PvR Gemeenskapskerk

Nijmegen 2011 - God was (en is steeds) hier!

So verras die Here Jesus 'n mens. Sonder dat jy dit verwag. Eintlik verwag 'n mens baie keer die teenoorgestelde en word uitgevang in jou kleingeloof of sommer net jou afgetrokkenheid.

Ons ontmoet vir Prof. Chris Hermans in verlede week. Wilde bos grys hare. Modieuse klerestyl. Skerp en vindingryk, maar ook besonder behulpsaam en passievol oor sy vak en elkeen van ons se temas en uitdagings. Gawe kêrel. Sy vrou Klazina is net so modieus en al te fyntjies. Hulle het beide hulle lewensmaats verloor en so vier jaar terug getrou. Maar meer daaroor later.

Chris nooi ons om Sondag saam met hom te spandeer. Hy doen moeite om 'n bussie te huur om ons rond te neem. Maar, verassend, sê die (Rooms Katolieke) Prof., ons gaan eers kerk toe.

Hy is kinderlik opgewonde oor die diens wat hy graag bywoon. Hy vertel ons van die klein middestadsbediening in die St Stevens kerk op die antieke stadsplein van Nijmegen. Ekumeniese diens vertel hy ons, want die kerk in die stad het al hoe minder mense. Soort van Katoliek en Protestant gemeng. Nouja, ons is al gewoond aan alles, so kerk toe sal ons gaan.

 

 Die St Stevens kerk dateer uit die 1200's (Ja, jy het reg gelees). Dit is oor verskeie eeue gebou en aangebou, maar van die eerste kerk se mure en oorblyfsels is steeds sigbaar in die uiteindelike struktuur. Verskeie kere beskadig en byna verwoes deur die loop van die geskiedenis. Die laaste keer was in 1944 toe die geallieerde magte aan die einde van die 2de wêreldoorlog per abuis (later is erken dit was met opset) die stadskern van Nijmegen in die grond in gebom het.

Maar ons gaan vanoggend hier kerk toe. Die binnekant van die gebou is indrukwekkend en majestieus. Chris verduidelik vir ons dat die kerk aanvanklik deur Rooms-Katolieke gebou is en later deur die Protestante "oorgeneem" is. Vandaar die massiewe kansel in die middel van die kerk (Sola Scriptura - Die reformasie se beginsel van die Woord alleen). Die oorspronklike liturgiese ruimte, wat sigbaar is agter die kansel is summier ontruim en net 'n spasie gemaak. Ai, ons christene het mekaar darem verinneweer in "de oude dage". En, helaas, ons doen steeds!

Die erediens vind plaas in een van die sy-kapelle van die kerk. Mense het oor die algemeen net een keer per jaar in die "maag" van die kerk gekom. Die kapelle was waar die mis bedien is en byeenkomste gehou is. Tot my verassing is die kapel amper vol toe ons instap. Ons kry net-net sitplek, heelvoor. Die groep is kleinerig, maar van diverse ouderdomme en gesinstipes. Die leraar is nie ge"collar" en ge"tie" nie, maar ge"robe".

Die diens se liturgie is uitgdeel op 'n blaadjie (in nederlands) en die liturgie is heel afwisselend tussen die gemeente en die liturg. Ek verstaan swaar, maar tog wel. Verassend word ek meegesleur deur die ervaring. Die eenvoudige, egte en opregte gebeure roer my gees en ek ervaar die teenwoordigheid van die Here. Heel anders as gewoonlik. 

 

Die woordbediening is ook in Nederlands, maar gestroop-eenvoudig. Dit is egter 'n uitstekende skrifuitleg en prediking ervaring. Ek dink: "Moet ek nou in 'n vreemde taal worstel met luister om vir 'n slag weer 'n preek te HOOR"? Prof. Chris se opgewonde bemarking van die prediking voor die tyd was "heel intellektueel", wat dit is, maar dit is ook eg eenvoudige "Goeie Nuus". Ek is aangeraak en geroer. Verras. God was hier van lankal af besig, maar Hy is steeds. Vandag. Nou. Met my.

Ek het twee gewaarwordinge waarmee ek na die diens in die kerk rondstap en foto's neem.

Die eerste is die boodskap van die oggend. Die dooie beendere wat lewend gemaak word. Ek dink na oor hoe ek begeer dat ons Geloofsfamilie werklik 'n gestuurde gemeenskap word wat Jesus bewonder, Hom volg en Hom uitleef in ons verhoudings. Ek hoor die Here weer vandag. Dit is Sy werk, nie myne nie. Ek beleef die vrede wat die verstand te bowe gaan en bid vir ons Geloofsfamilie. Vir jou. Dat jy saam met my sal ontdek dat Jesus Christus ons vrymaak om te leef, en nie gevange neem in 'n sisteem nie. Ek bid dat jy sal ontdek dat Christus jou nooi om jouself te word en Hom te vergestalt waar jou ore hoor, jou oë sien en jou hande raak.

Maar ek is ook ongemaklik-bewus van hoe ons as kerk ons eie taal praat, ons eie kultuur ontwikkel, ons eie ding doen. Hoe moeilik dit moet wees vir iemand "van buite" om op 'n gegewe Sondag deel te wees van wat ons doen, en tuis te voel. Hoe ons manier van praat en dit waaroor ons praat so vreemd geword het dat iemand net met groot inspanning kan volg en verstaan. Oor hoe lank dit moet neem vir iemand anders (jonger?) as ons om "ingegrawe" te word en te wees.

Selfs in ons Geloofsfamilie, met ons informele en gemaklike manier van doen wonder ek of ons nie die "nuwes" en "vreemdes", meer vervreem nie. En ek besef weereens, Jesus roep ons om te doen wat ons doen. Maar nie vir onsself nie. Ter wille van die wêreld waarin ons leef en beweeg. Sodat hulle kan verstaan. Sodat hulle kan beweeg. Sodat hulle kan leef. En ek besluit: "Doet je zo, Jan Venter. Doet je zo, Pierre van Ryneveld Gemeenskapskerk."

Met die uitstap gesels ons opgewonde met Prof. Chris oor die diens en hoe ons dit gevind het. Sy oë blink en hy gesels driftig.

En ek wonder. Is ek so opgewonde oor my gemeente? Is my gemeente so passievol oor die Woordbediening elke Sondag? As die hoogs geleerde, Europese, Rooms Katolieke Prof.-Christen dit hier beleef. Dan kan ons seker ook daar waar ek vandaan kom.

Hier.

Waar God al lankal besig is.

En steeds is.

Vandag.

Nou.

 

Views: 143

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Hanre Janse van Rensburg op 20 April 2011 om 21:53
Die Here kan mens op die mins verwagte tye met die ongelooflikste insig tref! En dis so ongelooflik hoe hy met ons almal besig is - ek het net Sondag aand voor en in die diens gedink aan hoe iemand nuut en vreemd dit sou beleef by ons...en aan hoeveel "warmer" ons kan en moet wees...beginnende met my. Maar dis dan so wonderlik om die perspektief van die eeue te kan he - dat God nog altyd sy kerk laat lewe, en sal aanhou om dit te doen. Ons kan net aanhou luister en waag om in te val by wat ons hoor.
Kommentaar deur Louise Jackson op 15 April 2011 om 11:43

Hallo Jan!

Ek dink hierdie blog hoort in ons gemeenteblad! Ek weet nie hoeveel mense lees dit hier nie, maar dit moet meer blootstelling kry.

Baie dankie hiervoor en groete.

Louise

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service