PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (6)

Nog 'n stilstaan en dinkplek in die strate van Parys, Frankryk.

Plek: Place de Alma

Naby die Champs Elysees, in die rigting van die Eiffel is die "Pont de Alma", een van die die vele brue oor die Seine. Aan die stad se kant is daar 'n sameloop van verskeie strate wat 'n klein plein vorm, die "Place de Alma". Die Ave de  New York en George V is die belangrikstes. Daar is verskeie netjiese straatkafees en veral die replika van die "Statue of Liberty" se vlam wat in die laat 19de eeu aan Parys geskenk is. Die kruising is egter berug as die plek waar Prinses Diana gesterf het. Die motorongeluk het in Ave de New York, in die tonnel amper reg onder die vlam plaasgevind.

Dis hier waar ek en Neline diep ingedagte die oomblik geniet het, toe 'n indo-franse man met 'n bos rooi rose my op die skouer tik en met 'n sjarmante aksent die skoonheid van my "vrou" besing. Ek kry hom gestuit met die aansuiwering dat dit my dogter is, wat nie sy spoed breek nie. Hy stoom voort oor haar skoonheid en aantreklikheid en so voorts. Op 'n stadium druk hy 'n rooi roos in haar hand met sy beste wense, en toe ons hom uiteindelik bedank vir sy vriendelikheid en omdraai om weg te stap (met die roos) kom die tweede tik op die skouer: " Sorry sir, but this is my business. Would you mind paying me for the flower". Natuurlik het ek driftig die roos teruggegee en sy nors gesig geignoreer en die hasepad gekies. Uitgevang, was ek.

My gedagtes

Vir seker 'n halfuur lank was my gemoed versteur met die "vals" ervaring. Ek moes geweet het, bly ek myself herinner, maar die onaangename nasmaak van die ervaring neem selfs vir 'n tyd my verwondering met die stad weg. Dis asof Parys skielik 'n wanklank gekry het. En ek wonder by myself. Is dit hoe dit vir ander voel wanneer my gedrag en optrede my getuienis as volgeling van Jesus weerspreek? Is dit die nasmaak wanneer ek onnadenkend of opsetlik nie in waarheid leef of optree nie. Nog meer intens. Is dit dalk hoe my Here voel wanneer ek nie leef soos Sy volgeling nie?

'n Skrifgedeelte

Openbaring 3: 14 - 16

14 Skrywe aan die leraar van die gemeente in Laodisea: So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het: 15 Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! 16 Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.

1 Johannes 1:6-9

6 As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7 Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 8 As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9 Maar as ons ons sondes bely — Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

'n Vraag

Ek dink aan geleenthede waar ek my getuienis met my gedrag/optrede verraai het. Bely dit en ontvang die vergifnis wat die Here skenk.

Vra die Gees om my  bewus te maak "in die oomblik" van hierdie versoeking om sonder integriteit op te tree en my te help om die weg te kies van volkome openheid en eerlike volgelingskap, op 'n manier wat God verheerlik en aan ander liefde betoon

Views: 172

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Wardi Smit op 4 Mei 2012 om 14:53

Ons moet onthou, ons word anders beoordeel wanneer ons se ons is christene. Ek luister altyd hoe ons eie familie snaakse opmerkings of grappe maak oor ons betrokkenheid by die kerk. Ek se altyd "daar is waarheid in elke grap of opmerking" Noem dit maar hulle is jaloers oor ons verhouding met die Here of wat ook al. Al ons vriende is vriende wat ons by die kerk ontmoet. Dit is mense wat in baie van ons waardes deel en inbou in ons lewens.

 

Ek persoonlik kies eerder om in my dade te wys dat ek n christen is(Kry dit ook nie altyd reg nie). Woorde is nie altyd nodig nie. Die Gees werk tog deur ons. Die vraag wat ek oor dink altyd is, is wat dink die mense van die kar met die plakkers op wat se "Real men follow Jesus". Is dit dit nog n huigelaar wat daar ry, want kyk maar net hoe bestuur so n persoon.

 

Ek lees nou die dag n berig op news24 wat se: "

Lawyer caught doing 201km/h in Pretoria

2012/04/06 03:34:13 PM

Johannesburg - A lawyer was arrested for speeding on the Mabopane freeway, north of Pretoria, on Friday, Gauteng traffic police said.

The 29-year-old was on his way to church when he was caught driving 201km/h in a 120km/h zone, spokesperson Busaphi Nxumalo said.

"He had no valid reason at all, just that he was late for a church service."

 

Is dit hoe christen hulle moet gedra. Onmiddelik het die persoon soveel skade gedoen, hulle besef dit nie eers nie.

 

Ons moet altyd in gedagte hou dat die wereld na ons kyk en ons met valk oe dop hou. Hulle huiwer nie een oomblik om ons tereg te wys op ons foute nie. Dit is waar n mens se vriende n groot rol speel. Hulle is daar om jou te wys wanneer jy nie reg optree nie. dit is n veilige omgewing waar n mens n koers aanpassing kan maak sodat jy n goeie voorbeeld vir ander kan wees.

 

Dit is my filosofie en dit is hoekom ek baie gaag luister na wat ander se, veral my vriende en familie.

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service