PvR Gemeenskapskerk

Nijmegen 2011 – Van Luiperds, Hollanders en die Nuwe Begin

Hier sit ek vandag in Holland en dink, van alle dinge, aan 'n luiperd. Vanoggend se lekker lang fietsrit het 'n stukkie bos ingesluit en toe wonder ek oor wilde diere (wat fietsryers jaag) en toe gaan my gedagtes onwillekeurig na die luiperd, en Shayamanzi 

Soos baie van die inspirerende ervarings in ons Geloofsfamilie, het hierdie ene ook op 'n manier, sy oorsprong op Shayamanzi.

 Shayamanzi is Jannie en Issie se stukkie kosbare bosveldaarde waar hulle hulle liefde vir God, mekaar en Sy wonderlike natuur uitleef. Dis daar waar ons Geloofsfamilie se leiers al vir 14 jaar stil word om God se stem te hoor. Dis op Shayamanzi waar ek vir die eerste keer werklik kontak gemaak het met die luiperd. Ek het die dier intiem leer ken uit Jannie se passie en liefde in die ontelbare kampvuurgesprekke en saamdink. Maar ook in die “yswater in die nek” kennismaak met die dier in die bewaringskompleks bo-op die koppie.

Die woord luiperd kom uit die 13e eeu (Lat. Leopardus Gk. Leopardos) en die dier is een van die beste oorlewingspesialiste in die natuur. Jannie het al 'n amperse boek saamgestel met die eienskappe van die dier.

Een van die dinge wat my die meeste fassineer het, is die soomlose manier waarop die dier “konnek” is met sy omgewing en sy skeppingsdoel.

Elke aksie of beweging vloei direk uit wie die Skepper hom/haar gemaak het en het ten doel om die spesie te laat leef en oorleef.

In my nadenke oor menswees en leierskap het dit skielik vir my 'n paar ligte laat aangaan. Wat is dit met my dat ek so worstel om te leef met hierdie tipe soomlose konneksie aan my Skepper en skeppingsdoel? Waarom beur ek heeltyd weg van wie God my geskep het om te wees? Waarom sukkel ek so om ter wille van my spesie te lewe en leef ek meestal ten koste daarvan (en ter wille van myself)?

 As dit kom by leierskap lyk die prentjie ook maar somber. Waarom worstel ek as leier so om Sy wil te sien en te leef? Waarom vang ek myself telkens weer dat ek vasgevang raak in my wil en Sy Wil as 'n aangename geurtjie wil bywerk? In die nadenke besef ek dit is nie net ek nie, dis 'n leierskaps en menswees flater. Ons almal deel daarin. Waarom kan ons nie net soos die luiperd sonder teenspraak op die leiding van die Gees reageer nie?

 So, al dinkende, beland ek tussen die Hollanders. My nadenke word navorsing en tussen ons eertydse en intydse “Prowwe” (Jan en Stephan) breek die geleentheid oop vir nuwe verstaan.

 So sit ek op “2de Paasdag” hier in my woonstel in Nijmegen en ervaar die stilte van Heilige Saterdag. 'n dag van nadenke en hartseer, in afwagting op die oopbreek van die Lewe op Paasoggend.

 En ek verstaan op 'n manier waar die kortsluiting is. Eenvoudig dit. Ons het ons “konneksie” met God verloor in ons menswees.

Die opstanding breek die lewe oop en maak dit moontlik vir ons om in Christus daardie band met God te ervaar. Die band van Vader en Kind. Skepper en skepping (bewus van 'n skeppingsdoel). 'n Nuwe moontlikheid van konneksie en instinktiewe uitleef en saamleef met die Gees.

Nuwe hoop, nuwe moontlikhede. Vir ons menswese, ons persoonlikhede, ons huwelike, ons verhoudings, ons toekoms, ons drome en ons verwagtinge. Omdat 'n konneksie met God ons loslaat, om te leef. Soos die luiperd. In plaas van worsteling, waagmoed. In plaas van wonder, verwondering.

Mag ek en jy hierdie kosbare “konneksie” in Christus met die Vader herontdek in hierdie Paasgety. Mag dit jou lewenshuis se deur en venster oopgooi, sodat die Lig kan instroom.

Mag jy onbevange leef, soos 'n luiperd. Mag Pase hierdie jaar jou help om in 'n nuwe "konneksie" te wees met God. Mag jy die nuwe lewe in Christus proe, ruik, sien, hoor en voel. Mag jy bewus wees van God se lyding en opstanding, sodat Sy leiding en nuwe begin kan beleef.

 

Dis hier.

_____________________________________________________________

Die foto hiernaas is detail van die sg. "Rheidersche Tafel" waarin die vroue by die oop graf en die hemelvaart van Christus uitgebeeld word. Dit dateer uit 400 n.C.

Views: 180

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service