PvR Gemeenskapskerk

Ek sit in die pragtige kerk van "die Heilige Maria" in Munster,Duitsland. Dis 'n pragtige lente-oggend, maar ek kies om nou vir eers hier te wees, as deel van my eie reis na Pase.

Dis 'n pragtige middel-eeuse kerk wat uitstekend in stand gehou word. Die stilte is tasbaar en ek bly steeds in verwondering oor die gewig van die geskiedenis wat hier so diep op 'n mens indruk maak.

Die kruis voor in die kerk is volgens tradisie bedek met 'n kleed wat eers op Goeie Vrydag afgehaal sal word, met 'n spesifieke ritueel en liedere.

Gister het Prof Thomas Soding ons 'n baie spesiale toer gegee van die hart van die stad. Sy opmerkings in Duits-Engels oor die geskiedenis en die rykdom van stories was kostelik, maar ook kosbaar.

In die "altstadt" (die ou stadsentrum) is ek aangegryp deur die wonderlike ou geboue en die stories daaragter.

Wat my hart egter vir 'n oomblik laat stilstaan het,  is toe hy met ons deel dat AL die geboue rondom ons tydens die 2e wereldoorlog deur bomme vernietig is. Alles. Selfs die pragtige "burger"katedraal met sy gotiese toring se hele boonste gedeelte was weggeskiet. Ek sukkel vir 'n oomblik om die prentjie weer te laat fokus sodat dit sin maak.

Elke liewe gebou rondom my is 'n restorasie of totale herbouing. Die mense van hierdie dorp het in die puin van die vernietiging van 100'e jare se stories gestaan, en besluit om weer te begin. Die stories weer dekor te gee. Weliswaar nie oorspronklik nie, maar outentiek herstel. En die stories leef, en dit maak die geboue op 'n vreemde manier mooi. Amper beter as die oorspronklike. As dit moontlik kan wees.

Vanoggend dink ek na in die kerk oor wat gebeur met mense wat alles verloor wat vir hulle kosbaar is. Wat in die puin van hulle stories staan en 'n keuse moet maak tussen  "sak en as" en "sak en pak". Wat kies om hulle stories te laat herleef uit die as en puin.

Dit laat my wonder oor my mense. Afrikanermense. Wat leef in die puin van ons gedeelde storie. Wat daagliks gekonfronteer word met die herinneringe van wat was, en die beleefde pyn, van die puin. wat ervaar dat ons storie deur die plofstof van politieke gebeure verkrummel is.

En ek wonder oor opstaan en herbou en nuut begin. Anders. Ek wonder oor restoreer en 'n beter, nuwe hoofstuk van 'n storie LEEF, uit die brokstukke van wat nou ervaar word as die IS. En ek wens (en bid) dat ons sal herleef, nie as die beterweterige, harde karikatuur wat ons was nie, maar as reisgenote in hierdie land, wat oplossings en nuwe moontlikhede beleef en aanbied aan ander op die reis.

Ek wonder ook oor mense wat se eie lewenstorie as gevolg van krisis of breuk, of watookal, in puin beland. Mesne wat dalk vandag moedeloos uitstaar oor die verbrokkelde landskap wat hulle lewe geword het. En oor opstaan en aangaan wonder. Vir wie nuut begin net 'n vae werklikheid is.

Dan sien ek weer die kruis met die kleed, en ek ervaar die stil stemme van eeue se gelowiges wat hier was voor my.

Dan hoor ek weer Sy stem: "Ek is die opstanding en die lewe. Wie in my glo, sal lewe, al het hy ook gesterwe". Ek raak bewus van die moontlikhede wat Paasfees open vir ons, Sy kinders. En ek bid vir my mense. Die Afrikanermense, maar ook die mense van my hart. Wat stukkend-gebroke staan in stukkende stories met traanpaadjies oor asvaal wange.

Christus, die nuwe begin, is die Storie van Paasfees. Dis die Storie wat ons in beweging kan bring, om oor te begin. Want ons stories nodig die dekor. Sodat daar mense kan stap en daarna kan luister, en inspireer kan word om dieselfde te doen. Dieselfde Verlosser aan te gryp en nuut te begin leef.

So hier sit ek in die stilte van eeue. En ek vra: "Here, vernuwe my (en jou) dat my (en jou) brokstukke gerestoreer kan word. Sodat ander U vernuwingswerk in my (en jou) kan beleef.

Sodat die Storie van die Lewe vertel kan word.

Sodat ek (en jy) kan Lewe.

Views: 64

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Hanre Janse van Rensburg op 20 April 2011 om 22:23
Amen!

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service