PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (3)

 Ek het die afgelope vier jaar die onbeskryflike voorreg gehad om meer as een keer 'n paar dae deur hierdie pragtige stad se strate te stap en is diep getref deur die geskiedenis, drama, vreugde en tragedie wat daarin afgespeel het. In die proses het ek wonderlike ervarings van die Here Jesus gehad soos ek Hom gesoek en gesien het in die stories en plekke waarin ek myself bevind het. My reis was ook 'n pelgrimsstog. WIE sien ek daar, eerder as WAT sien ek daar.

Deel van my ervarings en probeer saam dieper verstaan hoe Jesus ons roep tot dissipelskap en ons stuur om ons wêreld te verander deur (sodat) Sy Koninkryk te laat (kan) kom

Plek: Jardin du Luxembourg

Die paleis en tuine is in die vroeg 1600's deur Marie de Medicis, weduwee van koning Louis IV ontwikkel. Die pragtige paleis en meer as 22 hektaar tuine is 'n oase en 'n lushof in die middel van die ouer deel van die stad.

Dis naby die Pantheon en die Sorbonne en huisves verskeie fonteine, wandelpaaie en plant en blomspesies. Dis 'n kleurvolle oase waarin 'n mens totaal van die malende stad vergeet as jy deur die hek stap.

Dis byna ongelooflik om te dink dat die tuine reeds 400 jaar terug beplan en uitgesit is en dis baie opmerklik om te sien hoe almal wat in die tuine inkom se lewenspas binne minute  stadiger en rustiger word. 

.


My gedagtes: Rus

Hierdie stop was nie op ons beplanning vir die dag se stap nie. Daar is soveel dinge om te probeer sien in Parys dat die dag volgeprop is en hierdie spesifieke "sight" was nie op die lys nie.

My dogter sien toe die groen kol op die kaart en vra dat ons daar ingaan. Ek pas toe nou maar die skedule aan in my kop en dag ons sal vinnig inloer. Toe nie.

Die besige strate oorgesteek en by die hekke ingestap word ons oorval deur die ervaring van rustigheid. Ons trek selfs vir ons van die groen stoele wat in hulle honderde rondstaan nader en haal ons padkos uit en sit agteroor en gesels. En wees net…. stil.

En so, onverhoeds, kry die ervarings van die oggend kans om herinneringe te word. Die hordes indrukke word stadig ‘n belewenis. Ek kry 'n diep gevoel van dankbaarheid vir die voorreg om hier te mag wees. Ek beleef vrede ... en wonder oor Sy Vrede.

Want ek STOP te min. Ek hardloop altyd. Die dagboek en volgende afspraak is alreeds in die gedagtes terwyl ek nog met jou staan en gesels. Ek luister net half. Terwyl ek onthou dat ons Vader vir die profeet geleer het HY is te vinde in die rustige aandwind. Hierdie STOP, laat my RUS.

Wanneer ons stilstaan en stilword, kan Hy in ons oor fluister en ons ons eie hart verstaan



'n Skrifgedeelte

Matteus 11:28-30

8 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30 My juk is sag en my las is lig.”
Die Bybel Nuwe Vertaling, (Suid–Afrika: Bybelgenootskap Van Suid–Afrika) 1983.

'n Vraag

Wanneer STOP ek lank genoeg om STIL te raak sodat ek God kan hoor en myself kan beleef? Wanneer gaan ek?

 

Views: 183

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Chris Homan op 30 April 2012 om 12:43

Ons is so in die reis van die lewe vasgevang dat ons soms vergeet om stil te raak en God se goed heid te ervaar.

As ons stil raak kan ons dalk tyd maak om net aan iemand te dink wat dalk deur siekte of enige ander nood vasgevang word en dalk soos in psalm 23 vra dat die Here hulle neerlê in groen weivelde sodat hulle sy wonderlike nabyheid kan ervaar.  In die stad is dit soms moeilik maar iewers in jou tuin is daar dalk 'n hoekie waat jy kan stil word weg van alles en almal en God se lede en nabyheid kan ervaar.

Kommentaar deur Hennie Visser op 26 April 2012 om 13:23

Ek onthou iets wat ek `n hele ruk terug gelees het oor die lewe soos wat ons dit ken en soos Jan hier beskryf. Dit is soos `n bokskryt. Ons storm in en veg verwoed en gee onsself net so `n minuut of twee breuk om te herstel tussen die rondtes. Maar as ons ons regtig meer tyd maak vir RUS, dan kan ons heel word en nie net so `n bietjie herstel nie.

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service