PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (5)

Wandel saam met my deur die strate van Parys, Frankryk. Ek ontdek Jesus om elke hoek en draai!

Plek: Isle de la Cite

Presies in die middel van Parys is die twee eilande in die Seine rivier waar die stad oorspronklik begin het. Sedert 4200 v.C. was hier inwoners (die sogenaamde "parisi") en later het die Romeine die stad verower en die eiland en linkeroewer ontwikkel.

Vandag is die eilande gepak met ryk geskiedenis en klassieke geboue wat jaarliks duisende besoekers lok. Onder andere is die Notre Dame katedraal en die paleis van Justisie hier.

Een van die dinge wat my aandag getrek het is die feit dat die polisie hoofkwartier hier te vinde is. Letterlik honderde polisievoertuie is ingepak in die nou straatjies teen die rivier. Die rede daarvoor is te vinde in 'n nou stegie waar 'n obskure bordjie aandui dat die sogenaamde "Tierbrigade" se eerste basis daar was. Voor die  FBI en "Scotland Yard" was dit die eerste spesialis polisie eenheid vir misdaadvoorkoming en bestryding. As kind was ek gefassineer deur die program "Tierbrigade" en dit was 'n lekker verassing om die plek onverwags raak te loop.

My gedagtes: Die krag van 'n Storie

Terwyl ek staan en kyk na die bordjie wat die oorspronklike "Tierbrigade" aandui besef ek hoe belangrik die besluite is wat 'n mens neem in jou lewe. In 1812 het die destydse premier gewaag om hierdie klompie toegewyde polisiemanne daar te stel met die hoop dat dit die onbeheerste misdaad in die stad sal kan beveg. Sonder om te weet wat die uitkoms gaan wees. Met waag en wen het die oorspronklike besluit gegroei tot honderde polisievoertuie rondom die gebou waar 'n topklas polisiediens gehuisves word. Klein, maar ingewikkelde besluit, met langtermyn positiewe gevolge ... letterlik eeue later!

Ek wonder toe oor my eie storie, en veral, watter dinge daar vandag tot stand is in my lewe wat die gevolg is van, soms obskure, besluite en keuses toe ek jonger was. Nogal 'n sinvolle gedagte sien ek toe.

En ek wonder ook, watter besluite staan ek vandag by, of later die week, of volgende maand, wat 'n langtermyn impak gaan maak op my lewe. My storie bly MY storie, ek vorm en stuur dit deur my keuses. Ek kies en die res is geskiedenis.

'n Skrifgedeelte

Psalm 16: 5 - 11

5 Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.

6 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.

7 Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.

8 Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.

9 Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig.

10 U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie.

11 U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.

'n Vraag

Watter lewensvormende besluite is ek vandag oor dankbaar? Oor watter is ek jammer?

Watter besluite en keuses is daar wat ek aan die Here kan toevertrou om langtermyn positiewe impak te maak in my (en my familie) se lewens?

Views: 263

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Eppo Broos op 3 Mei 2012 om 13:58

Dit voel vir my of ek by die huidige maatskappy begin werk het toe "Tierbrigade" nog op die TV was... Ek het na 17 jaar 'n GROOT besluit gemaak om na 'n ander maatskappy te beweeg en werk more my laaste dag by die huidige een. Al was die besluit baie groot en moelik omdat ek in 'n nuwe onseker wereld inbeweeg, het ek sekerheid in my hart want ek weet dat die Here die skuif in my lewe aangebring het om my lewe kalmer te maak vir meer tyd met Hom en my gesin. Die belangrikste aspek van alle besluite in jou lewe is om Hom deel daarvan te maak en dan sal jy verbasende rustigheid in jou hart hê oor die besluit wat jy gemaak het.

Kommentaar deur Hennie Visser op 3 Mei 2012 om 12:25

Jan, ja - ek weet ook van besluite wat ek nie geneem het nie. Watter impak gaan dit dalk maak in die toekoms? Eerstens op my eie lewe, dan die mense wat baie naby aan my is, ens. Terwyl ek dit skryf, dink ek daaraan dat `n mens sekerlik besluite moet neem - met volle vertroue in die leiding van ons Vader.

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service