PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (2)

Ek het die afgelope vier jaar die onbeskryflike voorreg gehad om meer as een keer 'n paar dae deur hierdie pragtige stad se strate te stap en is diep getref deur die geskiedenis, drama, vreugde en tragedie wat daarin afgespeel het. In die proses het ek wonderlike ervarings van die Here Jesus gehad soos ek Hom gesoek en gesien het in die stories en plekke waarin ek myself bevind het. My reis was ook 'n pelgrimsstok. WIE sien ek daar, eerder as WAT sien ek daar.

Deel van my ervarings en probeer saam dieper verstaan hoe Jesus ons roep tot dissipelskap en ons stuur om ons wêreld te verander deur (sodat) Sy Koninkryk te laat (kan) kom

 

Plek: Place de la Contrescarpe

Suid van die Seine rivier is die klassieke, ouer dele van die stad. Die sogenaamde "Latin Quarter". In die hartjie van hierdie gedeelte is die Rue Mouffetard, 'n regte outydse wandelstraat waar jy enigiets van die mees eksotiese seekos, kaas, vleis en snuisterye kan koop.

Aan die bopunt van Rue Mouffetard is die klein plein met die naam Place de la Contrescarpe. dis omring deur elegante "Bistro's" met 'n fontein in die middel. dit dateer uit die vroegste eeue van Parys en dit was onder andere die uithangplek van beroemde skrywers, digters en filosowe. Vandag kan 'n mens steeds net om die hoek gaan stilstaan by die skrywer Hemingway se een blyplek in die stad. Die plein het al in verskeie films 'n "hoofrol" vertolk, onder andere in die onlangse "Midnight in Paris", van Woody Allen.

My gedagtes - Wat sien ek raak?

Wat net 'n historiese ervaring moes wees, word toe 'n diep geestelike konfrontasie. Toe ons uit die Rue Mouffetard opstap na hierdie plein was ek baie opgewonde om 'n goeie foto vir die nageslag te neem en siedaar, toe ons in die plein instap is daar 'n hawelose man met sy hele "boksemdaais" reg voor in my kameraskoot. Ek was onmiddeik verontwaardig dat hierdie pragtige plek so ontsier word. Tot my skaamte het ek my bes gedoen om 'n kameraskoot te kry waarop die man nie is nie, maar die beste foto was steeds een waar hy sigbaar is. (Links in die foto hiernaas).

'n Paar straatblokke verder begin my worsteling. Met my geveinsdheid. My blindheid. My selfgesentreerdheid. My onvergenoegdheid.

Ek hoor Jesus se stem ... oor die geringstes, en ek skaam my vir myself en my effense liefde en omgee.

Wat sien ek? Wie sien ek raak in hierdie wêreld? Kyk ek met Jesus se oë? Voel ek met Jesus se hart? Of kies ek hoe ek volg? Kies ek vir my terme en behoeftes? Of beweeg ek saam met Jesus en hoor en reageer op Sy hartklop? 

'n Skrifgedeelte

Matteus 25:31-40

“Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. 32 Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei. 33 Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan. 34 “Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, 35 want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36 Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ 37 Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38 En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? 39 Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ 40 En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’ 

Die Bybel Nuwe Vertaling, (Suid–Afrika: Bybelgenootskap Van Suid–Afrika) 1983.

'n Vraag.

Is ek bewus van, en oop vir, nood en swaarkry rondom jou? Hoe laat ek Jesus toe om my te beweeg wanneer ek met materiele, emosionele of persoonlike nood te doen kry?

Views: 315

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Chris Homan op 30 April 2012 om 12:37

Pynlik om elke oggend die maane by Hans Strydom se hoek te sien staan en te wonder oor elkeen van hulle se storie wat hier agter gelaat het.

Ek besoek Cody Bell wat so rukkie terug met ons kom praat het oor sy werk wat hulle doen.  Hulle het die afgelope sommer uit die bloute gehoor van 'n plek wat in die moeilikheid was en het toe by die plek 'n groot skenking gekry wat hulle in staat gestel het om honderde mense kos te kon gee.

Die ou man op die hoek se kinders weet nie hy staan en bedel op die hoek nie.  HY eht aan die einde van laas jaar geld bymekaar gemaak om vir sy kinders te gaan kuier. Iets het voorgeval dat hy nie kon gaan nie. Hy het sy geld geneem en dit vir 'n vrou van Zimbabwe wat ook op die hoek staan en bedel sodat sy na haar familie toe kon gaan oor die Kerstyd.

Die Bells het hom gaan oplaai op oukersaand en hom na 'n restaurant geneem sodat hy ook iets van die liefde van die kinders van God kan ervaar.

Die Bells beplan om dit nou 'n instelling te maak om so 'n goeie daad te doen.

Ek kon maar net my kop in skaamte laat sak.

Hoe maklik kan mens nie iemand anders se lewe raak deur 'n baie klein aksie van jou kant af. 

Kommentaar deur Jan Venter op 26 April 2012 om 12:21

Dankie vir julle diep saamgesels manne. Dankie vir die liedjie Wards, dit maak die reis ryker!

Kommentaar deur Eppo Broos op 26 April 2012 om 11:53

Ek het sopas teruggekeer vanaf Kaapstad en dit is nogal 'n "eye opener" as jy vlieg na Kaapstad en jy kom in om te land en net nadat jy jou verwonder het aan die prag van die see en die berge, sien jy die verskriklike armoede van mense wat in shacks bly reg onder die vliegtuig en orals om die lughawe. Volgens Wikipidia is daar laasjaar 8,200,000 passesiers deur Kaapstad lughawe. As elke passasier net 'n R5 muntstuk by die venster kon uitgooi voor hul land, sal daar elke dag R112,000 reën en baie mense kos gee!

Kommentaar deur Johan Esterhuyse op 25 April 2012 om 19:52

Ek word in die oggende stil en gesels met die Here, vanoggend het ek Hom gedank vir die seëninge wat Hy oor ons uitstort, Hy laat weer manna op ons besigheid reën, ek weet nie hoekom nie, ek het niks gedoen nie, dit wat ek beplan en uitgevoer het is tot niet ..... geld in die water en daar het niks van my eie arbeid gekom nie.

 

Later is ek op pad terug huis toe nadat ek my kind by die skool afgelaai het, by die McDonalds verkeerslig kom ek die jong man tee wat hulp vra, ek gee gereeld geld maar vanoggend wonder ek “hoekom gaan sny hy nie gras vir geld nie”, en gee hom toe niks.

Sy lippe prewel altyd en ek kan nooit uitmaak wat hy se nie.

 

Maar vanoggend toe ek weg ry kyk ek terug in my spieël, ek word yskoud toe ek hom hier bý die kar in die spieël sien, dit voel of sy oë sagmoedig na my kyk en die geprewel op sy lippe “klink” smekend.

Daar kom ʼn vrees oor my hele lyf, ja, nie ʼn skuldgevoel nie maar ʼn vreesgevoel.

Ek kry hoendervleis oor my hele lyf toe ek by myself dink, “vanoggend sê ek dankie vir al my seëninge en wonder hoekom ek dit verdien, nou sien ek Jesus in die man se oë en word eintlik bang.

 

En die vraag is; Wat mis ons van God se woord?

 

Vanaand kry ek toe die antwoord:

Matteus 25:40 En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

Dankie vir die Pelgrimsreis.

Jacob Jester

Kommentaar deur Wardi Smit op 25 April 2012 om 16:33

My gedagte is "Wat as dit Jesus is wat vir ons staan en kyk of ons vra vir n stukkie brood." Ek weet net ek val baiekeer baie te kort in die opsig. Die liedjie laat my weer net besef dat ons nie net met ons eie goed moet besig wees nie. Ons moet kyk en luister vir die nood van ander en dit is nie net bedelaars nie. Ons mis baie die nood in ons eie huis en vriende kringe.

http://youtu.be/7Gx1Pv02w3Q

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service