PvR Gemeenskapskerk

Vroegoggend op die Nijmegen stasie is dit rustiger as wat ek verwag het. Dit is Saterdag en die koorsige gewemel van reisigers het bedaar, vir eers. 

Dit beloof om 'n lieflike Nederlandse lentedag te wees. Ons is oppad Amsterdam toe. Eers sou ons gaan, toe besluit ons om eerder te bly oor die beursie begin plat raak. Toe maan Roelof (ons SA Hollander vriend), ons aan. Hy nooi ons vriendelik dog dringend. Sy teksboodskap lees: "Julle kan nie Amsterdam mis terwyl Hester hier is nie"! Hy help betaal aan die reiskaartjie, en ek moenie "weird" voel daaroor nie.

Wel, ek sukkel mos maar om te ontvang, so "weird" sal ek voel. Maar ek aanvaar die aanbod.

So hier is ons nou. Op die trein. Lekker trein. Ons is op die boonste verdieping. In 1steklas. Ons ry met die "Lentetoer" kaartjie - €45 vir die hele dag, onbeperkte treinreise. Lekker besparing. Amsterdam, so lei ons af van die vele gesprekke (en Roelof se dringende uitnodiging), moet beleef word. 

Maar terug by die treinrit. Die "provinsies" ( die nederlandse naam vir die platteland) is betowerend mooi. Die gereelde verbyskuif van fabrieke, pakhuise en store herinner ons daaraan dat hier ook ekonomie gepleeg word. Die Nederlandse sin vir besigheid en handel is immers die rede waarom ek in "Zuid-Afrika" woon en kan skryf in die "skattige taaltje" soos die hollanders dit beskryf. As dit nie was vir die inherente sake drang van hierdie nasie nie het die destydse VOIC ook nie die "mooiste Kaap" aangedoen nie.

Maar tussen die ekonomiese wanklanke is daar die pragtige woude, blokkies landerye, pophuis woonhuise en helder riviere. Dis groen, lewenskragtig en deurdrenk met die varsheid van die eerste week van lente. Die woude is "dainty" (oulike engelse woord) of fyn. Ek is gewoond aan die bree verskeidenheid en amper oordadigheid van ons woude in Suid-Afrika. Hier is dit amper inkennig-sag. Fyner blare en grondbedekking as waaraan ek gewoond is.

Die woude word onderbreek deur 'n lappiesland van netjiese plaaswerwe met ewe netjiese krale en landerye. Ek is verstom bewus van die feit dat hierdie plekkies aan die Waalrivier (wat die Ryn word by die Duiste grens) al vir die afgelope 2000 jaar bewoon en bewerk word. Die inwoners van die dorpe en eienaars van die plase kan meesal hulle geskiedenis en voorsate  terugvind na die tyd van Christus

En ek dink oor die man van Nasaret wat, vêr van hier af, op dieselfde tyd - ook gestap, geleef en gewerk het. Terwyl die mense hier dieselfde gedoen het. Van Hom het hulle nie geweet nie. Nog nie. Die Romeinse garnisoen wat 2000 jaar terug in Nijmegen was, was onbewus daarvan dat een van hulle makkers, 'n offisier, by 'n kruis sou staan in verre Jerusalem en sou bely dat "hierdie man" werklik die seun van God was.

En die voorvaders van die Verhoeffens, van der Watts, Venters, van der Veens en Hermanns se name staan op die mure van die geskiedkundige geboue en museums.

En Jesus se naam staan in die Woord. 

En hulle het geleef en gesterf.

En Hy het geleef en gesterf.

Maar, Hy het opgestaan en geleef.

So eenvoudige verhaal. Gewortel in die geskiedenis. 'n Geskiedenis kurwe wat ons in ons relatief jong land dalk soms net nie verstaan nie.

Hy het geleef. Dit help my om te glo... Hy Leef.

Geseënde Pase van Jan en Hester

Views: 74

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Hanre Janse van Rensburg op 20 April 2011 om 21:32
Dit is definitief waar dat mens eers begin verstaan van antiek as mens daardie regtige oudheid self beleef en aan kan vat, Dit gee mens 'n langer/dieper kyk op die lewe.

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service