PvR Gemeenskapskerk

Ek kyk en luister na die DVD van "In Verwondering" deur Louis Brittz, Retief Burger en nog. Hulle is besig daar in die gemeenskap van Sutherland en kuier by die locals een aand. Ek merk op hoe gemaklik hulle is tussen die mense en ek begin wonder of ek ook so gemaklik sou gewees het en ek wonder wat dit is wat my keer om net te wees tussen vreemdes, tussen ‘n ander kultuurgroep? Brittz bid ‘n gebed daar in die geboutjie en my hart word vol en die trane skiet in my oë en ek vra myself af: "as ons almal vir God ingemeen het en Jesus vir ons belangrik is en ons woon almal in dieselfde land, onder dieselfde sterre, waarom sukkel ek so om oor die kultuurgrens gemaklik te raak?"

Dan dink ek terug aan my jonger dae, toe ek nog in die apartheidsera geleef het en ek wonder of dit nie is omdat ons “so groot geword het nie”. Ons meng nie, want ons is anders.

En ek besluit dat dit dalk juis iets is waaraan ek moet werk. Om weg te beweeg van wat was en ‘n weg te vind om die onsekerheid, vooropgestelde idees en veroordelings te verwyder soos ou brood en intensioneel gemaklik te raak met dié wat anders is.

Vanoggend toe ek gaan draf het, het ek intensioneel (ek het hierdie nuwe woordjie ontdek by die huweliksnaweek saam Elmarie en kry dit nie uit my woordeskat nie…) vir almal verby wie ek hardloop “Hallo” te sê, maak nie saak wie dit is nie. Dis iets wat nie maklik vir my as persoon kom nie, maar ek het myself gedwing om opsetlik hardop te groet as ek verby iemand hardloop. En die resultate was verrasend en so wil ek my reis begin om gemaklik te raak tussen mense wat anders is as ek, totdat dit nie meer anders is nie, maar dieselfde. En ek is seker dat dit nog moeilik gaan wees vir ‘n rukkie, maar dis ‘n klein begin na iets beters!

Views: 83

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service