PvR Gemeenskapskerk

Ontwaak! Wat het ons Bedieningspan ervaar?

Sedert die begin van die jaar is ons bedieningspan besig met 'n intense geestelike verdiepingsproses. Ontwaak! (Awaken!) en Aktiveer! (Activate!) het die proses afgeskop en ons is dit eens dat dit een van die mees verrykende en vernuwende ervarings is wat ons ooit beleef het!

Luister wat die span beleef het:

Amanda

Ek het met groot afwagting uitgesien om deel van die “Awaken” proses te wees. Ek het nie geweet wat om te verwag nie! Die woord “Awaken” het so baie betekenisse – wat gaan ek uitvind/nie uitvind nie? Of wat kan ek tog nog byleer? Nou ja, laaste woorde! Het ek nie geleer en ontdek nie – dinge wat ek geweet het en dinge wat net ewe skielik “regop” gestaan het en aan my hart kom klop het!

Hier besef ek net weer : “I am created in God’s image; God loves me just as I am” (watter bevryding is dit nie – ek kan net myself wees voor God) en dan natuurlik; “I am God’s child and I belong to him”.

Ek besef ook weereens dat ek mense wil dien -  binne my vermoë en soos ek gelei word deur my Hemelse Vader. Hier kliek ek vir myself - ons as mense het 3 basiese behoeftes, maw “caring, loving and belonging”. Dit is wat ek graag in my menswees wil uitleef en wil wees vir ander mense.

Ryno

Dit was my hulp om weereens op ‘n diep vlak oor my eie lewe te reflekteer en weereens God se doel en betekenis in my alledaagse lewe en ook werk raak te sien. Dit het my gehelp om te sien dat God se teenwoordigheid 24 uur per dag die potensiaal het om 24 uur per dag ‘n verskil in my lewe en die van ander te kan maak. Want God het my 100% uniek gemaak, met ‘n 100% unieke roeping en ook vir my 100% vermoë gegee om my lewe daarvolgens te kan inrig. Hoe sal ek my lewe daarvolgens inrig as ek nie weet wat dit is nie? “Awaken” het my gehelp om dit te ontgin en te kan verwoord en ook my lewe daarvolgens in te rig.

Om te weet dat God my geroep het vir diens in Sy Koninkryk, en te weet dat daardie roeping in my “aangewakker” is maak die wêreld se verskil. Elke dag is nou vir my ‘n “awakening”, en dit bring ongekende lewensvreugde. “Awaken” was ‘n eerste tree van ‘n wonderlike nuwe reis.

Elmarie

Wie is ek? Hoekom is ek hier? Hoekom loop my lewe soos hy loop?.... Al ooit hierdie wonders gewonder? Ek ook, en soos my aardse hemelse reis met God vorder, breek Hy vir my antwoorde oop – soms in krummels, soms in hompe! Een so ‘n oopbreek is die “ontwaak” proses wat ek bevoorreg is om saam met die bedieningspan  deur te loop en te groei.

Die bevestiging dat God met my in Sy almag besig is – dat , as ek agteruit vorentoe loop, alles in my verlede sin maak. Ek besef dat God nie pyn mors nie, ook nie myne nie en ek jubel oor mense en gebeure op my reis. Ek ontdek dat my enigste identiteit in God le, dat alles wat ek doen en weet is om te ” word”... en nie vir mag of ego nie. Dat die “word” my “roep” is om kerk te wees en dat my stukkie kerkwees is om te dien waar verhoudings swaar kry.

Ek is swanger-wagtend om te sien waarheen hierdie reis my verder gaan neem, wetend dit sal nader aan Hom wees.

Jan

Ek is in 'n fase van my lewe waar ek baie diep nadink oor die impak wat my lewe maak, moet maak en uiteindelik gaan maak. Die "Awaken" ervaring het my weer skerp gefokus op my lewensroeping, my identiteit in Christus en wat vir God belangrik is. Dit het my lewe skielik in perspektief geplaas en my gehelp om die verlede werklik af te gooi en agter te laat. "Awaken!" is die regte ding op presies die regte tyd en ek kan nie wag om dit met ander te deel nie!

Henk

Ons, as geloofsfamilie, het betrokke geraak by die proses saam met Phil Underwood omdat ons regtig probeer uitvind wat dit beteken om as gelowiges ‘n verskil rondom ons te maak. Min het ek geweet dat hierdie ‘n baie persoonlike en verrykende reis sou wees.

 Ons, as bedieningspan, het afgeskop met die “Ontwaak”-proses waar ons almal na ons eie geestelike reis gekyk het. Daarin het ek ‘n klompie merkers ontdek wat my gehelp het om ‘n volgende tree te gee. Die tree was nader aan dit wat ek glo die Here mee besig is in my eie lewe. Een ding wat ek ontdek het, is dat die Here met my werk op die manier wat ek dit nodig het. Met iemand anders werk Hy anders. Daarom is ek opgewonde oor dit wat die Here mee besig is. Ek is proses om my Godgegewe roeping te ontdek en verfyn.

 Ek sal dit graag vir enige iemand aanbeveel om deel van hierdie proses te word, want wanneer ons ontdek dat die Here met ons elkeen uniek besig is, verander alles rondom ons en kan ons ‘n verskil maak. Kom word deel van die reis saam met God!

 

Ontwaak! En Christus sal jou bring waar jou lewe Maksimum Impak gaan maak!

Views: 45

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service