PvR Gemeenskapskerk

'n Pragtige Paasfees Storie deur Johan Symington

"Op ons dorpie was daar 'n seuntjie wat, soos ons destyds gepraat het "gebreklik" gebore is. Hannes was ook verstandelik erg uitgedaag. Op skool kon hy nie eintlik vorder nie en het maar jaar na jaar in dieselfde klas gesit. Hy was egter ook vir elke onderwyser 'n geweldige uitdaging, want hy kon nie stilsit nie en het die hele dag lank gromgeluidjies gemaak wat baie steurend was. Om in sy teenwoordigheid te konsentreer, was baie moeilik. Net soms was dit egter asof hy 'n helder oomblik gekry het en dan kon hy pront se wat hy wou.

In sy derde jaar in graad 2 het die skool 'n nuwer juffrou gekry wat van die begin af gedink het dit is nie 'n goeie ding dat hy in die gewone skool is nie. Nie vir hom nie en ook nie vir die ander 18 kinders in die klas nie... en allermins vir haar senuwees.

Sy het die ouers die volgende middag na skool laat kom en het vir hulle probeer verduidelik dat Hannes nie eintlik in die skool hoort nie. Die ma het net saggies in haar sakdoek gehuil terwyl die pa probeer verduidelik het dat die naaste skool vir gestremdes 1000km ver is, dat Hannes gevoelig is vir  sy omgewing, moeilike aanpas en dat hy dolgelukkig in die skool is. "Buitendien dink ons nie ons sal hom vir lank by ons he nie" het die pa gese.

Daardie aand kon die juffrou nie slaap nie. Wat as dit haar kind was? Sy het die ouers vir hulle liefde en toewyding bewonder. En die gedeelte in die bybel waar Jesus se "Wat julle aan een van die geringstes gedoen het, het julle aan my gedoen,"het by haar bly spook.

Die volgende dag het sy die ouers gebel en gese Hannes kan maar bly. En eintlik het dit daarna verbasend goed gegaan. Dit was asof Hannes rustiger was en beter saamgewerk het.

Net voor die Paasvakansie wou die juffrou vir die kinders iets van Pase leer en veral die konsep oordra dat daar 'n "nuwer lewe" voortspruit uit Jesus se dood. Sy het vir elkeen een van daardie plastiekeiertjies gegee wat jy kan oop en toedraai. Hulle moes dit die volgende dag terugbring met iets daarin wat "nuwe lewe" simboliseer.

Hannes het lank stilgesit, sonder 'n gromgeluidjie met net so 'n halwe glimlaggie op sy gesig. Die juffrou het nie gedink hy snap iets van die opdrag nie.

Die volgende oggend moes al 19 leerders hulle eiers in 'n mandjie op haar tafel neersit. In die eerste een was daar 'n roosknop "Dis baie mooi" het sy gese "Die roos is besig om oop te gaan en dit simboliseer dus nuwe lewe."
In die volgende eier was 'n lap skoenlappertjie, wat ook lewe uit die kokon verbeeld.
En so het elke eiertjie 'n storie vertel.
'n Paar keer het sy een eiertjie eenkant toe geskuif, want sy kon voel daar is niks in nie. Sy het vermoed wie s'n dit is en toe gedink die klas sal nie eens agterkom een eiertjie het onoopgemaak bly le nie.

"Wat van myne," het Hannes geskree. Toe moet sy maar die eier optel en oopmaak.
"Hier is dan niks in nie" het sy gese.
"Dis reg juffrou, maar Jesus se graf was ook leeg. Hulle het Hom daar begrawe, maar toe het sy Pa hom mos daar kom uithaal"

Drie maande later is Hannes onverwags dood. Almal was verbaas toe daar bo-op die kis in die kerk net 'n mandjie vol plastiekeiers was, almal leeg....

Sela

Geseende Pase

Views: 2277

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service