PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (7)

Stap saam met my deur die strate van Parys en beleef hoe die Here Jesus oral te vinde is!

Plek: Eiffel "by night"

Behalwe vir die geskiedkundige betekenis en lekker atmosfeer van die Place de Alma, het dit ook 'n besonderse uitsig. Veral in die aand.

Die Eiffeltoring trek na donker 'n skouspelagtige baadjie aan. Die meer as 20 000 ligte wat vir die Nuwejaarsvieringe in 1999 gemonteer is (en sedertdien elke aand gebruik word) bied elke uur 'n baie besonderse vertoning. Vir so 15 minute is die toring helder verlig met die (soms flitsende) ligte en die soeklig op die bopunt gee dit 'n ander-wereldse gevoel.

Vir verliefde, verloofde en getroude paartjies is dit 'n "verpligte aktiwiteit" om laat-aand, hand aan hand, die skouspel te beleef.

So staan ons en geniet die vertoning saam met dosyne ander paartjies. Die kamera werk oortyd en die atmosfeer is so romanties as kon kom. 

So asof daar 'n vals noot in 'n simfonie gespeel word, raak ek bewus van 'n argument hier neffens ons. 'n Paartjie (waarskynlik Koreaanse/Taiwanese toeriste) is in 'n hewige argument gewikkel. Ons probeer die situasie ignoreer, maar dit raak al hoe moeiliker soos die intensiteit van die (onverstaanbare) konflik in volume en driftigheid verhoog.

Dit lyk asof die twee mekaar enige oomblik gaan te lyf gaan soos hulle baklei. Die man haal sy lyfband sakkie uit, vroetel daarin. ruk die vrou se paspoort uit en prop dit in haar hande. Duidelik ontstoke storm die vrou weg. Ons is verstom met die stukkie sepie-episode wat voor ons afspeel. Driftig storm sy weer terug, die argument duur voort, alhoewel meer beheersd. Al stryende stap die twee teen die Seine rivier af, darem naderhand buite hoorafstand.

My gedagtes

My gedagtes is so effe in 'n warboel, met die stukkie onaangenaamheid. Hoe is dit dat 'n mens op een van die mees romantiese plekke op aarde kan wees saam met jou lewensmaat, en die oomblik deurdrenk kan wees van konflik en onaangenaamheid? Dit was so vreemd dat dit byna onwerklik voel!

Watter onvertelde verhale het in daardie verhouding opgedam sodat dit uiteindelik op die mees onwaarskynlike plek oorgekook het?

Ek wonder oor my verhouding met my lewensmaat en ek sif so bietjie deur my eie gemoed. Wat is daar wat ek behoort te deel met my vrou, voordat dit versteen, vries of oorkook. Is daar frustrasies, teleurstellings, onvervulde behoeftes, woede of sommer net ongedeelde ervarings wat ek moet "lug gee" op 'n sinvolle wyse? Voor dit oorkook .. en seermaak. 

'n Skrifgedeelte

1 Petrus 3: 7 - 9

Net so moet 'n man hom goed gedra in sy gesin. Jy moet altyd mooi optree teenoor jou vrou en haar nie seermaak of ongeskik met haar wees nie. Onthou, sy kan haarself nie so goed beskerm en verdedig soos jy kan nie. Net soos vir jou, het God ook vir vroue die ewige lewe uit genade gegee. As jy so leef, sal jy baie rustig met God in gebed kan praat sonder dat jou gewete jou pla. 8 Vir julle almal kom dit hierop neer: moenie dwarstrekkerig wees en elkeen sy eie kop volg nie. Wees sensitief vir mekaar se gevoelens. Soos jy jou eie broer of suster liefhet, moet julle mekaar liefhê. Gee vir mekaar om en moenie te veel van jouself dink ten koste van ander nie.9 As iemand lelik teenoor jou optree, moet jy nie op jou beurt lelik wees nie. Hou jou skerp tong in, al beledig iemand jou. God het julle die spesiale opdrag gegee om liewer mooi te praat van ander mense en om God te vra om vir hulle goed te wees. As julle dit doen, sal julle ook van God al die goeie dinge kry wat Hy beloof het.

'n Vraag

Wat is daar wat jy met jou lewensmaat behoort te deel in 'n lekker openhartige gesprek?

Is julle gesprekke net ditjies en datjies, of is daar ook dieper, persoonlike intieme kommunikasie?

Watter aand van hierdie week gaan jy 'n uur saam met jou lewensmaat kuier, vir dieper gesels?

Views: 192

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Elmarie Van Wyk op 7 Mei 2012 om 17:43

Dit is so 'n kostelike(soos in kosbare)storie. Dit maak so sin dat 'n paartjie juis daar waar liefde roep om lewe, in konflik is, asof dit hul eie liefde wat roep om konneksie spieel en daar iets fout is met die beeld. Ja, maak tyd vir hierdie hartsgesprek! en onhou, jou maat is nie jou vyand nie. Jou maat is slim gekies om juis jou eie pyne te ontbloot en die plek van heelword te help skep. Dankie vir hierdie refleksie, Jan.

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service