PvR Gemeenskapskerk

Gesigte van Jesus, in die strate van Parys (10)

Plek: Die sypaadjies van Parys

Toe ek die eerste keer oppad was na Parys was die meeste mense se advies aan my om net tog nie Engels met die Parysenaars te praat nie. Glo is daar 'n effense krapperigheid oor die taal en die mense. "Praat eerder Afrikaans, en slaan dan oor na die rooitaal" was lyk my die aangewese strategie. So, gewapen met 'n paar basiese Franse frases en my moedertaal pak ek die strate van Parys.

Groot was die ontnugtering toe ek ontdek dat die gemiddelde franssprekende op straat was nie net maar dun gesaai nie, hulle was oor die algemeen onwillig om te help en aanwysings te gee. Eers dink ek "dis darem 'n ongeskikte spul", maar toe ek so slag stilstaan op die sypaadjie naby die Louvre, besef ek, omtrent almal om my is "nie van hier nie!"

Hoe sal dit wees as ek in Pretoria tussen die huis en die kafee gestop word deur 4 - 7 mense wat my aanwysings vra in 'n taal wat ek nie verstaan nie. Elke dag. Die hele jaar lank. Mense wat nie help saamdra aan die laste en uitdagings van my leefplek nie. Wat net deurbeweeg. En vat wat hulle kan. Sonder om te gee. Die skielike glimlag op my gesig was vir sommige rondom my vreemd, maar ek ontdek in my 'n nuwe waardering vir die mense van hierdie dorp en hulle geduld met die miljoene "vattende verbygangers". En die frustrasie.

En ek blaai in my woordeboekie en soek (en oefen) 'n nuwe frase: "Excusez-moi, je suis tellement privilégiée pour visiter votre ville. Pouvez-vous m'aider? (Jammer om te pla. Ek is so bevoorreg om jou stad te besoek. Kan ek hulp vra?)

My gedagtes

Die ondervinding sit my aan die dink. Leef ek dalk soos 'n "vattende verbyganger" in hierdie lewe? Is ek 'n toeris wat net vat wat ek kan en soveel as moontlik wil beleef vir so min as moontlik moeite. 'n Onbetrokke omstander wat weer weggaan en nooit weer terugkom nie?

Of leef ek as iemand wat lank genoeg bly om te gee wat ek kan, 'n verskil te maak en 'n erflating te los. Waag ek om in die ongemaklike intriges en uitdagings van die mense van hierdie plek betrokke te raak? Is ek bereid om vuil te word en moeite en frustrasie te beleef, omdat ek omgee vir ander en hierdie plek? 

Gee ek om? Reik ek uit? Staan ek stil? Gee ek weg wat "myne" (en eintlik aan my geleen is deur die Vader) is? Is ek bereid om pyn te verduur vir die mense in my lewe en my plek? Of, wil ek soveel as moontlik plesier vat. En aanbeweeg?

Jesus roep ons om nie toeriste in hierdie lewe te wees nie, maar inwoners. Wel vreemdelinge en bywoners, wat nie "van hier" is nie, maar bewoners. Wat saam worstel en betrokke raak. Nie net vat en seermaak nie. Die sprong van toeris, na terroris, is weliswaar nie so groot nie. Ons is geroep om Jesus te volg, en gestuur om Sy liefde uit te Leef. En sy erfporsie uit te deel en agter te laat.

Die Skrifgedeelte

Fillipense 2:1-11

 Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing — 2 maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3 Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4 Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6 Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7 maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8 het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. 9 Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11 en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.

Die Vraag

Wat is jou nalatenskap in hierdie wêreld?

Watter beleggings gaan jy vandag maak in die mense in jou lewe?

In watter moeilike/frustrerende/moedelose situasie kan jy vandag 'n klein verskil maak?


Views: 121

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van PvR Gemeenskapskerk om kommentaar te lewer!

Join PvR Gemeenskapskerk

Nuusflitse

Indien jy graag op hoogte wil bly van wat in ons geloofs-familie gebeur, kan jy gerus vir ons nuusbriewe inskryf.





© 2017   Created by PVR Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service