PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (8)

Ontdek Jesus om die hoeke en draaie van die stegies in Parys, Frankryk.

Die Plek: Montmartre

In die noorde van die stad, waar die Sacre Coeur katedraal bo die omgewing uittroon is die  Montmartre heuwel, wat ook die naam is van die woonbuurt daar rondom. Dis van die ouer dele van die stad (oorspronklik 'n dorpie buite die stad) met 'n ryk geskiedenis. Dis hier waar die Moulin Rouge te vinde is. 'n Meer aardse, donkerder kant van Parys. Bo-op die heuwel, langs die katedraal is die geskiedkundige ou deel van die buurt waar beroemde kunstenaars deur die loop van die 19de eeu gewoon en gewerk het. Kunstenaars soos van Gogh, Matisse, Renoir, Degasse, Modigliani en veral die bekende Pablo Picasso en Salvador Dali het hier gewoon en gewerk.

In die middel van die area is die beroemde "Place du Tertre", 'n kleinerige plein volgepak met die mees interressante klein restaurante en dan, veral, tientalle kunstenaars wat hulle daaglikse brood verdien deur hulle kreatiewe gawe hier uit te leef. Ten aanskoue van die duisende toeriste wat hulle oopmond aangaap.

Die "hustle en bustle" van die elegant geklede kelners tussen die straatkafees, vermeng met die kuns ervaring maak dit 'n lekker plek om te wees.

My gedagtes

Dis ongelooflik om te staan en kyk hoe 'n kunstenaar 'n portretstudie doen. Die skildery begin op 'n doek wat dolleeg is, en asof uit die niet verskyn daar 'n lewensgetroue weergawe van die gesig wat onseker en selfbewus poseer.

Ek kon die hele dag hier staan en net kyk hoe daar geskep word. Eenvoudige, verkreukelde , effe verwaarloosde mense wat die koue trotseer word voor my getransformeer tot inspirerende kunstenaars wanneer hulle vaardige vingers die doek bestryk.

Ek staan so en kyk na die "werk" van die kunstenaar en onwillekeurig dink ek na oor my eie lewe en my skeppende (kreatiewe) bydrae tot die plek waar ek leef.

Die Woord leer dat ek "geskep" is na die beeld van God en dat onder andere beteken dat ek 'n stukke skeppende vermoë van die Skepper ontvang het. Ek kan nie uit niks skep soos die Vader nie, maar ek kan nuut skep uit dit wat ek het.

Leonard Sweet formuleer dit baie mooi: "We were made to create, not consume". Ons is skeppende wesens wat nuutmaak in ons leefruimte en nie net nagreisende suurstofdiewe wat verbruik wat ons sien en aanbeweeg nie.

Soos die kunstenaar uitleef wat hy het, moet ek op my unieke manier my gawe/talent aanwend om nuut te maak waar ek leef, lyk dit my. Om te skep is nie net kuns nie, dit is "die kuns" om deur verhoudings, woorde, werk, bestuur, handvaardigheid, bewaring van die omgewing ens. nuut te maak en nie net te verbruik nie!

'n Skrifgedeelte

Efesiers 2:7-10

7 Niemand sal nou, of in die toekoms, ooit kan twyfel aan hoe goed God regtig is nie. Dit kan eintlik nie gemeet of ten volle beskryf word nie. Dit alles word vir ons saamgevat in die manier waarop God ons deur Christus Jesus gered het sonder dat ons dit enigsins verdien het.8 Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou.9 Dit is nie iets wat ons self reggekry het of kon doen nie: God het dit vir ons verniet gegee. Dit is nie iets waaroor enigeen van julle kan loop en spog nie, want dit is nie asof julle self daarvoor gewerk of dit verdien het nie.10 Onthou, God het ons gemaak wat ons nou is. Dit is Hy wat ons nuut gemaak het omdat ons Christus Jesus s'n is. Hy het dit gedoen sodat ons reg en goed kan leef soos Hy lankal besluit het ons moet leef.

'n Vraag

Besef ek dat ek geskep (en NUUT geskep in Christus) is, sodat ek kreatief kan leef en kan skep met my gawes?

Wat het ek in die afgelope  weke, maande geskep? (Deur verhoudings, werk, kuns, handvaardigheid, bewaring ens.)

Hoe kan ek meer skeppend leef? 

Views: 130

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service