PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (12)

Plek: Straatkafees - Joie de Vivre

Een van die lekkerste ervarings in Parys is die transformasie van die stad teen laatmiddag. Deur die loop van die dag is dit soos enige ander stad met besige werksmense, aflewerings, bedrywige winkels en goedgeklede mans en vrouens wat (selfoon teen die oor) na die volgende afspraak haas.

Laatmiddag egter, ondergaan die stad 'n ontwaking van soorte. Terwyl die toeriste nog haas om te probeer om voor donker 'n laaste besienswaardigheid te besigtig, word die dig verspreide straatkafees se veelkleurige stoeltjies en tafeltjies volgepak met mense (meestal plaaslike Parysenaars) wat rondom 'n glas rooiwyn, 'n goeie koffie en 'n lekker bord kos saamkuier. Hoe later, hoe lekkerder. Ek kan my verkyk aan die luidrugtige gesels, handgebare en uitbundige lag van die "straatkafee mense". 

Daar is 'n mooi Franse uitdrukking, "Joie de Vivre". Dit beteken rofweg om jou te verlustig in leef, of vreugde te vind in leef. Die mense in die straatkafees is 'n sprekende voorbeeld hiervan. Die uitdagings van die dag vergete in 'n oordadige leef-ervaring. Dis om die lewe in al sy skakerings te proe en te ruik en te sien en jouself daarin te verlustig. As 'n mens in die aande deur die ouer deel van die stad stap spoel die "Joie de Vivre" uit op straat. Dit skyn uit die helder verligte "Bistros" se vensters. Teen die Seine, naby die Notre Dame, pak die mense die rivierwal gewapen met 'n ligte ete en 'n bottel wyn. En leef. Oordadig. Lekker. Joie de Vivre in aksie.

My Gedagtes

Ek vra myself af, terwyl ek glimlaggend die vreugde en kuier rondom my geniet, hoeveel lewensgenieting is daar in my bestaan? Kyk, ek geniet die lewe, maar dis amper asof ons "Afrikaanse Calvinisme" ons weerhou daarvan om met oorgawe en oordaad te leef. Soos my ma altyd geleer het: "Alles met 'n TE vooraan, is sonde".

Maar dan sien ek weer ons God se oordadige en uitbundige skepping. Die malsheid van kleure, geure en belewenis wat Hy geskep het vir ons genieting. Sodat ons kan lekkerkry. Die geur van heerlike kos. Die reuk van parfuum. Die mooi van 'n sonsondergang. Dis Sy styl.

Dalk moet ek meer leef. Met meer lewensvreugde. Dalk moet ek meer dinge doen wat sommer net vir die lekker is. Dalk moet ek minder "stres" oor wat ek eet en meer geniet wat ek eet, al eet ek minder. Dalk moet ek meer saam met goeie vriende kuier, en net wees. Ja, ek moet meer ontspan en rondom my kyk en geniet. Dalk moet ek net leef, en dit geniet. 

Die Skriflesing

Johannes 10:7-16

7 Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8 Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9 Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 10 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

11 “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.12 'n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy 'n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. 13 Hy is 'n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.

14 “Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My,15 net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. 16 Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder.

Die Vraag

Watter besluite kan jy neem vandag om die lewe meer te geniet?

Watter bekommernisse kan jy vandag in die Here se hande laat om vandag met vreugde te LEEF!?

Views: 244

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Jeandre Prinsloo op 15 Mei 2012 om 19:32

Ek dink dit is een van die moeilikste goed as man om jou bekommernisse oor te gee. 'n Man wil mos altyd "beheer" he. Ek worstel elke dag daarmee.

Hoe meer tyd jy aan God en jou stilte tyd gee, hoe beter raak jou verhouding met die Here en hoe makliker is dit om net te se, "Here help my dra aan die bekommernise". Ek sukkel self daarmee, die lewe is so gejaag, dat voor jy jou oe uitvee is dit alweer tyd om te gaan slaap en het  ek nooit by my stilte tyd uitgekom nie.

Kommentaar deur Wardi Smit op 15 Mei 2012 om 14:43

Ek was eenkeer in n seminaar waar die aanbieder met ons gedeel het. Die stuk kom van Beethoven se "Ode to Joy" Ek het die uitgeprint en op my tafel gesit by die werk om my elke dag te herhinner dat ek met vreuge die dag moet aanvat. Dit beteken baie vir my en wil dit graag deel met julle:

 

Ode to Joy

 

Joy, beautiful spark of Gods,

Daughter of Elysium,

We enter, fire-imbibed,

Heavenly, thy sanctuary.

Thy magic powers re-unite

What custom's sword has divided

Beggars become Princes' brothers

Where thy gentle wing abides.

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service