PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (15)

Plek: Gallieni Busterminus

Ons het gekies om die reis terug na Nijmegen per bus aan te pak. Om sommer so bietjie teen "stadige pas" deur die Franse, Belgiese en Nederlandse platteland te reis. Neline se eerste ervaring in Europa moes so bietjie "local flavour" ook insluit.

So beplan, so gedaan. Baie vroeg die laaste oggend is ons met ons pakkerasie met die Metro vanaf Ledru Rolin na Republique en vandaar na die Gallieni-Porte de Bagnolet sentrum waar die busterminus is. Gewoond aan ons land se openbare vervoerdienste het ek nie geweet wat om te verwag nie. Groot was my verassing (en verbasing) toe ek die skoon, moderne bustermnius beleef. Omdat ons bang was vir moontlike chaos is ons toe baie vroeg daar en moes toe rondhang vir ons vertrektyd (die vreugdes van reis!).

Die rondwag pas my toe goed want ek het nog vir Metro kaartjies oor wat ek in 'n pakket gekoop het. Ek was van plan om dit weg te gee aan mense wat by die metro ingaan. Maklik! Toe nie. Ek sukkel seker vir 15 minute om die wantrouige Franse te oortuig van my goeie intensies. In my gebrekkige Frans/Afrikaans. Uiteindelik kry ek die kaartjies weggegee. Aan 'n ouerige man en twee dames. Albei se verbasing was amper lagwekkend. Nadat hulle met die geskenkde kaartjies deur die hekke is, selfs teruggekyk of daar nie een of ander vangplek is nie. Verwonderd en verbaas. Oor 'n Metrokaartjie. Van R10. Ai

My gedagtes

Ek sit op my tas voor die klein wagarea en is vir 'n oomblik onverklaarbaar hartseer. Is daar so min ervarings van die goeie, wat mense aan ons doen, dat selfs die kleinste gebaar met suspisie bekyk word? Ek dink aan my eie land. Die misdaad en geweld. Die uitbuiting van armes en weerloses. Die materialisme en hebsug. Ek besef dat dit nie net by ons is nie.

Die menslike kondisie het een geword van selfsug, eiebelang en ambisie. Ons leef nie meer soos mense (na die beeld van God geskep) nie. Ons leef soos 'n dierlike vorm van onsself wat mekaar vertrap en misbruik vir ons eie wins. Dis waarom ek die vreemde kyke gekry het. Die skud van die skouers. Die aggressiewe optrede. Want  dit kan mos nie wees dat ek net weggee nie. Daar moet 'n lokval wees. Wat wil hierdie man van my vat? Dis hartseer want Jesus leer ons anders.

As daar een ding is wat ons as Sy volgelinge kan doen, is dit om Jesus te leef in verhoudings met ander. Om "menslik" te leef. Om eerder te gee as te ontvang. Om ander lief te kry, soos onsself. Dis waar Jesus is. Dis wat Hy doen. as ons Hom volg, sal ons daar wees. Dis waar ons moet wees.

Die Skrifgedeelte

Lukas 6: 27 - 36

27  "Kom Ek sê nou vir julle hoe Ek wil hê julle moet leef. Julle moet julle vyande liefhê. Wees goed vir almal wat julle haat. Moenie hulle sleg behandel nie.
28 "Spreek die Here se seën uit oor elkeen wat julle vloek. Moenie iets leliks terugsê nie. Bid vir almal wat julle beledig. 29 "As iemand jou deur jou gesig klap om jou te beledig, moenie terugslaan nie. Nee, sê vir hom om jou sommer nog 'n keer op jou ander wang te klap. "As iemand jou klere wil vat, skenk dan nog 'n ekstra stel van jou beste klere aan hom. 30 "As iemand iets van jou wil hê, gee dit. Wanneer iemand iets van jou gevat het, moenie dit later gaan terugvra nie.  31 "As daar een reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Spring hulle dan voor: gaan tree eerste so teenoor hulle op. 32 "As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom en wat lief is vir julle, moet julle nie verwag om 'n medalje vir goeie diens by God daarvoor te kry nie. Almal doen dit tog, ook die slegte mense wat hulle nie aan God steur nie. En as julle net goeie dinge doen vir dié wat goeie dinge vir julle doen, het julle nog niks besonders gedoen nie. Selfs slegte mense doen dit ook.33 As julle ook net bereid is om iets te leen aan mense wat dit later aan julle sal teruggee, het julle nog niks buitengewoons gedoen nie. Sondaars doen dit ook.34 Hulle leen ook dinge aan hulle vriende, solank hulle dit op die ou end net terugkry.  35 "Ek sê vir julle: julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan hulle. Deel julle besittings met ander sonder om iets terug te verwag. Dan wag daar 'n groot prys op julle in die hemel. As julle vir ander mense omgee sonder om enigiets terug te verwag, is julle regtig kinders van die Allerhoogste.36 Want dit is presies hoe God is. Hy gee baie om vir almal hier op die aarde, of hulle goed is of sleg. Julle moet soos God wees: maak julle hart en julle hande oop vir ander mense. Gee regtig vir hulle om."

Die Vraag

Leef jy vir jouself, of leef jy tot voordeel van ander?

Wat kan jy vandag doen wat iemand sal verras met "goedheid"?

Views: 398

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Jan Venter op 18 Mei 2012 om 12:45

Dankie vir 'n great inset Eppo. Inderdaad!

Kommentaar deur Eppo Broos op 18 Mei 2012 om 11:00

Terwyl ek die stukkie lees sien ek in my gedagtes 'n trop blouwildebeeste wat 'n rivier in die Serengeti kruis en mekaar vertrap om eerste veilig deur die rivier tot by die groen gras te kom:

Ek sien ook 'n trop olifante wat rustig deur water loop en vir mekaar omgee en die kleintjies deur help:

Die Here seën ons om soos olifante om te gee vir ander en nie soos blouWILDEbeeste voort te ploeter nie.

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service