PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (11)

Plek: Bistro, Monoprix, La Boulangerie

Een van die grootste ervarings in Parys is die kos. Ja, die kos. Die Franse neem hulle kos ernstig op. Daar is ongeveer 40 000 restaurante in Parys. Elke een van hierdie restaurante, van die kleinste Bistro tot die duurste restaurant het 'n spyskaart met 'n verskeidenheid watertand geregte. Selfs die straatkafees en klein snoepwinkels bied meer as net 'n toebroodjie. Selfs die toebroodjies is ge"sjiek" na koskuns.

'n Mens se stap deur die strate bring 'n opeenvolging van heerlike geure, kleure en smake. Selfs die brood word op 'n verskeidenheid wyses voorberei en gebak.

Die uitdaging met hierdie wonderlike kos-verleiding is, wel, die beursie. Dis maklik om 'n mens self bankrot te eet in Parys. Kos wat met styl en moeite voorberei is, is duur. So, vir ons, die "skoenveter-begroting" toeriste, is daar geen ander opsie as om so goedkoop as moontlik te eet nie. Daar kom die "Monoprix" tot ons redding. Parys se grootste supermark ketting bied billike, tog stylvolle opsies vir eet. 'n Goeie, stewige ete van 'n oondvars baguette (franse brood), 'n paar stukke geurige kaas, ', koue vleis of interressante worsie en goedkoop gebottelde water is die stapelvoedsel. Dan kies 'n mens jou "dekor", die park of ander mooi plek waar jy eet en smul rustig aan jou "eenvoudige" maal. En voel soos 'n koning!

My gedagtes

Terwyl ek so knibbel aan die vars broodjie besef ek dis eintlik op 'n manier simbolies van die lewe van vandag. Ons leef omring deur leterlik duisende produkte, dienste en ervarings wat elke oomblik van die dag skree, "Koop my!!". Ons manier om onsself te beskryf is tekenend hiervan. Verbruikers. Ons bestaan om te koop en te verbruik. Of dis wat die advertensie mense ons wil laat glo.

Ek kan nie met die minste tevrede wees nie. O nee, dit beteken dan dat ek ook die minste is. Net die beste is goed genoeg, want dit skep die indruk dat ek iemand is. Iemand besonders. Iemand wat ek graag sou wou wees.

En terwyl ek so smul aan die verbruikers-buffet, krepeer ek. Van afguns en begeerte. Want in die sug na "die beste" is niks net ooit goed genoeg nie. My lewenstyl is die ondeurdagte monster wat my vrede steel. En my voorspoed. "Keeping up with the Joneses" word my motto. En ek leef onvergenoegd en ontevrede en afgunstig en teleurgesteld en ...

Of, die alternatief is, ek leef eenvoudig. Met genoeg vir vandag. Sonder om vir die mense iets te probeer wys van wie ek is deur wat ek koop of gebruik. Ek leef net. En spaar. En spandeer wys. En geniet die reis. Soos die broodjie en water onder die Eiffel. Gekoop by die Monoprix. Met die geure van die Bistro rondom jou. Tevrede, vreugdevol. Soos Jesus hulle. En ek word verras met iets spesiaal, wat ek kan bekostig, omdat ek eenvoudig gereis het, tot hier.

Die Skrifgedeelte

Handelinge 2:43-47

43 Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44 Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45 Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.46 Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47 en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Die Vraag

Ondersoek jouself vir 'n oomblik. Is jy ook 'n slagoffer van die verbruikersmentaliteit?

Is jy vergenoeg, of ontevrede met jou lewenstyl/besittings.

Op watter maniere kan jy eenvoudiger leef, minder mors en meer uit die lewe kry?

Views: 275

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Lourens van Staden op 14 Mei 2012 om 14:49

"Ek wil iets se en ek gaan dit se..."

Hallo manne, dankie Jan vir jou baie moeite en tyd wat jy insit om met ons te deel, en ons te laat dink oor daaglikse uitdagings, ons waardeer!

Ek sien dit so, as jy tevrede is met wat jy het, en besef hoe bevoorreg jy is om te he wat jy het, is dit soveel makliker om nie  "Keeping up with the Joneses" te probeer nie.

Dan kyk mens verby daai goete en is trots op wat jy bereik het, wat jy besit ens.

Soms se mense, ek is dankbaar vir wat God vir my gee, maar as ek net...

NEE, wees net DANKBAAR vir wat God jou en gee! En as daar nog meer na jou toe kom, lekkerrr geniet dit, en loof God daarvoor.

Tot volgende keer, moi loop

Kommentaar deur Deon Fourie op 14 Mei 2012 om 13:55

"Wat sal die mense sê?" Hoe baie het ek dit nie al gehoor of self gesê nie.  Ons is so behep met aanvaarding van die mense om ons dat ons vergeet van die aanvaarding van God.  Hy het ons lief soos Hy ons geskape het, maar ons is nooit tevrede met onsself nie en daarom is ons geneig om onsself te wil "op dollie" met goeters.

"As ek net..... kan kry sal ek ok wees" nog een van daai lekker sinnetjies.  Is dit ooit genoeg?  Nee, ons wil net altyd meer, maar dit is so moeilik wanneer ons kyk na mense wat soveel dinge verkeerd doen van bedrog, diestal, donker besigheds transaksies en meer en hulle het dan dit en dat.  Ons vra onsself dan af Hoekom?

Dit is altyd moeilik om te vergelyk met die wat meer het, maar wat van die wat minder het.  Wat doen ons om hulle te help? Party mense bekommer hulle oor wat hulle gaan eet en ek bekommer my of al my debietorders gaan afgaan? Not quite the same is it?

Hennie het dit so reg en ek weet Jan het dit verlede week ook in die reis gehad - Keuses

Kies jy om te wil hê wat jy het of wil jy hê wat jy begeer? Vir my is hierdie gereeld 'n uitdaging.

Lekker reis

 

 

Kommentaar deur Jan Venter op 14 Mei 2012 om 10:36

Dankie Hennie! Ek dink jy is heeltemal reg. Ons gesels in ons span oor die waarde van stilte en die bewustheid van God se stem en Sy teenwoordigheid. As ons die Herder se stem hoor, doof dit die ander stemme uit ... ook die "kerk" stemme wat in die verbruilerskanker inkoop.

Kommentaar deur Hennie Visser op 14 Mei 2012 om 10:01

Hallo Jan,

Die interpretasie kan natuurlik ook wees dat, soos jy keuses moet maak. Dit bly jou keuse - en geen advertensie kan die keuse vir jou maak nie. Net soos verskillende godsdienste en kerke binne die Christengodsdiens "skree vir aandag". Glo my, daar is nogal baie kerke wat `n mens ook maar goed minderwaardig/skuldig laat voel omdat jy hulle nie gekies het nie.

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service