PvR Gemeenskapskerk

Ek nooi jou om saam met my te kuier oor my gewaarwordings en belewenisse tydens my studieverlof in Nijmegen. Ek sal probeer om gereeld hierdie blog op te dateer en my ervarings te deel.

Ek is ongelooflik bevoorreg (en begenadig) om hierdie ervaring te beleef en deel dit graag met jou.

Die eerste been van ons reis het ek en Hester 'n paar dae in Parys ('n lewenslange droom) uitgesit voor ek aanmeld by die Radboud Universiteit, eerskomende Maandag.

Parys is alles wat ek verwag het. Kosmopolitaans, klassiek, sjarmant, noem dit op. Ons het nog net so bietjie rondom die hotel en kon wandel gisteraand, maar is reeds versot op die stad. Ons bly in 'n piepklein (soos ons beursie) hotel naby die Champs Elysees. My grootste verassing gister was dat die"katedraal van "Saint Pierre de Chaillot" reg langs ons hotel is.

Ons het gisteraand daar ingegaan en ek het 'n intense ervaring gehad van die teenwoordigheid van die Here Jesus. Ek is herinner daaraan dat Hy Sy kerk (ons, sy volgelinge) lei deur die tyd, swaarkry en vreugdes van die reis.

Ek is maar 'n klein, klein ratjie in die groot wonderlike verhaal van Sy reis met ons.

Kuier gerus saam met my en wees deel van my leer en beleef ervaring

 

Reis is die lewe ... die lewe is 'n REIS!

 

Na 'n dag gevul met lughawens (OR Tambo, Schiphol. Charles de Gaulle) vliegtuie ('n grote en 'n kleintjie), treine (bo-grond en ondergrond) en, bagasie in die hand, in besige wandelgange en op sypaadjies skarrel beland ons voor die Arc de Triomphe in Parys. Die roltrap onder uit die maag van Parys het die gesig stadig voor ons laat oopvou en wat 'n belewenis van God se absolute genade was dit nie!

Parys? Wat maak ons hier as ek in Holland moet wees? Wel, dis my lewenslange droom om my vir Hester hierheen te bring en 'n gratis retoervlug (ingesluit in ons internasionale kaartjies, komplimente van KLM) het dit moontlik gemaak. Daar is dosyne klein wonderwerke wat meegehelp het, ek is net dankbaar! Ek meld eerskomende Maandag aan by die Radboud Universitijt te Nijmegen en ons het so klein stukkie vakansie daarvoor ingebou.

Gister het ons Parys met mening (te voet) gepak. Champs Elysees, Place de la Concorde, Louvre, Notre Dame en Eiffel was die groot items op die spyskaart, maar ons het 'n mengelmoes ander ervarings op die koop toe gehad. Parys is 'n wonderlike stad met letterlik eeue se geskiedenis en dit drup uit elke gebou en straathoek.

Ek het twee groot gewaarwordinge. Die eerste is dat ons werklik nietige en klein stukkies is van God se oorweldigende werklikheid. Daar is soveel uiteenlopende, verskillende mense op hierdie planeet. Elkeen besig met sy/haar eie verhaal en God is by ELKEEN volledig betrokke (of hulle dit erken of nie). Ek was eintlik diep aangeraak om in die malende mensemasse te gaan stilstaan en te besef God is hier, nou, dadelik by my ... soos Hy ook elkeen rondom my liefdevol vashou. Dis groot!

Die ander groot gewaarwording was die effek van die Notre Dame katedraal. Behalwe dat ek verbyster was deur die absoluut oorweldigende indruk wat dit maak, was ek aangeraak deur God se reis met ons, deur eeue! Die katedraal het 170 jaar geneem om te voltooi, so die ontwerpers en bouers het nie eers hulle werk klaar gesien nie. 

Ek het besef, ons is Jesus se volgelinge, en ons bou God se koninkryk sonder dat ons baie keer eers besef wat ons tot stand kan bring deur toegewyd besig te wees daarmee. Ons sien nie dadelik die groter prentjie nie (ons raak baiekeer moedeloos en hopeloos), maar God sien dit. Al wat ek en jy moet doen is om telkens op te daag sodat God ons kan gebruik. Ons kan ons hele lewe wy aan ons roeping en, sonder dat ons dit ooit weet, 'n ewige effek bewerk in mense se lewens. Dis nou toebroodjies vir die gedagtes!

More reis ons terug na Nederland en pak weer 'n trein en 'n bus of twee om ons te besorg waar die groot werk vir my wag. Lewer gerus kommentaar op hierdie blog of stuur vir my epos. Ek is ook op Bakkies-boek (Facebook) as jy daar kuier.

 

Ons gesels weer!

Views: 62

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur elmarie van wyk op 31 Maart 2011 om 7:53

Ah Jan, julle moet dit net sooo geniet , koop 'n brood en sit in 'n park ( met die gesnoeide bome!) en steek asb. vir my 'n kers op iewers in 'n kerk! Carl het Sondag gepreek oor die seuntjie wat die brode en die visse gegee het  - die kort en lank, ons moet net opdaag(klein ratjie...) God sal self die wonderwerke laat gebeur! Is dit nie net so wonderlik nie? So, mag hierdie vir jou en Hester 'n tyd en plek wees van "net opdaag"...

 

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service