PvR Gemeenskapskerk

Nijmegen 2011 - Reis saam: Van Parys na Radboud Universitijt

 

Die paar dae in Parys was nie net 'n broodnodige ruservaring tussen Suid-Afrika en die maand van studie nie, dit was ook 'n wonderlike tyd saam met Hester. Dit was nog altyd 'n droom om saam met haar in Parys te wees, en so sonder dat ek dit verwag het gebeur dit onverwags. Weereens 'n stukie van my lewensverhaal waar die Here 'n groot padteken opgesit het met die woorde: "Onthou, Ek is getrou!"

Ons tweede voldag was gewy aan Montmartre, die Sacre Coeur en 'n paar kleiner besienwaardighede. Koffie by Starbucks en die Moulin Rouge as 'n hiernamaalsie.

 

 

Ons laaste aand in Parys het ons langs die Seine-rivier gaan stap en fantastiese fotos geneem van die Eiffel met sy "ligjas" aan. Wat 'n belewenis! Die laaste oggend in Parys het ons 'n lieflike sonskyndag beleef en vir oulaas langs die Seine gaan stap en probeer om 'n soewenier of twee vir die dogters op te tel. Die "inkopie" het so bietjie "James Bond" uitgedraai met ons verkoper wat skielik sy negosieware in 'n laken toedraai en die hasepad kies met 'n "wait just one minute". Ons vebystering het verdwyn toe ons die drie "Gendarmes" met lang gewere sien en besef dat ons man waarskynlik of 'n onwettige immigrant is of onwettig verkoop.

Skielik is ons gekonfronteer met die "gewone" Parys. Die Parys waar mense swaarkry, worstel om te oorleef en dieselfde uitdagings het as Parys (Vrystaat). Die gras aan die ander kant bly dus groener oor die rede wat altyd daarvoor aangegee word!

Ons ekspedisie na die Charles de Gaulle lughawe was fyn beplan en met ons nuutgevonde ervaring op die Metro het ons sonder enige onsekerheid ons weg gevind na die George V stasie in die Champs Elysees. Die pakkerasies van ons bagasie was weereens die grootste uitdaging. Rustig op die regte Metro, deur Chatelet les Halles stasie op die RER B na die lughawe. Jip, hierdie is eenvoudig. 

Toe stop ons op Gare du Nord en die blikstem kondig af: "All passengers please get off here, this is the last station". Krisis! Na 'n vinnige engels/franse raadvra oefening ontdek ons dat daar werke is op die spoor en dat ons eers na 'n ander stasie moet reis en dan die bus vat. Skielik is die angstigheid en onsekerheid terug, maar ons beland op die lughawe. Ons beland ook op die vlug (nadat Hester eers nie 'n sitplek gehad het nie) en op die vlug. Sjoe!

 

 

Reis, lyk vir my, het 'n spesifieke karakter en spesiale uitdagings. Later daaroor iets meer.

Schiphol lughawe was 'n bekende (vir 'n slag) en baie lekker omons vriend uit PE se dae, Roelof van Staden se bekende gesig te sien by die uitgang. Dankie tog! Roelof woon al twaalf jaar in Nederland en is reeds 'n burger. Hy ken die treine en die omgewing, so bietjie rus vir die reisroes in my brein.

Saam met Roelof vertrek ons per trein na Utrecht. Hy is so vriendelik om vir ons verblyf te organiseer en vat ons die aand uit in die "gragte" in Utrecht. Wat 'n heerlike ervaring! Ete in 'n Belgiese restaurantjie en rondstap en hier proe en daar proe. My eerste (en blywende) indruk van Nederland is die derduisende FIETSE en fietsryers. Niks kon my daarvoor voorberei nie. Roelof is 'n vrygewige en hartlike gasheer en ons kuier in Utrecht sluit homself aan by die legendariese ervarings van ons lewensreis.

 

 

Die volgende oggend is ons opweg na Nijmegen deur die Nederlandse "platteland". Plat is dit wel! Nijmegen is koud en doenig rondom die stasie. Ferdie Mulder ontvang ons en ons boek in (na 'n effektiewe busrit) in die "Sterrenbosch Guesthouse". Dit is akkommodasie van die RU vir nagraadse studente. Heel netjies en gerieflik. Ons kan ons tasse uitpak (dit voel soos huis van die huis af).

Die eerste deel van hierdie week word toegewy aan die verwarrende registrasieprosesse, kontrakte en verstaan van die sisteem. Dit is verwarrend, doodgewoon omdat dit so vreemd is. Radboud is 'n uitstekende universiteit gefokus op navorsing, maar "it's another country" en ons is uitlanders wat nie weet hoe dinge werk nie.

 

Hester het Woensdag en Donderdag om by die plaaslike mediese fakulteit en akademiese hospitaal sowel as by die St Maartens kliniek ('n toonaangewende rehabilitasie hospitaal) besoek te doen. Lekker en verrykende gesprekke met ander fisioterapeute, "ergotherapeuten" en blootstelling aan die nuutste en beste in haar veld. Besondere voorreg en geleentheid. Ek is trots op my wederhelf wat sommer op haar eie so saamleer en ook 'n bydrae hier gelewer het.

Dit is nou Vrydag oggend en ek het min of meer geregistreer en inge"log" op die sisteem. Ek het die biblioteek trotseer (indrukwekkend) en begin om stapels boeke woonstel toe te bring. Al goeie gesprekke gehad met die Prowwe wat my help om my studie te slyp en ploeg moedig deur vragte boeke. 

Dis 'n groot voorreg om 'n klomp ure 'n dag gefokus met studie besig te wees. Dankie daarvoor!

Wat voorlê? 'n Naweek met 'n paar planne, my vrou wat terudraai huistoe en harde, harde dink en studeer.

Volgende keer meer!

Views: 86

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Hanre Janse van Rensburg op 8 April 2011 om 14:42
Sterkte met die vragte boeke! En geniet dit!

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service