PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (13)

Plek: Musee Rodin

By hierdie museum, wat totaal gewy is aan die beroemde kunstenaar Rodin, staan hierdie baie bekende beeldhouwerk. Dis die beeld van 'n man wat baie diep nadink. Oor wat weet ons nie, maar dis duidelik dat hy ernstig reflekteer.

Die afgelope paar weke se pelgrimsreis het onder andere 'n klomp gedagtes wakkergemaak oor die vreugdes en oorvloed van die lewe. Vanoggend, by Halftyd, het ons soos "Die Denker" stilgeword en nagedink daaroor, na aanleiding van Psalm 34. Spesifiek, dit waarvoor ons as manne kan dankbaar wees. Regtig dankbaar. Ons het saam 'n Psalm geskryf en ons deel dit graag met jou.

'n Psalm van Halftyd

Die dankbaarheid van 'n man

1 Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees. 2 Here, U gee my lewenskrag en gesondheid. Ek kan hoor, sien, voel, ruik en proe. Ek kan beweeg, oefen en myself inspan tot U eer. 3 Dankie vir die vaardighede en talente wat U my gee. Ek kan my werk, stokperdjies en belangstellings beoefen, en sukses daarmee behaal. Ek kan my vermoëns tot die maksimum uitleef en 'n bydrae lewer. Aan U al die dank! 4. U het my 'n lewensmaat gegee, wat ek mag liefhê en dien. Dankie vir die voorreg en die manier hoe sy my lewe verryk. 5. Dankie vir kinders. As ek nie self kinders het nie Here, het ek steeds die voorreg om 'n jong generasie te mentor en te seën met my menswees. My eie kinders is nie net vir my 'n verantwoordelikheid nie, dis 'n ontsagwekkende vreugde en gawe. Ek eer u daarvoor.

6 Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees. 7. Ek is so dankbaar vir my geloofsvriende. As dit nie vir hulle was nie, was ek al lankal die pad byster. Hulle is U gawe aan my en ek loof U vir hulle bydrae tot my reis. 8 Dankie dat ek 'n beroep mag beoefen en elke dag kan werk. Dankie vir geleenthede, uitdagings en frustrasies wat ek moet hanteer. Baie het nie die voorreg nie. 9 Dankie dat u my geestelik laat groei. Ek kry so lewenskrag, nuwe insigte en perspektief en al gaan dit soms gepaard met pyn en worsteling, weet ek U slyp en vorm my daardeur. 10 Dankie vir alledaagse vreugdes van die lewe. Lekker kos, die natuur, vriende, huisvesting en versorging, mooi dinge en vele meer. U het 'n oorvloed geskep vir my plesier, en ek wil soveel as moontlik genot daaruit put

11 Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees. 12 Here, U verhoor my gebede en U het my oneindig lief. U is 'n genadige, getroue Vader vir my. Ek het dit so nodig. 13 Ek eer U, want U laat my nooit alleen nie. U voorsien in al my behoeftes, selfs die waarvan ek nie eers bewus is nie. Selfs toe ek met minder moes klaarkom as wat ek nou het, het u my versorg en gedra. 14 Dankie dat ek keuses het. Ek kan kies hoe ek dink en voel oor dinge. Ek kan kies wat my gemoedstoestand is. Ek kan kies hoe ek lewe. Dis 'n voorreg.

15 Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees. 16 Here, U is my lewe. Ek dank U vir my verlossing in Christus, U genade, geduld en barmhartigheid met my. 17 U is my reisgenoot op my lewenspad, soos 'n goeie vriend is U altyd daar vir my 18 Ek verdien nie U oorvloedige liefde nie, maar U stort dit elke dag oor my uit. Dit laat my klein, nederig en baie bevoorreg voel.

18 Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees.

Die Skrifgedeelte

Psalm 34

Die Vraag

Wees 'n bietjie "Die Denker" en dink na waaroor jy vandag dankbaar is? En vir wie?

Stuur 'n epos/maak 'n oproep na/gesels met van die mense vir wie jy dankbaar is en deel met hulle jou gewaarwording.

Views: 263

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service