PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (8)

Die plek: Strate van Parys (Voetslaan is die manier)

Parys staan bekend as 'n "walker's city". Veral in die middestad waar die meeste besienswaardighede te sien is, is die voorkeur manier van oor die weg kom om jou tekkies aan te trek en die strate in te vaar. Letterlik elke stukkie straatblok het iets spesifiek om jou in te verlustig. Daar is geure, kleure, mense, plekke, ervarings en nog meer wanneer jy as wandelaar met jou kaart die stad instap.

Daar is net een probleem hiermee. Seer voete! Ons het in twee dae so ongeveer 35km in die stad gestap en ons "stadsvoete" is nie gewoond aan al die voetslaan nie. Later in die dag is daar nog soveel wat 'n mens wil sien en doen, maar 'n mens se voete keil jou elke tree van die pad op. 

Dis dan wanneer jy "grin and bear it" en met jou kaart in jou hand en die vooruitsigte in gedagte, nog 'n paar straatblokke verder op jou brandende voetsole verder wandel. Uiteindelik, aan die einde van die dag, is 'n mens dankbaar dat jy nie moed opgegee het oor die seer voete nie. Soveel ervarings en belewenisse verder, maak die dapper stappery alles die moeite werd.

My gedagtes

Terwyl ek my brandende voete trotseer besef ek dat ons basies twee keuses het in die lewe. Om te reis, of oor te bly. Reis het inherente uitdagings. As toeris trotseer 'n mens lughawens, bushaltes en uiteindelik die lang stapdae in Parys. As persoon is ons op verskillende lewensreise. Een daarvan is die persoonlike/geestelike reis.

Ook hierdie reis vra moeite, inspanning, vasbyt vir die ervaring, waagmoed en soveel meer. Op hierdie reis raak ons voete ook seer en ons tam en het ons nodig om uit te span en die voete te laat rus. Die vraag is: "Stap jy om te rus, of rus jy om te stap"? Dit lyk vir my 'n sinvolle lewensreis is 'n staptog, met rustye, om weer te kan stap. "n minder sinvolle manier van lewe is om so vinnig as moontlik deur die groei ervarings te stap, sodat ons net weer kan neerplons en vir 'n tyd niks doen nie.

Op laasgenoemde manier leef jy minder en armer en kyk terug op 'n dag/tyd vol uitspan en bietjie beweeg. God roep ons om Hom te volg en juis te soek na die langer/aanhoudende stap, sodat ons die wonderlike uitsigte van groei kan beleef en wanneer ons rus, herlaai, vir die volgende wandeling. Om volgelinge van Jesus te wees, beteken juis dit ... om in beweging te bly en Hom te volg!

Die Skrifgedeelte

1 Thessalonisense 1:2-6

Elke keer wanneer ek met God oor julle elkeen praat, is daar net een woord op my lippe: Dankie!3 Ek vertel oor en oor vir God ons Vader hoe julle julle geloof uitleef in alles wat julle doen. Julle liefde vir ander mense vra baie groot opofferings van julle. En julle hou ook onverskrokke vas aan ons Here Jesus Christus se beloftes dat Hy terugkom. 4 My broers en susters, julle doen al dié wonderlike dinge omdat God julle baie liefhet. Hy het julle uitgekies om sy kinders te wees.5 Die goeie nuus oor Christus wat ons daar by julle gepreek het, was nie maar net 'n klompie mooi woorde nie. Nee, die Heilige Gees het ons prediking kragtig in julle lewens gebruik. Hyself het julle oortuig om in Christus te glo. Julle onthou nog baie goed hoe ons daar by julle opgetree het. Julle weet mos dit het net oor julle redding gegaan, oor niks anders nie! 6 Julle het gou-gou ons voorbeeld begin volg. Daarom is julle nou, net soos ons, volgelinge van die Here. Ek weet dit was glad nie vir julle maklik om Christene te word nie. Onder baie moeilike omstandighede het julle begin glo. Tog het julle die goeie nuus met groot blydskap aanvaar. Dit is net die Heilige Gees wat sulke blydskap in 'n mens se lewe kan bring.

Die Vraag

Rus jy om te reis, of reis jy net om soveel as moontlik te rus?

Watter "seervoet" groeireise is jy mee besig in navolging van Jesus? (Skryf dit neer en bid spesifiek daarvoor)

Views: 210

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Kommentaar deur Deon Fourie op 9 Mei 2012 om 11:15

Weereens kom die gedagte terug na besluite.  Ons kan besluit om te rus of om te reis.  Een van my vrese is om eendag 'n " What if?" oomblik te hê. 

Wanneer ons op ons lewensreis is saam met ons gesin, familie en vriende is dit so belangrik om saam te stap en nie 'n sittende toeskouer te wees nie.  Om deel te wees van iemand se lewe beteken om jou tekkies aan te trek en saam te stap deur sonskyn, reën en veral storms.  Hoe maklik is dit nie om te sê "nou-nou" of "wat van more" en dan het ons so pas besluit om 'n deel van die reis te rus of sal ek sê MIS.

Ek het weer die afgelope tyd besef dat daar so baie dinge is wat ek gemis het saam met my vrou en seuns omdat ek te veel gerus het of te besig was met my eie EK-reis en nie altyd deel was van hulle reis nie, maar ek het 'n bewustelike besluit geneem om dit te verander en wat 'n voorreg en belewenis. 

As jy die geleentheid kry om die film Courageous te kyk - maak so!  Die wat dit al gesien het sal met my saamstem "There is no better time than the Present!"

Wees deel van die reis terwyl jy nog kan en weet dat elke tree wat jy saamstap 'n verskil maak aan jou mede stapper en op 'n stil manier definitief ook aan jou.

Lekker Reis!

Kommentaar deur Elmarie Van Wyk op 9 Mei 2012 om 9:11

Dankie Jan - wat 'n voorreg om ook reisgenote te ken, te ontmoet, te bemoedig en deur wie ek bemoedig word!

 

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service