PvR Gemeenskapskerk

Nijmegen 2011 - Afskeid is deel van reis

Reis gaan ook oor afskeid.

Elke mooi ervaring, elke asemrowende uitsig, elke inspirerende gebou of park is verbygaande. 

Die afgelope twee weke was gevul met wonderlike ontmoetings. Bekende en beroemde plekke en uitsigte het  'n deel van my lewenstorie geword. 

Elke nuwe ervaring was 'n ontmoeting, gevul met opgewondenheid, avontuur, verwagting en blydskap. Elke ontmoeting is egter gevolg deur 'n afskeid van soorte.

Die laaste aand in Parys het ek en Hester langs die Seine gestap met die Eiffeltoring as metgesel. Dit was 'n wandeling vol dankbaarheid, maar die afskeid was daar. Na ons 'n dag in Amsterdam gekuier het, het ek die imposante klassieke silhoeet van die stad gegroet. Bly te kenne. Swaar om afskeid te neem.

Vanoggend vroeg, so half vyf, is ek en Hester op en aan die gang. Ons stap vanoggend die ongeveer 4km na die stasie om die eerste trein van die dag te "pak" na Schiphol lughawe. Vandag is die dag wat sy terugkeer na Suid-Afrika .... en ek alleen terugkom na ons woonstel in Nijmegen.

Die stap na die stasie is haastig en lastig in die yskoue oggend, maar ons stap flink en lekker. Ek is dankbaar vir die gefokusde stappie, want die knop in my keel is ongemaklik vlak en my woorde maar min.

Opklim in Nijmegen (betyds vir die wagtende trein) en oorklim in Utrecht. Bietjie onseker, maar ons goeie vriend Roelof se "local" opleiding help ons om op die lughawe te beland.

Vreemd hoe die indrukwekkende Schiphol 'n "neerdrukwekkende" ervaring is wanneer 'n afskeid voor hande is. Ek worstel met my emosie en probeer 'n greep kry op hoe my lewe so vevlegd raak met die van my lewensmaat, dat die afskeid vandag intenser is as ooit vantevore. Ek herinner aan my aan "hulle twee sal een word" in Genesis, en ek weet die seer van afskeid het te doen daarmee dat 'n stuk van my weggaan.

Ek probeer iets begryp van die grootheid van liefde. Ek reflekteer oor haar rustige sorgsaamheid. Ek weet die kurwes van haar lyf is 'n kosbare legkaartstuk in die spasie van my lewe. Ek besef haar blote teenwoordigheid het 'n onmisbare deel van my eie verhaal geword. Ek beleef intens hoe besonder sy is. En hoe gelukkig is dat my hart aan haar behoort. En ek verstaan dat ek baie meer (en meer gereeld) sal moet dink oor hierdie liefde, en die kosbaarheid van hierdie mens wat dit moontlik gemaak het.

Die outomatiese bagasie "inboeker" is 'n welkome intellektuele uitdaging vir my broosheid. Die tas wat so skielik en sonder seremonie weggeneem word deur die masjien herinner my egter klinies dat die afskeid voor hande is.

'n Vir oulaas-brekfis  saam en dan is dit paspoort uit en instapkaart gereed. Vir oulaas is daar die bekende oor die skouer loer en daardie verbysterende glimlag, dan is sy weg in die rigting van vertrek saal F. 

En die afskeid oorval my en ek bly agter met die klaar verlang.

Dalk is more beter. Ja, dit sal wees, want dit is weer een dag nader aan .... 'n ontmoeting by die weersiens.

Bon voyage my liefste!

 



Views: 197

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Hanre Janse van Rensburg op 20 April 2011 om 21:41
Dit is juis daardie koebaai se van elke belewenis wat dit soveel meer spesiaal maak - nie 'n morbiede fokus op die einde nie, maar 'n dankbaar wees in die vreugde en voorreg van die nou. Dis die paradoks van die lewe, ne? Maar ons hou jou geliefde mooi dop vir jou - en sy en die kinders het So aand great gelyk!
Kommentaar deur Kobus Griesel op 12 April 2011 om 22:28
Hi Jan, klink na n great ervaring sover! Jou beskrywing van die afskeid maak dat ek die gebeure hier voor my sien afspeel en ek dink ook nou aan hierdie band van liefde en eenwees tussen man en vrou soos wat God dit geskep het - so spesiaal, so wow! Bly vrek moeilik om baai te se, al is dit van korte duur. Sterkte met als! Ons dink aan julle en geniet jou reis saam!

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service