. My ervaring was dat die Genade tuin vir my baie geleer het, baie terapeuties was en daagliks op 'n kosbare manier my aanmoedig en aanspoor. Onthou ook elke keer as jy daarna kyk dat:

  • Dit is 'n HERINNERING aan die prys wat Jesus op die kruis vir elkeen van ons betaal het! Hy het duur betaal sodat elkeen van ons deur Genade weer volkome met Hom herstel kan wees.
  • Dit is 'n WAARBORG want die graf is leeg! Ons Here het opgestaan en is daagliks by ons. Hy laat ons nooit alleen nie en Hy het reeds die oorwinning behaal!
  • Dit is 'n VIERING VAN LEWE! Soos die plantjies groei net soos God vir hulle beplan het om te groei, het ons 'n geleentheid om in verhouding met God te groei en dieper en dieper in Hom te anker. Dit is wat God vir ons beplan het. Ons kan dit met vrymoedigheid, in oorgawe en in vreugde doen!
Kliek hier om 'n video te kyk van die opname tydens die Nagmaalsdiens op 18 Mei 2014.

Arline

Views: 466

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Louise Jackson op 23 Mei 2014 om 15:42

Baie dankie hiervoor Arline! Ek hou van sulke praktiese dinge. :-)

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service