PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (14)

Plek: Die Metro

Een van die eienskappe van die groot wereldstede is die goed ontwikkelde ondergrondse en openbare vervoerstelsel. Parys is wat dit betref nie anders nie. Netjiese, vinnig bewegende treine wat amper onaards (vir ons uit Afrika) op tyd hardloop. Letterlike elke stukkie van die stad is maklik en goedkoop bereikbaar. Die treinstasies is elkeen uniek. Sommige is oud en afgeleef, maar meeste het een of ander tema en gewoonlik 'n wonderlike stukkie geskiedenis.

Die wandeltonnels is vol veelkleurige kuns en reklame en, veral oor naweke, die wonderlikste kunstenaars wat musiek maak, sing, kulkuns beoefen en wat nog als. Selfs op die treine sal 'n Franse "mini-orkes" met trekklavier, tjello en viool die reisigers vermaak vir 'n paar sent fooitjie.

Wat my egter getref het, veral vroegoggend en laataand, is die lewensmoegheid van die passasiers. Elke een sit in sy/haar eie gedagtes versonkinge. Dis asof, selfs in Parys, die bekommernis en die sorge van die lewe in fokus kom op die Metro, waar ek skouers skuur met Jan en San Alleman. Dis asof daar 'n onbewaakte oomblik is, gevries in tyd, waar dit wat in die hart leef na die oppervlak dryf. Dan dink ek aan Jesus wat op 'n dag na die mense van Jerusalem gekyk het en gehuil het. Hulle was moeg en verdwaal soos skape, het Hy gedink. Ek kon nie help om die dieselfde gewaarwording te kry nie.

My gedagtes

Ek wonder toe sommer net oor myself en hoe ek die "sorge van die lewe" toelaat om my gemoedstoestand, motivering en ingesteldheid te bepaal. My gedagtes is soveel kere so deurdrenk van dinge waaroor ek my bekommer dat my lewensvreugde heeltemal weggekalwe word. Ek is so geneig om te fokus op die legkaartstukke wat nog nie geplaas is nie, dat ek heeltemal die prentjie miskyk.

My ontdekking is dat hierdie "sorge-gedrewe" lewenstyl eintlik gebrekkige vertroue is in die Here Jesus. Ek vertrou Hom nie vir wie Hy is nie. Die een wat my lewe in Sy hande het, vir wie ek al my sorge kan gee. Die Een aan wie ek my bekommernis kan afstaan. Want Hy dra dit eintlik alleen. As ek net sal los!

Die Skrifgedeelte

Matteus 6:25-34

25 “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26 Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27 Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28 En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. 29 Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 30 As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?

31 “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32 Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

34 “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

Die Vraag

Om Jesus te vertrou is nie 'n waagstuk nie. Dis 'n waagstuk om jou lewe in jou eie hande te neem. Wat is daar wat jy vandag aan Hom kan oorlaat?

Kyk na jouself in die spieel. Is die lyne op jou gesig van lewensvreugde of van sorge?

Views: 105

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service