PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (9)

Plek: Rue Mouffetard

Weggesteek in die ouer deel van die stad is 'n "kos"telike ervaring in die vorm van 'n antieke "cobblestone" straatjie gepak met outentieke, outydse straatwinkels. Die Rue Mouffetard. As jy in die steil straatjie afstap lyk dit kompleet asof iemand die winkels in die straat omgedop het soos die kleure, geure, teksture en ervarings op straat oorspoel. Elke winkeltjie het 'n "uitswaai gedeelte wat heel vernuftig die winkel se grootte verdubbel (op straat) en snags terugswaai agter die geslote deur.

Wat my gefassineer het is die magdom en verskeidenheid van vars en ander produkte wat hier te beleef is. Beleef ja, want 'n mens kan nie alles koop nie, al wil jy. Seekos winkels wat 'n verstommende verskeidenheid eksotiese produkte aanbied. Die "Boulangeries" (Bakkerye) se unieke, krakerige baguettes en geniaal ontwerpte fyngebak. Die geur vanuit die "Fromagerie" (Kaaswinkel) met sy verbysterende verskeidenheid kase, en 'n gulhartige eienaar wat jou laat proe van sy beste. Die "Cocholatier" wat vroegoggend vuurwarm "regte warm sjokolade" aanbied en fantastiese sjokolade in sy venster uitstal. Unieke klerewinkeltjies van oorspronklike ontwerpers. "Designer" vleis in 'n "designer slaghuisie", vars vrugte en groente wat lyk asof dit sopas van die lande en die boord kom.

My gedagtes:

Hierdie koue vroegoggend in Rue Mouffetard kon ek nie anders as om my te verwonder in die rykdom en oorvloed (oordaad?) van 'n vrygewige en genadige God nie. Dit wat ek op 'n klein menslike manier beleef in hierdie straatjie is eintlik maar simbolies van die oorvloedige seeninge en genade wat ek ontvang uit die hand van God. God strooi en stort skoonheid, geur, smaak, kleur, emosie en belewenis oor ons uit op so 'n wyse dat ons omring en oorrompel daardeur behoort te word.

Maar ek doen nie. Ek kyk vas teen my eie voete. Ek worstel met my self en my "gebreke". Ek knie my frustrasies en "tekortkominge". En sien die Goeie Gewer wat Sy hande gevul met oorvloed na my uitsteek nie eers raak nie. Ek besef dat "Verwondering" 'n besluit is.

'n Besluit om te sien dat Hy seen, gee en uitstort. Ek besluit om in Rue Mouffetard te bly. My eie ene. Gevul met God se genadestorting. Maar ook bewus daarvan. En my hart word vol en dankbaar. En bly so.

Die Skrifgedeelte

Psalm 16: 5-11

5 Alles wat die Here vir my doen, maak my vol vreugde. Hy is die grootste geskenk wat ek nog ooit gekry het. U sorg vir my, Here.
6 U het die mooiste dinge in die lewe vir my gegee.
Ek kan nie uitgepraat raak oor al die wonderlike dinge nie.
Dit maak my baie gelukkig. Ek bly in 'n mooi land.
7 Ek sal die Here prys.
Ek wil sy Naam grootmaak omdat Hy my hand vat en my op die regte pad lei.
Selfs as ek slaap, weet ek Hy is by my.
8 Daar is nie 'n oomblik van die dag dat ek nie aan die Here dink nie.
Hy is die belangrikste in my lewe.
Hy is altyd by my.
9 By Hom is ek veilig; Hy hou my op die regte pad.
Ek is baie bly;
my blydskap hou nooit op nie.
U sal nie toelaat dat die dood my onkant betrap nie.
10 Die dood kan niemand wat U liefhet uit u hand wegruk nie.
Ek sal nie in die graf beland nie.
11 U sal my leer om reg te lewe.
Daar is niks wat iemand groter blydskap kan gee as om saam met U te wees nie.
U gee altyd vir u kinders die heel beste.
Hulle kry die heel mooiste wat die lewe aanbied by U.

Die Vraag

Leef jy met VERWONDERING vor die aangesig van God?

Maak 'n lys van 10 dinge in jou onmiddelike omgewing (daar waar jy nou sit) waarin jy die seen van God kan raaksien. (Brei die lys uit soos jy huis toe ry vandag)

Views: 157

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Jan Venter op 11 Mei 2012 om 5:53

Dankie vir die "lysies" julle! Dit skerp my op om ons Vader op te merk!

Kommentaar deur Christo van den Bergh op 10 Mei 2012 om 19:42

1. Die sons opkoms vroeg more as ons gaan fietsry

2. Die reën, wat sommer vandag weer effe geval het. So "buite seisoen".

3. Die gras in die tuin wat steeds groen is.

4. Die bome en blomme so om ons.

5. Die lekker koel aande nou in herfstyd.

6. Die wolke wat vorm en hervorm en nooit dieselfde lyk nie!

7. My vrou en kinders!

8. Die "saalgenote" en ander boeties en sussies in ons geloofsfamilie.

9. Die tegnologie van vandag wat alles so maklik en vinng maak.

10. Die Lewende God wat ons dien en wet ons Vader is! Wat 'n wonderlike voorreg.

Dankie Jan vir die inspirerende woorde elke dag en wat mens se gedagtes lekker aan't loop sit! Prys die Here vir alles wat ons as vanselfsprekend aanvaar en nooit eers dankie sê daarvoor nie!

 

Kommentaar deur Deon Fourie op 10 Mei 2012 om 9:17

Die basics:

1. Ek lewe

2. Ek kan sien

3. Ek kan lees

4. Ek het hande

5. Ek kan skryf (tik)

6. Ek het werk

7. Die son skyn

8. Ek kan hoor

9. Ek kan voel

10. Ek kan loop

Dankie Jan, hierdie is als seëninge wat God my gegee het wat ek as vanselfsprekend aanvaar en O so min keer vir Hom dankie sê.  Ons verdrink in ons oorvloed, maar ai ek kan so maklik kla oor my begeertes.

Thanks vir die "wake-up call"

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service