PvR Gemeenskapskerk

Nijmegen 2011 - Koffie, soos dit bedien moet word.

 

Hier sit ek vanoggend in Nijmegen, kliphard aan die uitsorteer van boeke en dinge. Die laaste boeke wat ek nie by die huis gaan kry nie moet ingeskandeer word. (Dankie tog vir my goeie Nederlands-Afrikaanse vrind Roelof, vir die gawe van die geleende stukkie hardeware.)

Dis nog 'n heerlike lentedag hier, die luggie is koeler as die laaste paar dae, maar dis helder sonskyn en die groenigheid is oorweldigend.

Daar is 'n paar dinge wat vir die Nederlanders besonder belangrik is. Een daarvan is koffie. Bier en kaas ook, maar dis 'n ander storie. So my woonstel is toegerus met 'n ordentlike Philips (Goeie Nederlandse handelsmerk) koffieperkoleerder. Dis nogal die brandstof wat die werkery aan die gang hou.

Maar, soos ek besig was om te sê, hier sit ek en "scan". Moeisame proses, en vervelig. In die loop van die oggend luister ek na een van Len Sweet se "Napkin Scribbles" en word getref deur 'n storie oor Starbucks, die VSA se beroemdste koffiewinkel kettinggroep.

Ek "google" die storie en dit bring my vir so 'n paar minute tot stilstand en stilword.

 

 

Hooftrekke van die storie is as volg. Op 26 Februarie 2008 het Starbucks al hulle (ja al 7100) koffiewinkels gesluit vir die aand en die tyd spandeer daaraan om al hulle personeel (ja, al 135 000) op te lei/te herfokus.


In die woorde van die uitvoerende hoof: "
In one of its most significant efforts to transform the company and reignite its connection with customers, today Starbucks is conducting an unprecedented in-store education and training event for more than 135,000 partners (employees) in U.S. company-operated stores. As part of this major customer-focused initiative, Starbucks is also introducing a promise to exceed customers’ expectations by delivering the perfect drink every time.

Let veral op die woorde "reignite it's connection with it's customers" en "customer-focused initiative" en "exceed customer's expectations".

In 'n ander berig stel hy dit so: "It's really about ensuring that the customer experience that we provide is the best that it can be."

Kort van die storie is dat Starbucks verstaan dat hulle sukses te danke is aan die feit dat hulle fantastiese personeel het, wat nie net koffie maak nie, maar wat vir elke klient 'n fantastiese ervaring gee. Almal maak koffie, almal doen dit nie soos Starbucks nie. Nogal insiggewend om te sien dat 'n maatskappy, wanneer hulle ontdek dat hulle konneksie verloor het met hulle "eerste liefde" en die wese van hulle sukses, letterlik alles kan stop om seker te maak dat hulle daardie een belangrike ding reg doen.

Daar word bereken dat hulle in daardie paar uur ongeveer 3.6 miljoen dollar in salarisse geoffer het vir die saak. Hulle het ook nie 'n enkele koppie koffie in daardie tyd verkoop nie, so vermenigvuldig daardie bedrag met ten minste 10.

Nogal 'n ernstige verlies. Of is dit wins?

Dit laat my dink aan die woorde van Christus aan die gemeente in Efese (Openbaring 2:4-5). Wonderlike gemeente. Hulle doen allerhande goed reg, maar hulle het hulle "eerste liefde verlaat". Hulle is besig met alles behalwe Christus.

Ek wonder toe sommer oor kerkwees vandag en al die dinge (van die Here) waarmee ons onsself besig hou, terwyl ons dalk die Here (van die dinge) agtergelaat het. En ek weet een ding verseker. As ons Hom nie meer volg nie, is ons nie meer volgelinge nie, en per implikasie ook nie meer kerk nie.

Ek wonder nogal of ons as kerk vir 'n slag alles sal stop en seker maak dat ons besig is met die die een Persoon wat die rede is vir ons bestaan. Sal ons onsself kan kry om die dinge waaraan ons so geheg is vir 'n oomblik neer te sit en om te vra, "is Christus nog die fokus van wat ons hier doen"?

Ek weet nie van jou nie, maar dit wat ons tans in ons Geloofsfamilie verklaar as ons fokus, "Ontdek en Leef Christus" dring my daartoe om vir 'n oomblik neer te sit en seker te maak dat die "rede vir ons sukses", ons Verlosser Jesus Christus steeds die "middelpunt van ons verlange" is. Kerkwees daarsonder is "sondermeer nutteloos".

En ek onthou ander woorde van Christus: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. Wat help dit 'n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?"

En ek besef 'n mens kan in 'n gemeente so besig raak met ons eie programme, idees en strategie, dat Christus nie meer die fokus raak nie.

Interressant dat die woord gemeente in Nederland beteken "stadsraad". Dis interressant dat dit die woord is wat ons gekies het in afrikaans vir "plaaslike kerk". Wonder of dit iets wys van waarop ons fokus?

So. Wil jy nie saam met my dink oor kerkwees en hoe ons Christus kan leef, eerder as om 'n sisteem in stand te hou nie? Wil jy nie saam bid dat ons onsself in perspektief sal sien,  in Christus en nie uit onsself nie? Wil jy nie saambid dat ons die oortuiging sal ontwikkel om te los en te soek na wie Christus wil ons moet wees nie?

Die sin van kerkwees is Christus. Soos hy bedien moet word. 

Kom ons stop, dink en begin weer ... saam en elkeen in ons eie lewe.

----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Die laaste foto is van 'n skildery in die St Stevens katedraal in Nijmegen wat dateer uit iongveer die 13de eeu. Die gesin wat opdrag gegee het vir die skildery het Christus en ander figure rondom die kruisiging op die middelste paneel laat plaas. Op die twee kantpanele is dan die lede van die gesin in aanbidding voor die kruis. So het hulle op 'n manier uitdrukking gegee aan hulle toewydng aan Christus.

Views: 61

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service