PvR Gemeenskapskerk

Vroegoggend in Nijmegen is bytend koud. Die lenteluggie is maar dun as ek uitgaan. Dis die Sondag voor Paasfees. Heilige week begin, en ek het nie 'n kerk nie. Wel, nie hier nie.

In my geloofsfamilie in Pierre van Ryneveld is daar opgewondenheid en vreugde. Dis daar Paasviering. Ek sien in my geestesoog die bekende gesigte wat by die kerk instroom en die vriendelike, laggende groetery. Daar is niks soos alleenwees om jou te help om alleenwees te verstaan nie.

So ek is buite, met my drafklere aan. Die park langs ons blyplek is pragtig en dit lyk of 'n mens daar kan draf. Dalk sal draf my help om bietjie die alleenwees te verdryf. Bietjie stilwees anders as die voortdurende gewerskaf met die boeke en konsepte. Dalk, as my lyf werk, sal my kop gaan stilstaan. So ek beplan om te draf. Maar, soos die lewe is, word my draf 'n stap. My stap word 'n ervaring en my ervaring word ... 'n kerk.

 

Ek leer van alleenwees. Nie net die alledaagse alleenwees waaraan 'n mens gewoond geraak het nie. 'n Dieper alleenwees waar daar niemand is om te bel of te kuier nie. Ons projekgroep is almal in sy eie kamer in die gastehuis. Die sekuriteit is van so mate dat 'n mens eintlik nie net sommer by iemand kan inloer nie. So, eerder as moeite doen, doen mens iets alleen.

Dieper in die park ingedraf sien ek 'n hekkie wat lyk asof dit 'n aparte gedeelte van die park is. Deur die hek word my draf skielik 'n stap, want die mooi oorweldig my en draf is te vinnig.

 

Die klein woudpaadjie fokus my onmiddelik van myself en my eie behoeftes na die pragtige plek waarin ek is. Dit bring ook skielik 'n ervaring van die Skepper. Sy teenwoordigheid rondom my. Ek dink aan Tom Wright se boek "Simply Christian" waarin hy verduidelik dat God skoonheid (Beauty) geskep het as uitvloeisel van Sy wese, en vir ons genot en vreugde.

Ek onthou 'n ou ding wat ek altyd vir ander leer. Die lewe is soos 'n woudpaadjie. Jy kan nie die einde sien nie, maar wel die volgende paar tree. Volg die pad en die lewe ontvou soos jy vorentoe gaan. Ek gaan vorentoe, gefassineer deur die plek en die skoonheid daarvan en vol verwagting oor dit wat ek nog nie weet nie, en dalk nou gaan ontdek.

So sonder dat ek besef word ek ingesluk deur die ervaring. My alleenheid verdwyn en al wat oorbly is verwondering ... lofprysing? sonder dat ek dit besef word ek weg van myself gefokus op die Vader en Sy voorsieningheid en versorging. Ongesiens lig my gees met die sagte fluistering van die Gees.

Ek volg die slingerende voetpad en ruik die anderse klamheid van hierdie woude. Vroegoggend 'n 'n woud moet een van die heel beste sintuiglike ervarings wees wat daar is.

 

Skielik breek die sluier van blare oop en ek staan vir 'n oomblik stil, stil. Die stukkie water met die eende en die mistigheid daaroor roer iets diep in my. Omraam deur onbekende veldblommetjies staan die water glashelder in die botstil oggendlug. Ek voel soos iemand wat 'n privaat optrede van 'n beroemde kunstenaar as geskenk gekry het, en ek besef, ek het.

Die pragtige middelpunt van die bewaringsarea het verskillende ervarings. Die kabbelende waterstroom verleen 'n rustigheid aan die groen ervaring.

 

Die klein waterval se gebabbel is glashelder in die doodse stilte van die oggend. Ek gaan sit rustig in hierdie ander tipe katedraal. Gebou deur die Een vir wie die ander katedrale gebou is, en word.

Ek raak stil. Ek dink aan Paulus se woorde aan die Korinthiers. Dat alleenheid nie Godverlatenheid beteken nie. Dat Christus se ervaring van Godverlatenheid aan die kruis en sy kreet van eensaamheid juis bedoel is om my alleenheid vir altyd een-saamheid te maak.

Een, saam met Hom wat sin en betekenis gee aan die lewe. Ek word bewus van die teenwoordigheid van Christus wat my herinner dat Sy lewensoffer my in 'n nuwe verhouding met God geplaas het.

Dat ek wel 'n kerk het, maak nie saak waar ek is nie. Want ek is die Kerk, Sy liggaam. En ek IS kerk waar ek is. As ek net sal stilraak en bewus kan word van die teenwoordigheid van die Vader.

En skielik is die Paasviering ook hier. Ek beleef die konneksie oor duisende kilometer, maar ook die konneksie net hier, waar ek nou is. En ek bid vir my geloofsfamilie vandag en in hierdie week.

 

Mag dit wees dat ons nie tevrede sal wees met die uiterlike bewegings van Pase nie, maar dat ons innerlik vernuwe sal word deur die bewustheid van die teenwoordigheid van die lewende Christus .... en ek glimlag.

Soos ek uitstap ervaar ek my kerk se uitstaplied. 'n Klein Europese houtkapper klop-klop teen die boomstam by die hekkie na buite, en die stilte van die oggend maak sy gewerskaf helder en duidelik. Wat 'n lekker bonus bederf. Soos die orkes wat vir oulaas uitbundig speel as ons uitstap.

Dankie Here. Vir my kerk daar anderkant.

Maar ook vir die kerk

Hier.

 

 

 

 

 

 

Views: 65

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Hanre Janse van Rensburg op 20 April 2011 om 22:18
Dit is so definitief wat 'n verhouding met God is - om elke dag die stukkie pad wat sigbaar is te loop en in die stap en in die pad vreugde te vind. En om te onthou om rondom ons te kyk na die genade wat God in elke dag inweef. As ons dit kan regkry, is ons waar ons moet wees. Ek sukkel elke dag om dit te onthou en daaraan vas te hou :)
Kommentaar deur elmarie van wyk op 18 April 2011 om 21:25
En hier in die suide sit kollegas en vriende vanoggend en besin oor die gedruis en geskarrel in hierdie tyd van ontsaglike heiligheid. Hoe om stil te word? Hoe om "alleen" te word? Hoe ruik ek die bloedsweet, hoe hoor ek die breek van Sy lyf, hoe voel ek die gewig van die kruis, die vel pyn van spykers? Dalk net in die stilte van alleen wees, in afsondering - vir 'n oomblik ook die eensaamheid van sterf , afsterf van myself. En dan die verwondering van 'n lee graf, die deel van die vreugde met my broers en susters! Hy het vir my (en jou) die dood stilgemaak! Kan ons mekaar dan daagliks hieraan herinner - hierdie krag, hierdie vryheid en vrede is nou, hier en daagliks tot my en jou beskikking! Kom ons leef dit!

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service